Dis geen wonder Noordwesters smul só lekker aan ‘n lamstjoppie by ‘n braai nie – slaglammers in hierdie geweste word immers as “van die beste in enige nasionale kompetisie” deur beoordelaars van South African Meat Industry (SAMIC) beskryf.
Die eerste vyf plekke in die aan hak afdeling van NWK Retail se jaarlikse Slaglamskou het almal ‘n punt van 99% en hoër behaal – met die toppunt ‘n allemintige 99,49%. Dit was die vierde NWK Retail Slaglamskou en dit gaan elke jaar van krag tot krag. Daar was vanjaar selfs inskrywings van so ver as Polokwane in Limpopo.
Kompetisie groei
Waar daar verlede jaar 116 diere ingeskryf is, was daar vanjaar 178. Die onafhanklike beoordelaar, Paul Maree, het ‘n reusetaak voor hom gehad om die bestes te kies in die op hoef afdeling.
Hy is sedert die kompetisie se ontstaan betrokke en het opgemerk: “Driekwart van die lammers is uitstekende kwaliteit. Die bouvorms het beslis verbeter en die vetverspreiding is ook baie goed.”
Boytjie Crispin van Delareyville het koning gekraai in die op hoef afdeling. Hy was enkelkampioen, reserwe-enkelkampioen én groepkampioen.
Die aan hak beoordeling is deur Albertus du Toit van SAMIC behartig. Hennie Gerber, ook van SAMIC, het gesê: “Die persentasieverskil tussen die eerste en tweede plek is maar 0,01%. Die tiende plek het ‘n punt van 96 behaal.
“Daar was 17 deelnemers en die eerste tien plekke bestaan uit agt verskillende deelnemers. Dit dui op sterk kompetisie onder die boere,” het hy gesê.
Willem Vosloo van Broedersput tussen Delareyville en Vryburg is vanjaar as die enkel aan hak kampioen gekroon. “Dis onverwags,” het hy geglimlag en verklap dat hy sy diere sowat ses tot agt weke voor die skou begin voer het. “Ons meng self ons mengsel en gebruik lusern, mielies en ‘n bietjie mieliereste.” Hy gebruik ook Lubern se voerkraalkonsentraat.
Jannes Schickerling, ‘n onderwyser van Piet Plessis, was die aan hak groepkampioen met ‘n punt van 97,59.
Uitslae
ENKEL OP HOEF
- Boytjie Crispin
- Boytjie Crispin
- Jannes Schickerling
- Willem Vosloo
- Boytjie Crispin
GROEP OP HOEF
- Boytjie Crispin
- Wikus Bouwer
- Jannes Schickerling
- Willem Vosloo
- GJ du Plessis
ENKEL AAN HAK
- Willem Vosloo
- Boytjie Crispin
- Lourens Haasbroek
- Jannes Schickerling
- Wikus Bouwer
GROEP AAN HAK
- Jannes Schickerling
- Willem Vosloo
- Niekie Cilliers
- Boytjie Crispin
- Wikus Bouwer