Kweekgras is een van die algemeenste en hardnekkigste meerjarige onkruide wat wêreldwyd op landbougrond voorkom.
Hoewel dit in sommige gevalle as weidingsgras benut kan word, veroorsaak dit menigmaal groot uitdagings in gewasproduksie weens die aggressiewe groei en vermoë om vinnig te versprei.
Kweekgras (Cynodon dactylon) kompeteer met ander gewasse vir water, voedingstowwe, lig en ruimte, wat uiteindelik die opbrengs en produksiedoeltreffendheid kan benadeel. Die plant versprei deur saad, stolons en ondergrondse wortelstokke, wat dit uitdagend maak om dit volledig uit te roei. Daarom is dit belangrik dat produsente die biologie, verspreidingsmetodes en doeltreffende beheerpraktyke van kweekgras verstaan, sodat dit suksesvol en volhoubaar bestuur kan word.
Samestelling en morfologie
Hierdie meerjarige grasspesie, wat aan die Poaceae-familie behoort, vorm digte matte deur middel van sterk stolons (bogrondse uitlopers) en wortelstokke (ondergrondse uitlopers) wat by die nodes wortelskiet. Die groeivorm laat die plant toe om vinnig oor groot oppervlaktes te versprei en maak dit moeilik om te beheer.
Stingels groei eers plat teen die grond voordat hulle regop lote vorm, wat tussen 10 cm tot 40 cm hoog is (Foto 1). Blare is smal, plat en lineêr met ’n spits punt, en wissel van liggroen tot grysgroen in kleur. Die ligula bestaan uit ’n kort membraan of is met fyn haartjies omring, terwyl die blaarskede glad is – Figuur 1. Die bloeiwyse bestaan uit drie tot sewe are wat vingeragtig vanaf die stingel se punt uitstraal. Klein aartjies is dig teen die are gerangskik en het geen kafnaald nie.


Kweekgras beskik oor ’n uitgebreide veselagtige wortelstelsel, met die meeste wortelstokke in die boonste 15 cm van die grond, waar dit as voedselreserwes dien en vinnige hergroei na sny, beweiding of grondbewerking moontlik maak. Die plant maak gebruik van C4-fotosintese, wat water en sonlig baie doeltreffend benut en vinnige groei onder warm toestande bevorder.
Die kombinasie van ’n sterk wortelstelsel, uitgebreide stolons en wortelstokke, doeltreffende fotosintese en beide saad- en vegetatiewe voortplanting, maak kweekgras een van die aggressiefste en moeilikste onkruide om in landbougewasse te beheer.
Verspreiding en rol in landbou
Hierdie onkruid kan in verskeie grondsoorte groei, van kleigrond tot diep sandgrond, maar presteer die beste in vrugbare, goed gedreineerde leemgronde. Die plant verdra beide suur en alkaliese gronde en kan ook souttoestande beter hanteer as baie ander grasspesies.
Dit kom algemeen voor in versteurde gebiede soos landerye, langs paaie, tuine, oorbeweide weidings en plekke met hoë stikstofvlakke. Dit vestig maklik in oop gebiede met min kompetisie van ander plante en versprei vinnig ná grondbewerking of ander versteurings.
Die plant is uiters droogtebestand as gevolg van sy uitgebreide risoomstelsel en ondergrondse voedselreserwes, maar kan ook tydelike oorstromings oorleef en groei goed langs riviere, besproeiingskanale en ander vogtige gebiede. Gedurende ongunstige toestande, soos ernstige droogte of koue, sterf die bogrondse dele of gaan dit in ’n rustoestand, terwyl die wortelstokke ondergronds oorleef en weer uitloop wanneer toestande verbeter.
Kweekgras versprei hoofsaaklik deur vegetatiewe voortplanting met behulp van wortelstokke en stolons, hoewel die plant ook saad produseer wat oor langer afstande versprei kan word. Die vegetatiewe verspreiding is egter die belangrikste manier waarop nuwe besmettings in landbougrond ontstaan.
Elke risoom- of stolonfragment wat een of meer nodusse bevat, het die vermoë om nuwe wortels en lote te ontwikkel en sodoende ’n nuwe plant te vorm. Tydens grondbewerking kan ploeg, skoffel en ander bewerkings hierdie ondergrondse stingels in kleiner fragmente verdeel en oor die land versprei, wat dikwels die besmetting vererger eerder as om dit te verminder. Dit kan ook daartoe lei dat sade wat dormant in die grond bly nadat dit ingewerk was, weer na ’n tydperk ontkiem wanneer gunstige toestande ontstaan.
Kweekgras kan ook na nuwe lande versprei deur besmette grond, landbouwerktuie, besproeiingswater, plantmateriaal en in sommige gevalle deur diere. Die aggressiewe verspreidingsvermoë en aanpasbaarheid van kweekgras maak dit een van die mees problematiese meerjarige onkruide in landbougewasse, wat met gewasse kompeteer vir water, voedingstowwe, sonlig en groeiruimte.
Dié plant kan ook as gasheer vir sekere plae, siektes en virusse dien, wat die risiko van besmetting in opvolggewasse verhoog. Dit sluit die volgende in:
- Wortelknopaalwurm (Nudi et al., 2012)
- Roes (California Invasive Plant Council, 2004)
- Cynodon chlorotic streak virus (CCSV) (Signoret, 2008)
Bestuur en beheerpraktyke
Die doeltreffende beheer van kweekgras verg ’n geïntegreerde onkruidbestuurstelsel, aangesien geen enkele beheerpraktyk dié onkruid permanent kan uitroei nie (Figuur 2). Die suksesvolste benadering is om voorkomende, meganiese, kulturele en chemiese beheermaatreëls te kombineer en dit oor verskeie groeiseisoene konsekwent toe te pas.

(Grafika geskep met KI-sagteware)
VOORKOMEND
Vroeë identifikasie van besmettings en vinnige optrede is noodsaaklik om te voorkom dat klein besmette areas op die land in groot probleemareas ontwikkel. Verder behoort skoon saad, plantmateriaal, landbouwerktuie en toerusting gebruik te word om die verspreiding van kweekgras na nuwe lande te voorkom.
MEGANIES
Meganiese beheer alleen is nie altyd voldoende nie, aangesien vlak skoffel of sny die plant dikwels stimuleer om weer uit te loop, as gevolg van die lote wat weer ontwikkel vanaf die nodes van die stolons.
CHEMIES
Die beste resultate word verkry wanneer kweekgras eers toegelaat word om aktief te groei voordat ’n sistemiese onkruiddoder, soos glifosaat, toegedien word. Plante moet daarna vir ongeveer twee tot drie weke nie gehinder word nie sodat die onkruiddoder vanaf die blare na die wortelstokke kan translokeer en die ondergrondse groeipunte bereik. Eers daarna behoort grondbewerking uitgevoer te word om die dooie plantmateriaal en oorblywende wortelstokke te verwyder. Indien nuwe lote weer verskyn, is opvolgbehandelings noodsaaklik om die besmetting verder te verminder.
Die praktyk om eers te bewerk en daarna te spuit, is oor die algemeen minder doeltreffend, aangesien die blaaroppervlak waarop die onkruiddoder geabsorbeer word, verwyder is. Brand alleen bied ook slegs beperkte beheer omdat dit hoofsaaklik die bogrondse dele vernietig, terwyl die wortelstokke ondergronds oorleef en weer uitloop. Brand veroorsaak ook ’n verlies op organiese materiaal-bedekking en vernietig voordelige grondorganismes in die grond.
KULTURELE BEHEER
Kulturele beheer speel ’n belangrike rol in langtermynbestuur. Sterk groeiende gewasse, gepaste gewasrotasie en die gebruik van dekgewasse help om kweekgras te onderdruk deur lig, water en ruimte te beperk. Gereelde monitering van lande is noodsaaklik om nuwe besmettings vroeg op te spoor en betyds te beheer.
Samevatting
Die suksesvolle bestuur van kweekgras berus nie op een enkele beheermaatreël nie, maar op die tydige en geïntegreerde toepassing van verskillende bestuurspraktyke. Deur die biologie en verspreidingswyse van hierdie onkruid te verstaan en beheerstrategieë daarvolgens aan te pas, kan produsente die verspreiding daarvan beperk en die negatiewe invloed op gewasproduksie verminder. Volhoubare onkruidbestuur is uiteindelik ’n voortdurende proses wat beplanning, gereelde monitering en verantwoordelike besluitneming vereis.
Bronnelys
- Africa Farmers Network, 2024. Discovering South Africa‘s grasses: Cynodon dactylon. FarmSpace by Africa Farmers Network, Africa Farmers Network. Beskikbaar by: https://farmspace.co.za/article/discovering-south-africas-grasses-cynodon-dactylon/
- California Invasive Plant Council, 2004. Cynodon dactylon plant assessment form. Beskikbaar by: https://www.cal-ipc.org/plants/paf/cynodon-dactylon-plant-assessment-form/
- CropScience, B. (n.d.). Bayer Crop Science UK: Crop protection for a fast-changing world. Bayer Crop Science UK. Beskikbaar by: https://cropscience.bayer.co.uk/
- Extension Resource Catalogue – NC State Extension, 2017. Beskikbaar by: Ncsu.edu. Available at: https://content.ces.ncsu.edu/
- org, 2026. Plant Production and Protection Division: Cynodon dactylon. Beskikbaar by: https://www.fao.org/agriculture/crops/thematic-sitemap/theme/biodiversity/weeds/listweeds/cyn-dac/en/?utm
- Krouse JH, Stachler RJ and Shah A, 2003. Current in vivo and in vitro screens for inhalant allergy. Otolaryngologic Clinics of North America, 36(5), pp.855-868
- com, 2018. Beheer van kweekgras is groot uitdaging. Beskikbaar by: https://www.landbou.com/kundiges/onkruid/beheer-van-kweekgras-is-groot-uitdaging-20180424
- Mudau C, 2006. Cynodon dactylon. PlantZAfrica. South African National Biodiversity Institute. Beskikbaar by: https://pza.sanbi.org/cynodon-dactylon
- SA Graan, Oktober 2019. Kweekgras: ‘n Moeilik beheerbare kalant. Beskikbaar by: https://sagrainmag.co.za/2019/10/06/kweekgras-n-moeilik-beheerbare-kalant/
- The Australian Wine Research Institute, 2021. Couch – The Australian Wine Research Institute. Beskikbaar by: https://www.awri.com.au/industry_support/viticulture/weed-management/weeds/couch/






