Die 2022-wenners van NWK se Beginnerboerprojek het welkome pryse in die vorm van saad en kunsmis gekry wat hulle sommer ‘n voorsprong in die nuwe plantseisoen sal gee. Die toekenningsgeleentheid is op 29 September by Dudfield se klubhuis gehou.
Bayer het 200 sakke saad van verskillende kultivars geborg; Pannar 150 sakke en Omnia 20 sakkies kunsmis. Die waarde van die pryse beloop sowat R1,72 mijoen.
En die wenners is…
Dalton Viljoen van die Koster-omgewing het met 8,67 t/ha die hoogste mielie-opbrengs behaal, asook die hoogste netto marge van R23 998/ha. Michael-John Mathews van die Sannieshof-omgewing was tweede. Hoewel sy 6,22 t/ha minder was as dié van ander deelnemers aan die projek, het hy met die tweede hoogste netto marge van R18 737/ha gespog.
Dalton het ook met die louere in die sonneblomproewe weggestap. Hoewel sy 2,51 t/ha minder was as dié van Biela Retief (ook van Koster) se 3,33 t/ha, was sy produksiekoste egter heelwat laer danksy verminderde bewerkings en kan hy met ‘n netto marge van R20 395/ha spog teenoor Biela se R18 918/ha.
Edrich Badenhorst van die Delareyville-omgewing het 2,18 t/ha sojaboon gestroop en het met ‘n netto marge van R16 488/ha hierdie afdeling gewen. In die tweede plek was Chris le Roux, ook van Delareyville, met 2,11 t/ha en ‘n netto marge van R11 524/ha.
Janco de Bruyn van die Lichtenburg-omgewing het die beste administratiewe bestuur deur die jaar getoon.
Anche Suurd, landbou-ekonoom by NWK en ‘n studieleier by die projek, het gesê dat deelnemers se sonneblomopbrengste die laagste was in drie jaar weens Sclerotinia. “Deelnemers se produksiekoste het gestyg weens ‘n hoër brandstofprys. Hulle gemiddelde liters per hektaar was ook meer. Die reënval was meestal bogemiddeld, met vyf deelnemers wat meer as 1 000 mm reën ontvang het. Dit het ongelukkig veroorsaak dat daar meer tweedegraadse mielies gelewer is,” het sy bygevoeg.
‘n Toenemende aantal deelnemers het aangedui dat hulle hierdie plantseisoen sojaboon gaan plant. “Dit is grootliks danksy die laer insetkoste en hoër Safex-pryse,” het Anche verduidelik.
Louis Wessels van Mareetsane het hierdie jaar die projek voltooi en sewe nuwe lede sal volgende jaar hierby inval.
Doel van die Beginnerboerprojek
Die Beginnerboerprojek is in 2014 van stapel gestuur. Dit strek oor ses jaar en het ten doel om nuwe toetreders tot landbou by te staan. Die einddoel is om ‘n produsent te vestig met genoeg sekuriteit om na ses jaar kommersieel te kan boer.
Dis tipies jong produsente wat sonder NWK se hulp nie sou kon boer nie en heel waarskynlik in die buiteland sou gaan werk. NWK ontwikkel dus sy toekomstige kliënte en vestig produsente met ‘n passie vir die bedryf. Die fokus is nie streng op resultate nie, maar sien eerder toe dat die bepaalde produsent alles in sy vermoë doen om NWK en sy eie risiko te beperk.
HOE DIE PROJEK WERK
NWK finansier al die direkte insetkoste wat nodig is om ‘n deelnemer se oes te realiseer. ‘n Derde van die opbrengspotensiaal word begroot vir bemarking aan die begin van ‘n seisoen.
Die span van NWK loop ‘n pad saam met die beginnerboere. Hulpbronne word voor ‘n seisoen deeglik ondersoek en geëvalueer om NWK se risiko te beperk. Landboubestuursdienste besoek die deelnemers weekliks en gee raad oor wat gedoen moet word. Boeredae word jaarliks aangebied wat dien as opleidingsessies. Kundiges van Finansiering en Graan lewer ook insette aan die deelnemers.