
“Voer langer en voer stadiger.” Dit is die eenvoudige raad van Botter Marais van Tosca nadat hy Donderdag 13 Oktober as die wenner van die enkel en groep karkasse ná afloop van die NWK Retail Slaglamskou, se aan hak beoordeling aangewys is.
Botter Marais kon nie Donderdag self die prysuitdelingsgeleentheid meemaak nie, maar het by navraag verduidelik dat, as jy lammers te vinnig ter voorbereiding van ‘n skou voer, jy “net sekere dinge vet maak”.
“Die meeste deelnemers begin vet maak 60 tot 70 dae vóór ‘n skou. Ek begin reeds 90 dae voor ‘n skou,” het hy gesê en bygevoeg dat hy mielies as doepa inspan.
Dit was dan ook die eerste keer dat hy aan NWK Retail se Slaglamskou deelgeneem het. “Dié skou is baie gesog en die wen beteken vir my baie.” Hy het Swartkop Dorpers ingeskryf.
2022 se kompetisie
Daar is hierdie jaar 112 karkasse ingeskryf en die skou se kompetisiepunt is 84,46. Die vyf toppresteerders het met pryse ter waarde van R80 000 weggestap.
Dit was die derde NWK Retail Slaglamskou en daar is hierdie jaar selfs agt boerbokke ingeskryf. Die op hoef-beoordeling is Dinsdag by Ottosdal se skougronde deur Paul Maree behartig.

“Hier is werklik goeie kwaliteit lammers ingeskryf. Die skou word net elke jaar beter en beter,” het Paul gesê. “Die deelnemers weet waarna beoordelaars én die mark soek. Dit maak dit eintlik moeiliker om te beoordeel. Hier en daar was die lammers te swaar vir die kompetisie se doeleindes. Tog is hulle nie oorvet nie. Hierdie skou kan net vorentoe gaan.”
Toppresteerders
Wikus Bouwer van Delareyville het die beste enkel lam op hoef gehad, terwyl Marius Freeman die tweede plek beklee en Willem Vosloo van Broedersput die derde plek ingepalm het.


Willem het met die groep op hoef beoordeling koning gekraai. “Dit is ‘n goeie gevoel. Dit voel of jy iets bereik het. Jy leer baie deur jou diere met dié van ander te vergelyk,” het hy gesê. Botter was die reserwekampioen, terwyl Boytjie die derde plek ingepalm het.

Dirk Zanberg en Albertus du Toit van South African Meat Industry (SAMIC) het die karkasse by Schweizer Reneke Abattoir beoordeel. Botter se groep het ‘n punt van 92,94 behaal, terwyl sy top-enkelkarkas 95,99 toegeken is. Hy het ook die enkel reserwekampioen opgelewer, met ‘n punt van 95,24.
Wikus en Boytjie deel ‘n derde plek met ‘n punt van 94,28, terwyl Willem die vierde beste enkelkarkas met ‘n punt van 93.74 gelewer het. Marius het die vyfde plek behaal met ‘n punt van 93,32.
Die top 23 enkelkarkasse het almal ‘n punt hoër as 90 behaal.
Uitslae:
Enkel op hoef
- Wikus Bouwer
- Marius Freeman
- Willem Vosloo
- Jan Bester
- Cobus Erasmus
Groep op hoef
- Willem Vosloo
- Botter Marais
- Boytjie Crispin
Enkel aan haak
- Botter Marais
- Botter Marais
- Wikus Bouwer en Boytjie Crispin
- Willem Vosloo
- Marius Freeman
Groep aan haak
- Botter Marais
- Willem Vosloo
- Marius Freeman
- Cobus Erasmus
- Wikus Bouwer