Pienk vir ‘n stewige poppie
Care for Wild is die grootste weesrenosterreservaat ter wêreld. Renosters word by die Care for Wild Rhino Sanctuary in die Barberton Natuurreservaat-kompleks gerehabiliteer en later in die natuur vrygelaat.
In Desember 2021 is “klein” Daisy, ’n kalfie wat ongeveer 12 uur oud was en minder as 60 kg geweeg het, deur Care for Wild gered. Sy kon nie staan nie en haar naelstring was nog steeds aan haar. Op 13 Oktober het Daisy egter ’n groot mylpaal in haar rehabilitasiereis bereik – sy het die 200 kg-mylpaal verbygesteek.
Om dié mylpaal te vier, het Daisy ’n reuse pienk jogabal gekry om mee te speel – en wie beter om mee saam te speel as haar goeie vriend, Modjadji.
’n Beter lewe wink
Die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing is bekend vir hul reddingspogings van uile en ander diere. In September en Oktober was Brendan en Danelle Murray weer gereeld op die pad om hul reddingswerk voort te sit.
Kyk vir my
By VulPro, die aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, is Oktober die tyd vir oogondersoeke. Veeartsenykundige oogspesialiste van Johannesburg het van naderby na die aasvoëls kom kyk. Ongelukkig moes een van die Kaapse aasvoëlkuikens wat blind geword het, uitgesit word. Die ander se sig is in ’n uitstekende kondisie.
’n Witrugaasvoël wat in 2021 met ’n plastiekpyp om sy snawel in die Olifantsrivier Privaat Wildreservaat gevind is, is gerehabiliteer en vrygelaat. Danksy ’n nasporingstelsel is sy bewegings van Junie 2021 tot einde Augustus 2022 gemonitor. Klik op die QR-kode om sy roete te sien.