Twee leerlinge van Hoërskool Zeerust se opstelle oor boerdery is as die wenopstelle aangewys in ’n opwindende kompetisie, wat verlede jaar deur NWK van stapel gestuur is. La Rochelle Welman (graad 11) se Afrikaanse opstel en Ajba Patel (graad 12) se Engelse opstel het getuig van jongmense wat die belangrikheid van die landbousektor besef en waardeer.
Lizandri Horn, ’n graanverhandelaar by NWK Graan, wou graag ’n projek bekendstel wat behoeftige leerlinge in NWK se bedieningsgebied kon bystaan en terselfdertyd kopie vir Arena genereer. Sy het met die blink gedagte van ’n opstelkompetisie vorendag gekom. Lucia Joubert, ’n taalonderwyseres by Hoërskool Lichtenburg, was vuur en vlam toe Lizandri haar met dié idee nader en het uitgereik na ander skole om ook deel te neem.
Graad 10- en graad 11-leerlinge van Hoërskole Lichtenburg, Vryburg, Zeerust, Coligny, Schweizer-Reneke en Eagle Christian College het vrywilliglik tydens hul Afrikaanse en Engelse eindeksamens opstelle geskryf oor een van die volgende temas: “Landbou is my kos”, “In murg en been bly ek ’n boer”, “Wat boerdery vir my beteken” of “Boerdery in SA – ’n uitdaging of ’n geleentheid?”
Lizandri en Nicolene Smalman-Kotze (redakteur van Arena) het as beoordelaars opgetree. La Rochelle en Ajba het elkeen ’n Samsung A8-tablet ontvang. Die skool wat die meeste inskrywings opgelewer het, het kospakkies ter waarde van R10 000 ontvang.
“NWK Graan bedank graag elke skool, onderwyser en leerling wat deel was van ons opwindende opstelkompetisie! Ons was mateloos beïndruk deur die leerlinge se insig en perspektief rakende die kompetisie se onderwerpe.
“Ons as beoordelaars het beslis nie ’n maklike taak gehad om die wenners te kies nie. Die kinders se pittige sêgoed het ons omtrent laat skater van die lag!” vertel die beoordelaars.
“Leerlinge het in hulle eie woorde vasgevang wat boerdery en landbou as geheel vir hulle beteken. Uitdagings soos veldbrande, droogtes, hoë brandstofpryse en diefstal is talle kere genoem, asook geleenthede soos werkskepping, om kos vir die nasie te kweek en om ’n nalatenskap agter te laat. Daar was stories oor kosbare herinneringe, drome en selfs stories wat jou op ’n interessante verbeeldingsreis geneem het.”
Landbousektor maak ’n verskil
Lizandri brei uit oor wat haar gemotiveer het om hierdie kompetisie die lig te laat sien. “Ek het tot die besef gekom dat, as boere só ’n reuse-invloed het op die samelewing en bydrae daartoe maak, ’n maatskappy soos NWK sy eie sirkel van invloed het.
“Stephen Covey is die brein agter die einste teorie, genaamd circle of influence. In eenvoudige terme maak hy die stelling dat elke persoon bekommernisse het waaroor hy/sy dink en tog net ’n gedeelte daarvan kan beïnvloed. Om die sirkel nóg kleiner te trek, stel hy voor dat elke persoon slegs fokus op die faktore waaroor hulle wel beheer het. Dié benadering het ’n positiewe reaksie tot gevolg, want hoe meer jy fokus op die faktore waaroor jy wel beheer het, hoe meer groei jou sirkel van binne af buitentoe.
“As jy ingestel is om aan alles te dink waaroor jy beheer het en waarmee jy ’n verskil kan maak, gaan jy aan al hoe meer idees dink om juis dit te doen. Basies lyk elkeen se sirkel van invloed soos in Figuur 1.

“Die hele proses het my laat vra: Wat is ons gemeenskap se bekommernisse? Waar het ons as NWK ’n invloed? Wat kan ons as maatskappy doen om ’n verskil te maak? NWK is by verskeie sektore betrokke. Ons sirkel van invloed is wyd en uiteenlopend. Waar begin ’n mens dan?
“Soos die leerlinge ook uitgewys het, is landbou sinoniem met kos en dit was die antwoord op bogenoemde vrae. Honger kinders is ’n bekommernis en meulenaars is die antwoord. Ek het ’n paar van hulle genader, wat nie gehuiwer het om betrokke te raak nie. Nie net kon die kapitaalprys in kospakkies omgesit word nie, maar verskeie meulens was ook bereid om van hulle produkte vir dié goeie doel te borg.
“Ons lees in Handelinge 17:26 dat God bepaal hoe lank elke persoon sal bestaan en waar elkeen woon. Dit herinner ons dat daar ’n rede vir ons bestaan is. Weet jy wat jou rede hier is? Miskien is dit tyd om jou sirkel van invloed te bepaal. Miskien is dit tyd om te vra waar jy betrokke kan raak. Onthou, selfs ’n klein bydrae in jou oë kan ’n groot verskil vir iemand anders maak.”
’n Groot dankie
NWK bedank graag vir Bokomo Botswana, Botselo Milling en Keystone Milling vir die skenking. “Dit roer ons hartsnare om te weet dat NWK nie op homself aangewese is nie. Ons is sáám in die bedryf, sáám deel van die voedselketting en sáám voorsieners,”sê Lizandri.
