Die sukkelende Noordwes-regering het nie nóg ‘n strategiese dokument nodig om homself te probeer regruk nie, maar moet dringend gebrekkige dienslewering aanspreek. Dis die mening van die politieke ontleder, prof. Theo Venter, wat Woensdag NWK Retail se boeredag by Hakboslaagte toegespreek het.
“Plaaslike regering (slegs een van die 22 munisipaliteite in Noordwes is solvent) moet so gou moontlik hul sake in orde kry; dienslewering (veral water en sanitasie) moet verbeter; die herstel van kritiese paaie moet geprioritiseer word en misdaad (veediefstal en onwettige mynbou) moet getakel word,” het Theo gesê.
Hy was deel van ‘n komitee wat Noordwes se premier, Bushy Maape, oor ‘n strategiese ontwikkelingsplan geadviseer het en hy het bogenoemde elemente as die belangrikstes uitgesonder.
Dit gaan iemand met ‘n politieke wil verg om ‘n ommekeer in die provinsie te bewerkstellig, meen Theo.
Premiers se nalatenskap
Die administrasies van vorige premiers – Maureen Modiselle, Thandi Modise en Supra Mahumapelo – het Noordwes groot skade berokken.
Bushy is bloot ‘n lid van die ANC terwyl die voorsitter van die ANC in Noordwes, Nono Maloyi ‘n LUR is. “Nono dra dus eintlik die broek terwyl Bushy moet uitvoer,” het Theo die politiek in die provinsie verduidelik.
Die stand van plaaslike regering is baie swak, hoofsaaklik weens faksies binne die ANC en swak finansiële bestuur. “Dit inhibeer ‘n klimaat vir investering.”
In Noordwes is kommunikasie tussen die onderskeie staatsdepartemente swak. “Landbou weet nie wat doen natuurbewaring nie. Natuurbewaring weet nie wat doen mynbou nie en dié weet nie wat doen waterwese nie. Jy kan gevolglik nie ontwikkelingsplanne suksesvol implementeer nie.”
Mynbou, landbou en toerisme is die belangrikste sektore in Noordwes en dit is waarop die provinsiale regering hul moet toespits. “Al hierdie sektore noodsaak goeie paaie, dienste en munisipaliteite om behoorlik te kan funksioneer,” het Theo gesê.
Suid-Afrika nie “uniek” nie
Theo het daarop gewys dat energievoorsiening tans ‘n kopseer regoor die wêreld is, gevolg deur hoë lewenskoste, inflasie, voedselvoorsiening en kuberkrakers. Tog verskil die intensiteit van land tot land. Suid-Afrikaners kwel hulle eerstens oor staatsverval en wonder vir hoe lank die regering nog gaan funksioneer. Hoewel Theo meen staatsverval is ‘n “oordrywing”, erken hy dat dit reeds in sekere dele van die land gebeur.
Staat- en individuele skuld is ook ‘n groot kopseer. “Die Reserwebank gaan waarskynlik die rentekoers nóg opstoot voor dit sal stabiliseer.” Theo meen ook ons is reeds in ‘n resessie.
Dienslewering wat in duie stort hou ook Suid-Afrikaners snags wakker, asook stygende lewenskostes en die hoë werkloosheidsyfer.
Landbou deur verskeie faktore beïnvloed
Suid-Afrika se energiekrisis is baie nou gekoppel aan ‘n waterprobleem, deurdat water pompe verg om gewasse, mense en diere te kan bereik en gebruik word om kragstasies mee af te koel. Dit kan voedselproduksie en -sekuriteit in gedrang bring wat uiteindelik kan lei tot maatskaplike onrus.
Hierdie kwessies staan boonop nie in isolasie nie en word deur eksterne faktore soos omgewingsveranderlikes, ‘n groeiende bevolking en vervalle infrastruktuur vererger.
Theo is egter positief oor die feit dat ‘n krisis tot deurbrake lei en hy glo batterye gaan in die nabye toekoms goedkoper word en ‘n langer lewensduur hê, terwyl waterstof ook toenemend in kragvoorsiening ingespan sal word.
“Ons gaan nie oplossings kry as gevolg van die politiek nie, maar ten spyte daarvan. Daar is ‘n proses van privatisering in die land wat ongelooflik is. Kyk maar na die spoorlyne…”
Wat hou volgende jaar se verkiesing in?
Theo het Suid-Afrikaners se gevoel oor die politiek met ‘n grafiek geïllustreer wat getoon het dat dit besonder laag was ten tye van Chris Hani se moord in 1993.
Suid-Afrikaners was positief met Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthle aan bewind, terwyl dit opmerklik gesak het onder Jacob Zuma se presidentskap.
Hoewel die vreugdevure aanvanklik hoog gebrand het onder president Cyril Ramaphosa se heerskappy, is Suid-Afrikaners nie meer so positief oor die politieke landskap nie. “Die ANC gaan volgende jaar in die moeilikheid wees, sonder twyfel. Die party staan ‘n goeie kans om Gauteng en KwaZulu-Natal (KZN) as provinsiale regerings te verloor,” het Theo gemaan.
“Dit gaan beteken dat die ANC in die B span provinsies sal regeer. Hulle gaan nie in die Wes-Kaap, Gauteng of KZN regeer nie en ook die hoofstede beheer waarin hulle regeer nie. Dis ‘n bad gevoel vir ‘n regering om in ‘n stad te werk waar die stadsraad vyandig is teenoor jou beleid.”
Cyril se termyn as president van Suid-Afrika eindig in Mei 2024. Hy is egter vir ‘n tweede termyn tot president van die ANC verkies – ‘n termyn wat sal strek tot Desember 2026. Die vraag is of Cyril dieselfde paadjie gaan loop as Thabo en Jacob wat van hul pligte onthef is nog voor hul termyne verstryk het. “Ondersoekende joernaliste gaan ook nie vir Cyril uitlos oor die Phala Phala-skandaal nie.”
Die ANC gaan gebuk onder binnegevegte en die opposisiegroepering beweeg al nader aan mekaar.
Theo meen dat die Vryheidsfront Plus (VF+) sy steun kan opstoot as bruin kiesers in veral die Wes-Kaap werf. “Hulle voel net so benadeel en soek ‘n tuiste.” Ook Action SA kan sy huidige steun van 2,36% verdubbel as hulle steun in die platteland werf.
Theo het wenke met produsente gedeel oor hoe om in ‘n sogenaamde Vuca-omgewing te oorleef. Dié akroniem staan vir volatile, uncertainty, complexity en ambiguity (dubbelsinnigheid).
- Innoveer en skep jou toekoms. “In ‘n Vuca-omgewing kan jy nie terugval op ou planne nie, want die omgewing het verander.”
- Voer jou planne uit met spoed en buigsaamheid. “Vergeet van dogmas en ideologieë. Dis verouderd en uitgedien.”
- Identifiseer die ankers in jou lewe. “Vra jouself af: ‘Wie is jy? Wat werk vir jou? Hoe belangrik is jou godsdiens en familie’?”
- Soek vir eenvoud om kompleksiteit te hanteer. “Goed wat hou, is goed wat eenvoudig is en werk.”
- Samewerking – alleen is jy magteloos. “Dis belangrik dat organisasies saamwerk en gesamentlike druk uitoefen om ‘n reaksie te kry.”
- Hou aan met leer, hou tred met nuwe ontwikkelinge.
- Ontwikkel ‘n oorlewingsdrang – belê in jou veerkragtigheid. “In ‘n Vuca-wêreld word jy soms grond toe gegooi. Die vermoë om op te staan is baie belangrik. Die meeste van julle het dit. As jy met die natuur en weerelemente werk, is dit hoe jou kop aanmekaar gesit is.”
Theo het afgesluit deur te sê dat die politiek in Suid-Afrika ‘n groot aanspraak maak op ons ingesteldheid. “Hoe is jou ingesteldheid om hier te oorleef?”
- Die boeredag is ook toegespreek deur dr Johan Cloete van MSD oor hoe om ‘n koei voor te berei vir kalwing en bemarking vir die voerkraal, terwyl Wiaan Faber van Meadow doeltreffende voerkraalproduksie bespreek het.