Die meeste insekte val nie gesonde plante aan nie, maar voed meestal net op plante wat siek is, voedingstekorte ervaar, besig is om te vrek of reeds dood is. Brix-vlakke in plante is ’n aanduider van die plant se gesondheid en die voldoende opname van voedingstowwe. ’n Plant wat deur insekte aangeval word, behoort daarom die gevaarligte te laat flikker dat dit stremming ervaar.
“Brix” (simbool °Bx) is ’n woord wat toenemend in die landboubedryf gebruik word en staan vir Balling Relative Intensity Index, wat die suikerinhoud van ’n waterige oplossing is. As jou plante dus lae Brix-vlakke het, beteken dit dat hulle nie genoeg voedingstowwe vanaf die wortels kry nie. In hierdie artikel word die belangrikheid van Brix-vlakke in plante en die prosesse wat moet plaasvind om suikers in plante te vorm, bespreek.
Belangrikheid van sukrose
Volgens Willem Jonker, ’n spesialis-landboukundige van Omnia, is die hoofproduk van fotosintese sukrose, met fruktose en glukose wat die intermediêre en kortlewe-voorgangers van sukrose is. Gedurende die dag word sukrose deur plante as ’n energiebron gebruik en snags word gestoorde sukrose as stysel gebruik om te respireer om die plant se koolstofbalans te herstel.
Plante benodig koolstof vir groei en onderhoud. Dis in verskeie plantkomponente ingebou. Sukrose is ’n belangrike suiker in die plant, aangesien dit ’n rol speel in die Krebs-siklus. Noodsaaklike voedingstowwe wat deur die wortels opgeneem word, word in die proses na aminosure, proteïene en ensieme omgeskakel.
Brix-vlakke en plantgesondheid
Plante met hoër Brix-vlakke is beter in staat om siektes en plae af te weer as dié met laer Brix-vlakke (sien Figuur 1). Plante is sterker en meer rypbestand wanneer die Brix-vlakke hoog is. Die Brix-waardes kan dus belangrike inligting oor die plant se weerstand teen siektes en moontlike plaagbesmetting verskaf.

Brix-lesings is ’n goeie aanduiding van ’n plant se vraag na voedingstowwe tydens blom, want dit is baie bestendig deur alle plantgroeifases (blom, vrug of vegetatief). ’n Uiters gesonde en goed-gevoede plant sal ’n Brix-vlak van 18 of hoër hê. Vrugte en groente val dikwels tussen 12% en 18% op die 0% tot 32% Brix-skaal. ’n Brix-vlak van 4 of 5 kan gebreke soos ’n boortekort in die plant aandui.
Brix-waardes wat in blare en stingels waargeneem word, is dikwels laer as dié wat in plantsap voorkom. ’n Voldoende Brix-lesing in die plantsap moet verkieslik ooreenstem met die blare en stingels se Brix-vlakke. Bonormale Brix-vlakke in blare en stingels, maar ondernormaal in sap, dui aan dat die stikstof- of kalsium/magnesium-voeding moontlik onder stremming is. Indien die plant aanvanklik goed gevoed is tydens die vegetatiewe stadium, sal die Brix-vlakke waarskynlik steeds hoog wees tydens blom.
Om te voorkom dat die Brix-lesings té laag raak tydens blom, moet die voedingstofverhoudings tydens die groeiseisoen noukeurig dopgehou word. Plante wat strestoestande ervaar, pas soms aan deur meer koolhidrate in die plantsap eerder as in die blare of stingels te stoor, wat andersins fotosintese sou beperk.
Ongesonde plante skei ’n reukmiddel tydens strestoestande af. Plante fermenteer wanneer hulle onder stres verkeer en maak hulself dus aanloklik vir insekte. Siek plante skei die reukmiddel etanol af, maar sal ook ander soorte alkohol bykomend tot etanol vrystel. Nie alle alkohol wat vrygestel word, is bewyse daarvan dat ’n plant ongesond is nie, maar fermentasie en die gevolglike produksie van etanol en koolstofdioksied is wel ’n kenmerk hiervan.
Selektiewe vreters
Insekte is gewoonlik selektiewe vreters, waarvan sprinkane ’n goeie voorbeeld is. Hulle sal verby verskeie gewasse vlieg om ’n sekere plant te vreet. Ander insekte is weer minder selektief. Hoë Brix-waardes in plante sal voorkom dat insekte daarop voed. Sommige insekte kan nie voed op plante met ’n Brix-waarde van agt of hoër nie.
Sommige insekte sal egter voortgaan om op plante met ’n Brix-waarde van 10 tot 12 te voed. Sprinkane val onder dié groep insekte, wat tot by ’n Brix-waarde van 12 op die plant kan voed en by hoër Brix-waardes belangstelling verloor. Sprinkane kan dus nog tussen gesonde plante gesien word, terwyl ander insekte, soos plantluise en ander Hemiptera-insekte, sal verdwyn sodra die plant se Brix-indeks bo 8 is.
Elke insek het ’n unieke telling waarby hulle sal ophou voed op die plant. Teen die tyd dat 8 op die Brix-skaal bereik word, het ’n aansienlike aantal insekte reeds die plant verlaat. Insekte val metafories van plante af wanneer die blare Brix-vlakke van 8 bereik.
Gedurende hierdie stadium van hul lewensiklusse het suigende of kouende insekte ’n skerm ontwikkel om hulle teen insekroofdiere te beskerm. Suigende of kouende insekte voed nie meer op blare met Brix-waardes van 10 nie. Insekte wat blare direk met ensieme verteer en sprinkane wat eers op blare voed nadat hulle wortels gevreet het, is twee voorbeelde van hierdie spesies.
Samevatting
Die meeste gewasse het Brix-lesings van 4 en 8 wanneer hulle oesgereed is. In hierdie stadium is graangewasse egter reeds volwasse en relatief min onderworpe aan insekskade. In groente- en vrugtegewasse is die bemarkbare oes egter baie sensitief vir insekaanvalle. Om hierdie rede moet gesorg word dat plante deurlopend behoorlike voeding ontvang en dat stresfaktore sover as moontlik beperk word.
Indien gewasse Brix-vlakke van meer as 8 bereik, kan ’n breë spektrum van insekskade in wese vermy word. Die Brix-vlakke kan dus ’n handige maatstaf wees om gewasgesondheid te bestuur.
Bronnelys
- Dykstra T, 2021. Insect resistance, insect susceptibility, insects. 26 July 2021. https://johnkempf.com/how-insects-sense-unhealthy-plants
- High brix = high resilience in crops, Zylemsa. https://www.zylemsa.co.za/
- How to raise brix levels in plants. https://covingtonnaturals.com
- Jonker W. Omnia. Die bestuur van Brix-vlakke in gewasse: Die mites en feite
- Nixon P, 2003. Insect response to plant health. https://hyg.ipm.illinois.edu/pastpest/200320d.html
- Syrovy L and Prasad R, 2010. Brix manipulation for reducing pest pressure: Literature Review