Dit is hoogtyd dat gewone landsburgers eerder fokus op probleme wat ons verhoed om ons gedeelde grondwetlike ambisies te bereik, as ons kulturele en onbenullige verskille. Oudhoofregter Mogoeng Mogoeng was Woensdag die hoofspreker by Agri NW se jaarkongres. Hy het kongresgangers toegespreek oor wat hulle te doen staan in ‘n veronderstelde mislukte staat.
Die kongres, waarvan NWK die hoofborg was, is by die maatskappy se opleidingsentrum in Lichtenburg aangebied.
Self ‘n slagoffer van misdaad
Mogoeng het vertel hoe daar oor die jare 100 van sy beeste gesteel is. Die sake het in die hande van ooglopend onbekwame beamptes van die polisie se veediefstaleenheid beland en een van hulle is self later weens beweerde betrokkenheid by veediefstal uit die polisiediens ontslaan.
Hy was ook die slagoffer van ‘n gewapende rooftog, waarna die polisie glo geweier het om na die toneel te kom en daarop aangedring het dat Mogoeng self na die polisiestasie kom om die saak aan te meld. “Ek was ook al die slagoffer van ‘n geweldsmisdaad ten aanskoue van my vrou en kinders by ons huis waar ek amper my lewe verloor het.”
Hy het boereverenigings genoop om saam te staan in die stryd teen misdaad en verwys na die doeltreffendheid daarvan ná die moord op Brendan Horner (21) in Maart 2021 naby Senekal toe daar talle dreigemente van opstande en geweld was.
“Stig ‘n fonds waarmee professionele misdaadvoorkomingstrategieë van stapel gestuur kan word, met die fokus op brandpunte en hoërisiko-areas.” Dit kan die vorm van ‘n geregistreerde privaat sekuriteitmaatskappy aanneem, wat bekwame mense in diens neem. “Aktiewe of afgetrede mense met uitsonderlike vaardighede in die versameling van intelligensie en ondersoekwerk, moet gewerf word om opleiding te verskaf,” het Mogoeng gesê.
Hy het aanbeveel dat ‘n afgetrede landdros ingespan word om ondersoekers en aanklaers te adviseer oor die vervolgbaarheid van sake, sodat leemtes vroeër geïdentifiseer en aangespreek kan word.
“Waar die staat weier om te vervolg, moet boere en sekuriteitsorganisasies die kapasiteit het om privaat te kan vervolg.”
Wees misdadigers ‘n stappie voor
Die oudregter het verwys na ‘n voorval in sy dae as private advokaat toe hy ‘n voertuigdief verdedig het. Hy het hom gevra hoe hy ‘n voertuig met ‘n immobiliseerder en alarm kon omseil, waarop die verdagte geantwoord het dat hy deur ‘n misdaadsindikaat na ‘n tegniese kollege gestuur is om dié vaardigheid te leer.
“Sindikate belê in hulle besighede en werf voormalige polisiebeamptes en selfs soldate. Dit sal jammer wees as ons misdadigers toelaat om ‘n hoër posisie as ons te beklee in terme van visie, beplanning en uitvoering.
“As ons hulle wil troef, moet ons finansiële en institusionele opofferings maak om ons doel te bereik.”
Mogoeng het ook verwys na die algehele verval van infrastruktuur soos kragvoorsiening, paaie en die feit dat produsente moet meeding met vleisinvoere vanuit Namibië en hoenderstorting vanuit die buiteland. “Ons moet egter nie vergeet nie, ons was al vantevore hier.”
Ons is weer by ‘n kruispad
Mogoeng het verwys na die jare voor 1994 en gesê dat ons weer voor soortgelyke uitdagings te staan kom.
“Wanneer misdaad toeslaan, slaggate net al groter word, bedrog en korrupsie voortwoed, inflasie die hoogte inskiet en die ekonomie na rommelstatus tuimel, maak jou loopbaan of ras nie saak nie – ons almal voel die pyn en onsekerheid.”
Hy het die voorwoord in die Grondwet aangehaal wat benadruk dat die regering op alle vlakke deur die wil van sy mense gedryf moet word. “Suid-Afrika behoort aan almal sonder uitsondering en niemand mag van ‘n gevoel van behoort ontneem word nie.”
Mogoeng, wat uitgesproke is oor sy Christenskap, het gesê dat dié voorwoord self sê dat, wanneer die maatreëls en stelsels in plek blyk te misluk, ons na God moet keer.
Hy het gesê dat daar ten minste 14 profesieë is “oor die wonderlike toekoms van hierdie land” en dat in een van hulle, die kritieke rol wat produsente in die ommeswaai van die ekonomie van hierdie land sal speel, uiteengesit is.
“Ons moet vergeet van die baie dinge wat ons oor die jare verdeel het en geloofwaardige leiers identifiseer wat ons van ‘n land van gevangenisskap na die land van melk en heuning kan lei.”
Práát oor die grondkwessie
Grondonteiening sonder vergoeding is ‘n emosionele en verdelende kwessie, aldus Mogoeng. “En ons moet almal die blaam dra dat ons toegelaat het dat dit so lank sloer. Vergeet van diegene wat oorlog verklaar en sê hulle is reg om te sterf en te moor vir die land. Ons het hulle aan beide kante van die spektrum.”
Mogoeng het kongresgangers gevra om eerder te fokus op diegene met goeie bedoelings wat geregtigheid wil laat geskied en bly gló, ongeag hoe moeilik dit mag lyk om ‘n oplossing te vind.
“Ons sál met gereelde en aanhoudende samesprekings die oplossings vind.”
Mogoeng het gesê dat, voor 1994, dit ondenkbaar was vir die kongres om só te vergader en deur hom toegespreek te word. “Danksy die vasberadenheid en veerkragtigheid van die mense van hierdie land, is vooruitgang egter gemaak.”
Hy het afgesluit deur te sê: “Vat hande, wees verenig en laat ons fokus op wat die meeste vir hierdie land saak maak en kom ons bid. Ons moet elke geleentheid aangryp om te bid vir Hom wat gister, vandag en altyd dieselfde is.”
- NWK het tydens die kongres R100 000 aan Agri NW oorhandig wat vir brand-hulp in die provinsie aangewend sal word. Sowat 1 miljoen ha is onlangs in veldbrande vernietig. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê dat hulle ‘n verdere R600 000 aan die provinsie beskikbaar sal stel.
