My pa is ’n wyse man. Een van sy sêgoed wat my altyd sal bybly, is: “Daar is ’n verskil tussen om dinge reg te doen en om die regte ding te doen.” Op Saterdag, 28 Desember, het ek en my voormalige verloofde (ons is intussen getroud) laatmiddag in Lichtenburg aangekom ná ’n heerlike Kersfees by geliefdes. Ons het in Beyers Naudé-rylaan afgedraai en twee kinders met ’n verkleurmannetjie sien loop. Hulle is ’n bedreigde spesie en ek gil op Richard om stil te hou.
Ek klim uit en loop hulle tromp-op. “Waar kry julle die verkleurmannetjie? Dis onwettig om ’n inheemse dier sonder ’n permit aan te hou. Julle kan tronk toe gaan!” Een van hulle antwoord: “Hier iewers op ’n plaas.” Die verkleurmannetjie loop van een hand na die ander voor die seuntjie hom later tussen sy vingers vashou.
Die diertjie se magie het koeëlrond gestaan en ek het vermoed dat dit ’n dragtige wyfie was. Die kinders wou nie bes gee nie en het gesê dat hulle dit vir R70 wou verkoop. Teen daardie tyd het nuuskierige voetgangers nader gestaan en ek wou nie die verkleurmannetjie bloot by hulle afneem nie. Moeg gery en met twee ongeduldige Boxer-honde agterin wat al met vol blasies rondtrippel, het ek hulle R50 gegee en die diertjie gevat.
Wat nou? Ek bel al wat ’n nommer is vir parkeraadbeamptes, sonder sukses. Dit was immers nog die feesseisoen. Uiteindelik het ek vir Pieter Goosen, ’n reptielkenner in Potchefstroom, in die hande gekry. Hy het my aangeraai om glad nie die verkleurmannetjie in ’n hok te sit nie. Hulle doen vinnig wonde aan hulle gesiggies op soos wat hulle probeer ontsnap en dit veroorsaak dikwels infeksie.
Dié diertjies verloor vinnig kondisie onder erge stres. Dit is ook nie wenslik om hulle in tuine in woongebiede los te laat nie, aangesien troeteldiere hulle kan vang. Die insekdoders wat ons gebruik, is boonop uiters giftig vir hulle lewertjies. Gelukkig is Pieter vertroud met Lichtenburg en het hy ons aangeraai om die reptiel in die omgewing van die wildteelsentrum te gaan vrylaat. Dit is gedoen en ek is ’n held… Of is ek?
Sowat twee weke later bel iemand my met die nuus dat twee kinders by Lichtenburg Mall staan met ’n verkleurmannetjie wat hulle wou smous. My moed sak in my skoene. No good deed goes unpunished…
Ek was uitstedig en kon nie self gaan kyk nie, maar die kans is goed dat dit dieselfde kinders was. Ek weet nie of ek die eerste mens was wat daardie kinders geld gegee het vir ’n verkleurmannetjie nie, maar ek het hulle moontlik laat besef dat daar ’n mark vir hierdie diertjies is.
Ek moes daardie dag eerder die polisie ontbied het. Harder probeer het om hulle te oortuig om die verkleurmannetjie (sonder betaling) aan my te oorhandig. Of die polisie die klag ernstig sou opneem, of eerstens ’n voertuig beskikbaar sou hê om te reageer… Dit noodsaak ’n rubriek vir ’n ander dag.
Ons is haastig, ons wil nie betrokke raak nie en kyk eerder anderpad. Die onwettige handel in diere en dierverwante produkte begin by iets klein soos ’n verkleurmannetjie, dan ’n ietermago en uiteindelik renosterhoring.
Die mens is gemaak as Sy verteenwoordiger, om te heers oor die visse in die see, die voëls in die lug, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. Wat gaan ons antwoord as Hy eendag vra wat ons gedoen het om hierdie uitwissing te keer? Gaan ons kan sê dat ons ten minste probeer het?