NWK se Meganisasie-afdeling het in slegs vier jaar uit die stof herrys deurdat dit van ‘n verliesmakende bedryf omgedraai het na ‘n volhoubare en winsgewende bedryf. Dit is vandag boonop een van die grootste New Holland-handelaars in die land.
NWK Meganisasie is gevolglik verlede week by New Holland se handelaarskonferensie vereer as die handelaar met die beste omkeerbestuurstrategie in die New Holland-stal. Die konferensie is op 23 en 24 Maart in Ballito, KwaZulu-Natal gehou.
Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy het hier ook ʼn toekenning ontvang vir die beste toetreder tot die kategorie van konstruksietoerusting.
Omkeerstrategie werp vrugte af
NWK het in 2018/2019 ʼn reuse-omkeerstrategie geïmplementeer wat grootliks ʼn verandering in bestuur en herorganisering binne dié afdeling behels het. ʼn Nuwe sakeplan is ook ontwikkel en geïmplementeer.
“Ons het onder andere by ander New Holland-handelaars gaan kers opsteek oor hoe ons dinge beter kon doen,” het Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, gesê.
NWK Meganisasie het, ten spyte van die Covid-19-pandemie en gevolglike inperking, uitsonderlike groei getoon.
Volgens Johan Jansen van Rensburg, operasionele bestuurder van NWK Meganisasie, is dit omdat dié afdeling voorraad beskikbaar gehad het in ʼn tyd wat die wêreld se voorsieningsketting grootliks tot stilstand gedwing is.
“Ons het wêreldmarkte en -omstandighede korrek geantisipeer en die nodige aankope gedoen,” het hy verduidelik.
Derdens was produsente gretig om kapitaalvervangings te doen omdat hulle groot oeste danksy goeie reën behaal het.
“Ons kan ook nie New Holland se ondersteuning in ons sukses ontken nie,” het Theo bygevoeg. “Hulle het ons baie ondersteun met spesiale aanbiedinge en finansieringsopsies wat ons aan klante kon bied.”
NWK Meganisasie verkoop die afgelope twee jaar ook konstruksietoerusting soos laaigrawe en grondverskuiwers van New Holland.
“New Holland het hierdie geleentheid in die mark raakgesien en NWK Meganisasie het besef dat dit ʼn gulde geleentheid sou bied om te diversifiseer,” het Johan verduidelik.
NWK Meganisasie bedien nie net klante in die mynbou- en konstruksiebedrywe nie, maar produsente maak ook meer van hierdie masjinerie gebruik omdat daar makliker koppelings hierop gedoen kan word en hulle byvoorbeeld vinnig bale in store kan pak en voer by voerkrale kan skuif.
“Hierdie toekennings is die resultaat van ʼn spanpoging – van diegene op voetsoolvlak tot topbestuur en dit is wonderlik om die erkenning hiervoor te ontvang. Dit motiveer ons om voort te bou op hierdie sukses,” het Theo en Johan afgesluit.