
Aandag, alle veeprodusente
Oktober en November is die moeilikste maande om vee se kondisie te onderhou. Pieter le Roux, hoof-vee-en-weidingkundige by NWK, deel wenke oor hoe lekke en aanvullings daarby aangepas moet word.
“Hou vol met ’n winterlek tot daar genoegsame groen weiding beskikbaar is,” sê Pieter. ’n Handige wenk om hiervan seker te maak, is om die diere se mis dop te hou. Sodra die mis oor die algemeen begin “nat” (of “los”) raak, kan daar voluit oorgeskakel word na ’n somerlek (of fosfaatlek, dus P6 of P12, 50-50 met sout gemeng). Fosfaat maak altyd ’n kardinale deel uit van weidende diere se fisiologiese behoefte en word regdeur die jaar by aanvullings ingesluit, hetsy in ’n somerlek of ’n winterlek.
Hierdie fisiologiese prosesse sluit oor die algemeen reproduksie, beengroei en produksie in. ’n Fosfaattekort kan dus mettertyd tot laer konsepsiesyfers, vertraagde puberteit, verlengde anestrus, verhoogde ongereelde of stil estrus, langer interkalfperiodes en verhoogde resorpsies lei. Verlaagde vrugbaarheid, libido en skrotumgroei kom by bulle voor. Volgens die literatuur is ’n verhoging van so min as 4% in die kalfpersentasie genoeg om die kudde se totale fosfaatkoste te dra. Dit sluit nie ander voordele soos ’n verhoogde speengewig en ’n verlies aan meer uitskotkoeie weens swak dragtigheid in nie.
Ekonomiese modelle wat weidings met fosfaattekorte evalueer, toon dat die implementering van voldoende aanvullingsprogramme ’n bykomende netto wins van R6 500 tot R52 000 per jaar in ’n beeskudde met 150 volwasse diere kan meebring. Suid-Afrikaanse gronde is oor die algemeen bekend as fosfaatarm, veral in natuurlike weidings. Om dus op fosfaat te probeer bespaar om direkte koste op die voerrekeninge te verlaag, word internasionaal deur landbou-ekonome as
’n netto negatiewe belegging erken.
Beheerde brand van veld
Die brand van natuurlike plante is byna onder alle omstandighede nadelig vir enige plant weens die skade wat die hitte aan groeipunte aanrig. Dit neem twee tot drie seisoene vir enige gebrande veld om na dieselfde groeikrag en produksie as voor die brand terug te keer. In soetveld word dit selde aanbeveel, maar in suurveld, of soos dit soms in die NWK-bedienningsgebied bekendstaan as “klipveld”, kan dit soms voordelig wees.
Grasspesies in klipveld is meestal hard en onsmaaklik, veral in die dormante wintermaande. Die onderbenutting van hierdie spesies lei tot die opbou van dooie materiaal (redundant material). Dit beperk die hergroei van beide smaaklike en onsmaaklike spesies, en dit kan soms nodig word om hierdie materiaal van tyd tot tyd deur beheerde brand te verwyder. Dit word dus nie as ’n jaarlikse praktyk aanbeveel nie.
Oor die algemeen word bestuurspraktyke soos hoëdruk- of ultrahoëdrukbeweiding as beter alternatiewe aanbeveel om onsmaaklike spesies te bestuur en te beheer. Sodoende gaan die voer nie net in rook in die lug op nie, maar dit word deur die diere benut. Ander praktyke sluit onder meer die toedien van molasse-gebaseerde, opspuitbare produkte in om beter benutting van onsmaaklike spesies te verkry. Die doel is oor die algemeen om die kompetisievermoë van onsmaaklike spesies te verlaag en sodoende die smaaklike spesies meer toegang tot lig, voedingstowwe en vog te gun.
Bestuur van blaargif in die lente
’n Wye verskeidenheid gifplante kom in die NWK-bedieningsgebied voor, waarvan gifblaar (Dichapetalum cymosum) ’n belangrike spesie is. Dit is ’n laaggroeiende (ongeveer 15 cm hoog), struikagtige plant met ’n groot wortelstelsel wat die beheer daarvan bemoeilik. Dit vorm veelvuldige bogrondse lopers met opvallende heldergroen blare wat later fluweelagtig raak. Dié gifplant blom in die lente en dra digte trossies klein wit blommetjies.
Die sekondêre aartjies op die blare vorm kenmerkende lusse wat nie aan die blaarkante raak nie. Gifblaar word, soos vermeerbossie, as een van die ses giftigste plante in Suid-Afrika geag. Gifblaar bevat natriumfluoorasetaat, ’n gifstof wat hartversaking by diere veroorsaak.
Die dele op die plaas waar gifblaar voorkom, moet afgekamp word en die plante moet veral in die lente en herfs vermy word. Die meeste diere vrek vinnig, maar hulle sal soms langer leef en net moeilik beweeg. Aangetaste diere is kortasem, met ’n onreëlmatige hartklop. Soms kom daar senuweesimptome soos bewerasie en stuiptrekkings voor. Die gifstof tas die hartspier mettertyd aan en diere kan tot ’n maand ná inname kortstondig aan ’n hartaanval, oënskynlik sonder simptome, sterf.
Beheer kan in die lente gedoen word, aangesien die plant vinnig hergroei en meestal eerste groen is in die veld, wat beteken dat dit dus maklik uitkenbaar is. Indien die kamp in die winter gebrand het, is dit natuurlik nog meer sigbaar in die lente.
Verskeie chemiese formulerings is vir die beheer van gifblaar oor verskeie proefpersele in Botswana getoets. ’n Vloeibare formulering van tebuthiuron en blaartoedienings van chloorfenac, glifosaat, imazapyr en picloram is getoets en die omvang van hergroei is oor ’n tydperk van sewe jaar ná behandeling gemonitor. Geeneen van hierdie middels kon die plant volledig beheer nie. Die uitwerking van glifosaat was van korte duur. Chloorfenac het stingelgroei vir vyf jaar onderdruk, maar die produk is intussen van die mark onttrek. Imazapyr het hergroei vir drie tot vier seisoene beheer en het die doeltreffendste en kostedoeltreffendste beheer van al die middels getoon. Opvolgbehandeling met Imazapyr is belangrik in die seisoene ná behandeling om hergroei te beheer.
Berei voor vir die nuwe plantseisoen
Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK, beantwoord in hierdie uitgawe ’n paar vrae oor sommige van die belangrike aspekte rakende die voorbereiding vir planttyd.
IS GRONDSUURHEID ‘N PROBLEEM IN DIÉ AREA?
Grondsuurheid is definitief ’n probleem in NWK se bedieningsgebied. Suur grond is waar die grond ’n lae pH-waarde het (laer as 6,0). Dit word deur hoë reënval, kunsmis en ’n geleidelike verlies aan voedingstowwe veroorsaak. Dit beperk wortelgroei, verminder die oesopbrengs en verlaag die beskikbaarheid van belangrike voedingstowwe soos fosfor.
Die algemeenste probleme wat met grondsuurheid in gewasse verwag kan word, is ’n afname in wortelgroei, en die onvermoë van plante om water doeltreffend te gebruik en om plantvoeding-
stowwe in voldoende hoeveelhede op te neem. Dit dra by tot laer produktiwiteit, laer opbrengste en lei uiteindelik tot groot verliese vir die produsent.
Gereelde bekalking van grond vorm die basis vir gesonde en ekonomiese gewasproduksie. Daarom is ’n vaste bekalkingsprogram nodig om die chemiese grondeienskappe te stabiliseer en in stand te hou.
WAAROM MOET LANDBOUKALK INGEWERK WORD?
Dit is belangrik om die toegediende kalk baie deeglik in te werk en goed met die bogrond te meng. Die belangrikste redes hiervoor is:
Kalk het ’n lae mobiliteit:
- Kalk beweeg baie stadig afwaarts in die grondprofiel. Die uitwerking van bekalking beweeg bykomend uiters stadig teen die diffusietempo van kalsium (Ca) in die grond. Navorsing het bewys dat dit so stadig as ongeveer 0,35 cm per 100 dae kan wees.
- Die kontakarea is belangrik: Die kalk moet fisies met die suur grond meng om die pH doeltreffend te neutraliseer. Dit is daarom belangrik dat landboukalk-deeltjies so na as moontlik aan mekaar in die grond moet wees. Slegs dan kan die oorvleueling van “neutralisasiesones” in die suurgrond plaasvind om grondsuurheid doeltreffend te neutraliseer.
- Wortelsone: Dit beskerm jong plantwortels teen aluminiumtoksisiteit in die boonste grondlaag.
Die toegediende kalk moet tot op die verlangde worteldiepte, gewoonlik 15 cm tot 30 cm, ingewerk word. ’n Skottelploeg, rysterploeg en skotteleg moet vir deeglike inwerk en vermenging gebruik word. ’n Wisselgang-skotteleg (offset) meng baie goed, maar dit werk egter net tot op ’n diepte van 150 mm.
Landboukalk kan ook met ’n skaarploeg ingeploeg word en die mate van die kalk se vermenging met die grond gaan afhang van die rysterplaat (mould board) se lengte en diepte. Normaalweg kan kalk met dié implement tot ’n diepte van 250 mm ingeploeg word. Die ingewerkte kalk verbeter die opname van voedingstowwe soos fosfaat en stikstof, verminder aluminiumtoksisiteit en bevorder gesonde plantwortelgroei.
HOE BEÏNVLOED LANDVERKEER DIE DIEPTE VAN PRIMÊRE BEWERKING?
Landverkeer lei tot grondkompaksie. Waar ’n trekkerwiel geloop het, verdig die grond sodanig dat plantwortels dit nie geredelik kan binnedring nie. Swak plantontwikkeling vind dus reeds vanuit die staanspoor plaas, wat uiteindelik tot oesverliese lei. Grondverdigting is ’n komplekse
degradasiefaktor wat die meeste fisiese, chemiese en biologiese grondeienskappe en ook sekere omgewingseienskappe beïnvloed.
Grondverdigting is ’n vorm van ’n fisiese degradasie van grond. Met kompaksie vind ’n verandering in die vorm en aaneenlopendheid van porieë plaas, sowel as ’n vermindering in die hoeveelheid en grootte van die makroporieë. Hiermee saam verhoog die grondsterkte en brutodigtheid. Geleiding en die deurlaatbaarheid van water en lug deur die grondporieë verlaag met ’n toename in die verdigting van grond.
Onbeheerde landverkeer veroorsaak dat lande diep met skeurploeë bewerk moet word. Dit is ’n groot finansiële uitgawe om gronde diep met ’n skeurploeg los te maak.
Spoorverkeer moet toegepas word. Met spoorverkeer word die fundamentele beginsel van gewasproduksie, oftewel om nie te plant waar ’n trekkerwiel tydens bewerking geloop het nie, toegepas. Stropers veroorsaak ook kompaksie van die grond, veral as die lande tydens stroop nat is. Met spoorverkeer loop die stroper se wiele ook op die spoorverkeerbane. Die hoofdoel met spoorverkeer is dus om grondverdigting te beperk en te voorkom.
HOE MOET LENTE-ONKRUID BEHEER WORD?
Lente-onkruid is ’n groot probleem en droog die grond uit. Net soos winter- en someronkruide, kompeteer lente-onkruid sterk met kontantgewasse vir water en voedingstowwe, terwyl dit ook sterk in wisselende omgewingstoestande kan gedy.
Meer as twee derdes van alle onkruidspesies is breëblaarspesies (dikotiele), waarvan problematiese lente-onkruide dan ook meestal breëblaaronkruide is. Die enigste grasse wat in die winter en lente probleemonkruide kan wees, is meerjarige grasse, soos kweekgras (Cynodon dactyon) en beesgras (Urochloa mosambicensis). Die algemeenste winteronkruide wat in die lente nog sterk groei, veral in die Noordwes Provinsie en die Vrystaat, is radiatorbossie (Senecio consaquineus), vaalskraalhans (Conyza spp.) en bloudissel (Argemone ochroleuca).
Sommige onkruidspesies kan wel ook laat in die somer begin ontkiem en deur die winter saad stort. Dit sluit in kakiebos (Tagetes minuta), kleinkakiebos (Schkuhria pinnata), knapsekêrels (Bidens spp.) en Kaapse dubbeltjie (Emex australis). Hierdie onkruide moet net soos winteronkruide ook doeltreffend beheer word, meganies en/of chemies.
WAAROM IS OPSLAGMIELIES ‘N PROBLEEM?
Opslagmielies verwys na vrywillige of ongewenste mielieplante wat in ’n land opkom uit oorblywende pitte van ’n vorige oes. Hulle dien dikwels as ’n lastige onkruid of huisves plae in opvolggewasse soos sonneblomme, koring of ’n nuwe mieliesiklus.
Probleme wat opslagmielies veroorsaak, is:
- Mededinging: Hulle steel water, sonlig en voedingstowwe van die nuwe gewas.
- Plae en siektes: Hulle bied ’n tuiste en voedsel aan insekte soos snywurms en kommandowurms.
- Groeibeperking: Hulle versteur die eweredige stand van die beplande aangeplante gewas.






