Die meeste mense is vertroud met die idioom “Once in a blue moon”. Dit word algemeen gebruik in die Engelse taal om te verwys na iets wat baie selde gebeur of gebeurtenisse wat hulself by uitsondering herhaal. Min van ons weet egter wat die oorsprong van hierdie bekende sêding is.
Ter verduideliking kan ons begin by die term “blou maan”. Dit hou verband met die verskyning van ’n volmaan, wat normaalweg net een keer per kalendermaand plaasvind. Die verwysing na ’n blou maan het egter spesifiek te doen met die verskyning van ’n tweede volmaan in dieselfde kalendermaand.
In Augustus 2023 het hierdie rare verskynsel plaasgevind toe ’n volmaan op 1 en 31 Augustus te sien was. Dis ’n rare verskynsel wat net een keer in elke 32,6 maande plaasvind. Vandaar die ontstaan van “once in a blue moon”.
Die verwysing na die tweede verskyning van die volmaan, oftewel ’n “blou” maan, in dieselfde kalendermaand hou egter geen water nie. Die tweede maan lyk net soos die res van die volmane en is geensins blou nie. Die fout het ingesluip deur die publikasie van ’n artikel in 1946, wat hierdie tweede maan as blou beskryf het. Hoewel die feite foutief was, is die term vinnig gevestig en word dit vandag nog so gebruik.
’n Ander term wat ook gereeld gebruik word, is “supermaan”. Dit het sy ontstaan in 1979 in die media gehad na aanleiding van ’n sterrewiggelaar, Richard Nolle, wat die term geskep het. Dit hou verband met die elliptiese baan van die maan om die aarde, wat dit tydens volmaan-geleenthede baie naby aan die aarde bring. Tydens so ’n geleentheid is die maan sowat 16% helderder en heelwat groter as ’n gewone volmaan. Die elliptiese gedrag van die maan het weens die aantrekkingskrag tussen die aarde en maan tot gevolg dat die see se gety-siklusse volgehou word.
Daar was oor baie jare ook bewerings dat die lewe op aarde (en spesifiek die mens) tydens hierdie volmaan-episodes “met die maan gepla word”. Verskeie studies is gedoen oor die uitwerking van die magnetiese veld op mensegedrag. Sommige studies se gevolgtrekkings was dat dit tot slaapversteurings kan lei en dat ons emosies daardeur geraak word.
In die 15de eeu het die woord lunacy ontstaan omdat mense van mening was dat die maan sekere individue sodanig beïnvloed het dat hulle gedrag onaanvaarbaar was. Daar is selfs ’n korrelasie getrek tussen die volmaan en die voorkoms van weerwolwe.
Daar is ook in studies bewyse gevind dat mense se diepslaaptyd (NREM) met tot 30% verkort kan word tydens volmaan-gebeurtenisse en dat die liggaam se melatonienvlakke terselfdertyd verlaag. Die onderwerp is ietwat kontroversieel en daar is ook etlike teensprake vir hierdie bevindings.
In die landbou en tuinbou het die maan se stande ook inslag gevind in ’n praktyk genaamd “Gardening by the moon” of “Moon-phase gardening”. Hierdie praktyk behels dat gewasse aangeplant moet word as die maan besig is om na volmaan toe te groei.
Die verduideliking vir hierdie praktyk is veral dat die toenemende magnetiese velde (geotropisme) in hierdie tydperk die vloeitempo van plantsappe verhoog en dat dit tot verbeterde groei aanleiding gee. Dit is na bewering die beste tyd vir die saai en uitplant van blommende eenjarige plante, tweejarige plantspesies, grane en waatlemoene.
Hierdie praktyk moet egter met omsigtigheid hanteer word, aangesien verskeie studies bevind het dat die maan geen uitwerking op die fotosintese van plante het nie.
Die mens is ’n baie interessante deel van die Skepping. Ons wil so dikwels beheer neem oor alles wat rondom ons is en dan verloor ons alle perspektief oor die dinge wat eintlik saak maak. In die proses verloor ons selfs ons passie vir ons medemens en dikwels vlieg kosbare kundigheid by die agterdeur uit. As ons rondom ons kyk, wil ons gewoonlik net die kop skud oor die roekeloosheid van die mensdom en die afgryslike minagting van die natuur.
Miskien is dit tyd dat ons net weer ’n slag stil raak as ’n blou maan sy verskyning maak en die prag van die Skepping van vooraf waardeer.