Seisoene met hoë reënvalsyfers skep normaalweg ideale toestande vir swamsiektes soos Sclerotinia. Die afgelope seisoen is die voorkoms van hierdie siekte in baie dele van die sonneblomstreek waargeneem.
Suid-Afrika se belangrikste sonneblomstreke word nie tradisioneel gekenmerk deur seisoene met buitengewone hoë reënvalsyfers nie. Groot dele van die sonneblomstreek het egter die afgelope seisoen tussen 800 mm en 1 000 mm reën en selfs meer gehad, en meer Sclerotinia-gevalle as gewoonlik het voorgekom.
Is Sclerotinia ’n permanente probleem vir sonneblomaanplantings of is dit seisoenaal? Om hierdie vraag te beantwoord, moet na die voorkoms en verspreiding van ’n spesifieke siekte gekyk word. Die voorkoms van plantsiektes is afhanklik van die omgewingstoestande tydens die belangrikste groeistadium van die betrokke gewas. ’n Siekte kan slegs voorkom wanneer daar oorvleueling is van al die noodsaaklike faktore, naamlik:
- ’n Vatbare gasheer.
- Die betrokke patogeen.
- Geskikte omgewingstoestande vir die siekte om te ontwikkel.
Die siektedriehoek (Figuur 1) illustreer hierdie beginsel die beste. Soos hierdie drie faktore mettertyd ontwikkel, bepaal dit wanneer die infeksie plaasvind, hoe vinnig die siekte vestig en wat die uiteindelike skade aan die betrokke oes sal wees.

Sclerotinia op sonneblom
In die geval van Sclerotinia op sonneblom is die beste tyd van infeksie tydens die blomstadium. Normaalweg word sonneblom tydens die blomstadium aan die voorkant van die kop met Sclerotinia geïnfekteer. Daar is egter ’n kans vir sekondêre Sclerotinia-infeksie vanaf die agterkant van die kop deur letsels wat onder andere deur wurms, insekte en selfs hael veroorsaak word. Temperature van ongeveer 15˚C tot 25˚C en nat grondtoestande van ongeveer tien tot 14 dae bevorder die voorkoms van Sclerotinia.
VELDPROEWE
Sonneblom het ’n relatiewe kort vensterperiode vir Sclerotinia-infeksie, aangesien die hooftyd van infeksie tydens die blomstadium is. Alhoewel die voorkoms van Sclerotinia in sonneblomlande nooit akkuraat voorspel kan word nie, kan daar deur middel van veldproewe bepaal word wat die ware infeksie per seisoen was.
Sclerotinia se voorkoms is die afgelope seisoen noukeurig waargeneem in kultivarproewe. Die drie gebiede wat geëvalueer is, se plantdatums het gewissel van 10 tot 25 Januarie 2022. Dit sluit onder andere in Senekal, Excelsior en Kroonstad.
Die doel van die evaluasies was om die omvang van Sclerotinia gedurende die 2021/2022-seisoen te bepaal in gebiede wat normaalweg hoë Sclerotinia-druk ervaar.
Sclerotina-waarnemings is per kultivar gedoen op ongeveer 110 dae ná plant om die verskille in verdraagsaamheid tussen kultivars te bepaal. Twee rye van 100 plante van elke kultivar in die proef is getel om ’n besmette koptelling te kry. Die infeksietellings wat bepaal is, het drasties tussen die verskillende gebiede verskil.
Uit die Sclerotinia-koptellings in Tabel 1 kan waargeneem word dat daar per gebied verskille tussen kultivars se infeksietellings was. Die gemiddelde infeksietelling per kultivar oor al drie gebiede is egter laer as verwag, ten spyte van die hoë reënval.
NAVORSING
Alhoewel daar geen kultivars op die mark is wat weerstandbiedend teen Sclerotinia is nie, is daar wel kultivars wat meer of minder verdraagsaam is teenoor die siekte.
Nuwe navorsing waar sonneblomkoppe met Sclerotinia geïnokuleer word en die verdraagsaamheid van kultivars deur middel van die letselgrootte aan die agterkant van die kop bepaal word, kan misleidend wees vir produsente. Daar moet in ag geneem word dat die letselgrootte wat gemeet word nie ’n doeltreffende norm is om ’n kultivar se opbrengsverlies te bepaal nie. Hierdie manier van inokulasie omseil ook die natuurlike verdraagsaamheid van ’n kultivar teen Sclerotinia.
Verminder die risiko só
Aangesien daar geen enkeloplossing vir Sclerotinia is nie, is daar sekere bestuurspraktyke wat produsente kan volg om hul risiko teen die siekte te versprei. Die gedagte hieragter is om die siektedriehoek soveel as moontlik te versteur om sodoende die kanse vir infeksie minder te maak.
PLANTDATUM
Van al die somer-akkerbougewasse in Suid-Afrika is sonneblom die gewas wat die langste plantvenster het. Aangesien sonneblom ’n koelweergewas is en nie baie sensitief is vir lae grondtemperature nie, soos byvoorbeeld mielies, kan aanplantings vanaf September tot Januarie geskied.
Om die risiko van Sclerotinia so doeltreffend as moontlik te versprei, word aanbeveel dat sonneblom se plantdatums so ver as moontlik versprei word. Die rede hiervoor is om seker te maak dat die sonneblomaanplantings nie alles op een slag blom nie, aangesien dit normaalweg die hooftyd van infeksie vir Sclerotinia is.
KULTIVARKEUSE
- Produsente kan hul risiko die komende seisoen verminder deur te fokus op pakketaanplantings van sonneblomkultivars wat bekend is vir hul siekteweerstand. Die risiko kan aansienlik versprei word deur ’n pakket van ten minste drie verskillende siekteweerstandbiedende kultivars aan te plant.
- In gebiede wat met Sclerotinia sukkel, kan ’n goeie opsie ook wees om vir die komende seisoen op enkelkruis-sonneblombasters te fokus. Aangesien sonneblom die sensitiefste is vir Sclerotinia-infeksie tydens die blomstadium, is dit moontlik dat enkelkruis-sonneblombasters ’n produsent se risiko kan versprei as gevolg van hul verkorte blomsiklus.
- Drieweg-sonneblombasters blom gewoonlik vir ’n langer tydperk as enkelkruis-sonneblombasters, wat moontlik tot ’n groter Sclerotinia-risiko kan lei.