
Noordwes Landbou Jeugskou en die Lichtenburg skouterrein het hul vere reg geskud vir die 21ste Nasionale Landbou Jeugskou kampioenskappe wat van 2 tot 5 Oktober aangebied is. NWK was een van die borge van dié geleentheid.
Leerlinge en besoekers van agt provinsies het die jeugskou bygewoon. Die Wes-Kaap het nie deelgeneem nie.
Die Noordwes-span het bestaan uit 55 skoolkinders van Hoër- en Laerskool Sannieshof, Stella Gekombineerde Skool en Hoërskool Wesvalia, asook tien afrigters. Om te kwalifiseer, moes die skoumanne aan twee provinsiale skoue deelneem en die hoogste gemiddeld onder die beste drie eindig. Noordwes het ook as gasheer van die geleentheid opgetree, en het vanjaar met die louere weggestap.
Meer oor die kompetisie
Die kompetisie het bestaan uit die volgende vier komponente: ‘n Toets oor die produksiehandleiding, die was van die skoudier, voorbereiding van die skoudier en skouman waar meegeding is om die dier die beste te vertoon.
Die ouderdomsgroepe waarin deelgeneem is was:
- Junior-junior: 7 tot 10 jaar.
- Junior: 11 tot 14 jaar.
- Senior: 15 tot 18 jaar.
Afdelings het ingesluit: Vleis- en suiwelbees, perde, wol- en vleisskaap, vesel-, vleis en melkbokke. Die statiese afdelings was pluimvee, konyne, sier- en wedvlugduiwe asook kulinêre kunste en suiwelbereiding.
SUIWELBEREIDING
Met die kampioenskap het die suiwelbereiding-skoumanne ‘n verskeidenheid kase en joghurt gemaak. Die ouderdom van die skouman het die moeilikheidsgraad van die kaas- of joghurtresep bepaal. Junior skoumanne het drinkjoghurt, gegeurde joghurt en roomkaas gemaak, terwyl die senior skoumanne Haloumi, Ricotta en mascarpone moes opdis.
KULINÊRE KUNSTE
Een van die groot gunsteling afdelings die jaar was die kulinêre kunste waar die skoumanne kolwyntjies moes versier.
- Senior skoumanne moes ‘n driedimensionele ruiker voorsit met twaalf tot 15 kolwyntjies. Slegs botterversiersel mag gebruik word.
- Die junior kulinêre kuns se deelnemers moes ‘n plat ruiker met nege kolwyntjies gemaak het en kon botterversiersel en fondant gebruik.
- Die junior-juniors moes botterversiersel, fondant en lekkertjies gebruik om blommetjies te maak.

Afslaers word jonk voorberei
‘n Splinternuwe afdeling wat vanaf 2022 deel geword het van die jeugskou was die afslaersafdeling. Slegs drie senior skoumanne van elke provinsie mag deelgeneem het aan dié afdeling wat deur Veeplaas en Toyota ondersteun is. Die jong afslaers het eerstehandse ondervinding opgedoen deur op 4 Oktober diere by ‘n Swarico-veiling op te veil.
PROTOKOL GEVOLG
Die biosekuriteit protokol vir die voorsorg en hantering van gehoefde skoudiere, met betrekking tot bek-en-klouseer, vanaf verskillende provinsies is baie streng nagekom. Staatsveeartse en -tegnici het die diere met aankoms gemonitor waarna die diere na die skoukrale geneem is. Voertuie en besoekers moes deur die verskillende biosekuriteitsones gaan.
Die organiseerders was dankbaar dat die verbod op die vervoer van beeste gelig is, maar het voortdurend die potensiële gevaar van die siekte gemonitor. Kundiges op die gebied is genader met die opstel van die protokol.
Hier is ‘n paar uitstaan-oomblikke van die jeugskou:




