Die “eie ek” is die grootste bedreiging van rentmeesterskap binne familieondernemings. Só het André Diederichs, ‘n bekende sakekenner wat spesialiseer in familieondernemings en al vele boeke oor hierdie onderwerp die lig laat sien het, produsente gewaarsku.
André het produsente toegespreek by Wolmaransstad Studiegroep se Groendag wat gister (12 April) aangebied is.
Tot 80% geregistreerde sakeondernemings in Suid-Afrika is familiebesighede, asook 96% boerderye. “Daar is 570 miljoen kommersiële boere ter wêreld, waarvan 500 miljoen familieondernemings het. Dit is dus familieboerderye wat die wêreld voed,” het André gesê.
Hy het al met meer as 400 familieondernemings gekonsulteer, waaronder die gesogte Boplaas vrugteplaas wat in 1743 begin is en nou al deur ‘n elfde generasie bestuur word.
Rentmeesterskap is die kernwaarde
André het beklemtoon dat ‘n nalatenskap nie net gaan oor wat jy vir jou kinders nalaat nie, maar eerder oor wat jy ín hulle laat. “Grond behoort nie aan ons nie, ons behoort aan die grond.” ‘n Goeie waardesisteem is die hoeksteen van ‘n stabiele familieonderneming.
Hy het produsente aangeraai om soos jasmyn te wees, wat op sy lekkerste ruik net nadat die son gesak het. “Jou integriteit kom juis na vore in die donker, in moeilike tye. Dan moet jy konsekwent en regverdig kan wees.
“‘n Les sal homself herhaal totdat jy dit geleer het en konflik binne ‘n familieonderneming sal nooit weggaan solank daar nie regverdigheid is nie.”
Diegene wat aan die stuur van familieondernemings is, moet dit wat voor hulle tyd opgebou is, bewaar vir diegene wat by hulle gaan oorneem. “Niks behoort aan jou nie.”
Die Van der Merwe-familie van Boplaas het juis aan André gesê dat hulle geleer is: “Die plaas behoort nie aan die huidige generasie nie. Dit word geleen by die kinders”.
“Daarom is ego die grootste bedreiging van rentmeesterskap. ‘n Familieonderneming kan nie uitgebuit word tot voordeel van slegs een generasie nie,” het André gesê.
Hy het voorts verduidelik dat ‘n familieonderneming met ‘n weegskaal vergelyk kan word en dat die sakeonderneming en familie ewe swaar moet weeg. “Moenie só op die sake-aspek fokus dat die familie uitmekaar spat nie, maar moet ook nie jou kinders tevrede wil stel ten koste van die onderneming nie,” is sy raad.
Kry die plan op papier
André waarsku dat familieondernemings ‘n grondwet en opvolgplan op skrif in plek moet hê. Die grondwet word deur die onderneming se visie onderskryf en moet sekere reëls vaslê. “‘n Soliede waardesisteem is die maatstaf vir die toekoms,” het hy herhaal.
Hy het produsente aangeraai om ‘n beleid vir elke aspek van die onderneming vas te stel, wat alles van kommunikasie tot vergoeding bepaal.
“Jy moet ook ‘n plan B in plek hê as dit by jou opvolger kom. Ek het al families gekonsulteer waarvan die pa oorlede is en slegs van plan was dat sy seun die leisels oorneem. Dié is egter net ‘n week later in ‘n ongeluk oorlede,” het hy gewaarsku.
Tog hoef ‘n familieonderneming nie te stop as die familielid aan die stuur van sake sou sterf nie. Volgens André het hy ‘n waardevolle les by Raymond Ackerman van die Pick ‘n Pay-kettingwinkels geleer: “‘n Besigheid is daar om welvaart vir ‘n familie te skep. Wie dit ook al bestuur, sal dit doen, ongeag of hy familie is of nie.”
“Die persoon wat die besigheid bestuur, moet wel beide gewillig én bevoeg wees,” het André bygevoeg en die produsente aangemoedig om familielede te bemagtig.
Die Afrika-wildehond is die beste analogie vir ‘n familieonderneming, volgens André. “Hulle gee om vir mekaar. Hulle is nomadiese diere en as een seerkry, sal hulle nie verder trek nie. Boonop skei die dragtige tewe ‘n hormoon af as hulle honger raak, wat die mannetjies laat besef dat daar gejag moet word. Hulle steun sterk op spanwerk.”
Hy raai ook families aan om “sagte kwessies” so gou moontlik uit te sorteer. “Sagte kwessies word harde kwessies.”


