Deelnemers aan NWK se Beginnerboerprojek het vanjaar die hoogste opbrengste óóit behaal. Deelnemers aan die projek is Vrydagaand tydens ‘n spoggeleentheid by Die Kraal Venue buite Lichtenburg vereer.
Biela Retief van die Koster-omgewing het ‘n ongelooflike 10,2 t/ha mielies op droëland geproduseer. Dalton Viljoen, ook van Koster, het die hoogste sonneblom-opbrengs teen 2,87 t/ha behaal. Anton Hansen van Gerdau was eerste in die sojaboon-afdeling met 4 t/ha.
‘n Nuwe toetreder tot die projek, Will Grobler, het die beste administratiewe bestuur deur die jaar getoon.
Anche Suurd, landbou-ekonoom by NWK en ‘n studieleier by die projek, het gesê dat deelnemers se besonderse prestasies aan die goeie reënval van die vorige seisoen te danke is. Daarom, met ‘n dreigende El Niňo, is deelnemers nie té bekommerd oor die nuwe plantseisoen wat aangebreek het nie, omdat hulle grondprofiele nog mooi nat is. Hulle is egter bekommerd oor 2024/2025.
Anche het gesê dat El Niňo nie altyd tot ondergemiddelde reënval lei nie en dat die meeste van die Lichtenburg-omgewing se reën eers teen Desember val.
Doel van die Beginnerboerprojek
Die Beginnerboerprojek is in 2014 van stapel gestuur. Dit strek oor ses jaar en het ten doel om nuwe toetreders tot landbou by te staan. Die einddoel is om ‘n produsent te vestig met genoeg sekuriteit om na ses jaar kommersieel te kan boer.
Dis tipies jong produsente wat sonder NWK se hulp nie sou kon boer nie en heel waarskynlik in die buiteland sou gaan werk. NWK ontwikkel dus sy toekomstige kliënte en vestig produsente met ‘n passie vir die bedryf. Die fokus is nie streng op resultate nie, maar sien eerder toe dat die bepaalde produsent alles in sy vermoë doen om NWK en sy eie risiko te beperk.
HOE DIE PROJEK WERK
NWK finansier al die direkte insetkoste wat nodig is om ‘n deelnemer se oes te realiseer. ‘n Derde van die opbrengspotensiaal word begroot vir bemarking aan die begin van ‘n seisoen.
Die span van NWK loop ‘n pad saam met die beginnerboere. Hulpbronne word voor ‘n seisoen deeglik ondersoek en geëvalueer om NWK se risiko te beperk. AgTech@NWK besoek die deelnemers weekliks en gee raad oor wat gedoen moet word. Boeredae word jaarliks aangebied wat dien as opleidingsessies. Kundiges van Finansiering en Graan lewer ook insette aan die deelnemers.