NWK moes in 2023 noodgedwonge sonkragstelsels teen ’n astronomiese koste by van sy silokomplekse laat oprig om tydens beurtkrag te kon funksioneer. Voorlopige somme toon dat dié stelsels besig is om hulself dubbel en dwars af te betaal.
Beurtkrag het sulke ernstige afmetings aangeneem dat dit moeilik geraak het om by te bly met die toenemende druk wat veral tydens oestye ervaar word. Dit is vir NWK belangrik om by te bly met die tempo van produsente se ontvangstes, die voorsiening van voorraad aan verbruikers en om aan die vereistes te voldoen om by die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) geregistreer te bly.
Net soos produsente die beskikbare sonenergie gebruik om oeste te lewer, het NWK sonkragstelsels laat installeer om dieselfde hernubare energie te gebruik vir die ontvang, opberging en verspreiding van graan.
Dit is só ontwerp om maksimum voordeel gedurende die dag te ontgin – nie net om die son optimaal te benut nie, maar ook wanneer die meerderheid aktiwiteite by die maatskappy se fasiliteite plaasvind.
Energie-opberging in die stelsels is ongelukkig beperk weens die hoë koste daarvan. Die kapasiteit is egter voldoende vir ’n gladde oorskakeling na kragopwekkers en ook vir gedeeltelike gebruik gedurende die nag, wanneer die kragbehoefte gelukkig laag is.
Sonkragstelsel hier geïnstalleer
Vier onafhanklike stelsels is by drie van NWK se grootste silokomplekse geïdentifiseer en die installasie het vroeg in 2023 afgeskop (Tabel 1).
Om die koste so laag as moontlik te hou, is dit ook nodig om die kragverspreiding te optimaliseer en die operasionele metodes te hersien.
- Die groot motorlaste word nou na sagte aansitters oorgeskakel om die inloopstrome te beperk.
- Programmeerbare logiese beheerders (PLC’s) word gebruik om die beheer daarvan te optimaliseer.
- NWK Ingenieursdienste is tans nog besig met hierdie oorskakelings, maar dit behoort afgehandel te wees voor die volgende piek oesseisoen aanbreek.
Die koste van hierdie installasies word noukeurig dopgehou en in vergelyking met die verbruik vóór die installasies, is besparings tot einde Desember 2023 reeds sigbaar (Tabel 2).
VOORDEEL VAN DIE STELSELS
Die nuwe stelsels het ook daartoe bygedra dat ongeveer 370 ton CO2 en 500 kL water gespaar is. In die groter prentjie beteken dit dat hierdie CO2-vrystelling in die atmosfeer verhoed is en dat die waterverbruik ook nie plaasgevind het nie.
Ten slotte
Nuwe opwekkingskapasiteit by silo’s verg aanvanklik ’n aansienlike kapitaalkoste en dit is nie noodwendig ekonomies om die volle vraag na energie slegs uit sonkraginstallasies te genereer nie. ’n Silokompleks word boonop nie vir 365 dae van die jaar 100% bedryf nie. Ander bronne van alternatiewe energie word dus ook ondersoek en dit sal waarskynlik deel van toekomstige installasies vorm.