Alhoewel niemand dit wil glo of hoor nie, gebeur dit tog dat ’n mens ontydig en uit die bloute arrestasie in die gesig kan staar. Wanneer jy jou in só ’n situasie bevind, veroorsaak die skok en verbasing dat jy gewoonlik nie behoorlik fokus nie en verkeerd optree.
Die doel van hierdie artikel is om basiese riglyne te bied oor voorsorg wat getref kan word om ’n situasie waar jy arrestasie in die gesig staar, sinvol die hoof te bied. Een geval waar dit kan gebeur, is byvoorbeeld wanneer die spoedgrens met meer as 35 km/h oorskry word, wat outomaties tot ’n arrestasie kan lei.
Wees voorbereid
Maak seker dat jy die nommers van minstens twee ervare prokureurs wat in kriminele sake spesialiseer op jou selfoon het.
Dokumente wat jou adres kan bevestig (byvoorbeeld ’n huurkontrak en/of munisipale rekening), sowel as dat jy permanent in diens is (byvoorbeeld ’n salarisstrokie), wat nie ouer as drie maande is nie, moet in jou voertuig se paneelkissie gehou word. Hou ook mediese verslae en ’n lys van enige chroniese medikasie in die paneelkissie. Stel jou foon om jou te herinner om dit elke drie maande op te dateer.
As die polisie jou op ’n Vrydag kontak om ’n verklaring te gaan aflê, is dit ’n goeie idee om te sê dat jy jou prokureur teenwoordig wil hê en dat jy dit op die daaropvolgende Maandag sal doen. Kontak dan jou prokureur en reël dit. Die kanse is goed dat, indien jy wel die Vrydag die verklaring gaan aflê, jy die naweek in die selle sal deurbring. Maak seker dat jy voldoende fondse beskikbaar het om jou prokureur en/of borg te betaal. Dit kan duur wees.
Voorvalle van geweld
Indien jy in ’n gewelddadige voorval betrokke is, byvoorbeeld waar jy op ’n aanvaller skiet of in ’n vuisgeveg betrokke raak, is dit belangrik om dadelik mediese hulp te kry. Vra jou dokter om alle beserings volledig te dokumenteer.
Reël met iemand om foto’s van die toneel te gaan neem, maar om dit versigtig te doen sodat geen bewysmateriaal vernietig of beskadig word nie. Stel ook dadelik ’n volledige verklaring van die gebeure op, terwyl dit nog vars in jou geheue is.
Indien moontlik, reël met jou dokter om in ’n hospitaal opgeneem te word vir behandeling. Persone wat gehospitaliseer word, word normaalweg nie dadelik gearresteer nie en dit kan dalk vir jou voldoende geleentheid bied om die nodige reëlings met jou prokureur te tref.
Om te praat of te swyg
- Omdat dit ’n grys gebied is, is daar nie ’n vaste reël nie. Dit is oor die algemeen beter om jou prokureur teenwoordig te hê wanneer jy ’n verklaring maak.
- As die polisie ’n waarskuwingsverklaring by jou wil afneem, sorg dat jou prokureur byderhand is. Indien dit nie moontlik is nie, sê bloot dat jy jou verklaring in die hof sal aflê.
- Indien jy oor iets twyfel, bly eerder stil. Enige erkenning wat jy maak, kan later in die hof teen jou gebruik word en ’n mens moet daarteen waak om jouself nie te benadeel nie.
- Onthou dat jy geregtig is om te swyg en nie erkennings te maak wat jou kan inkrimineer nie.
Hoe werk borgtog?
Dit is ook ’n komplekse vraag. Vir geringe oortredings, soos ’n aanranding met ’n oop hand of winkeldiefstal, kan die polisie self borgtog toestaan. Dit is daarom belangrik om jou bewyse van adres en werk byderhand te hê.
Vir ernstiger oortredings (sogenaamde skedule 5- of skedule 6-oortredings, soos poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer), kan slegs ’n hof borgtog toestaan. Indien jy na-ure of oor ’n naweek hiervoor gearresteer word, sal jy in aanhouding bly tot die volgende dag of ’n Maandag (indien die Maandag ’n vakansiedag is, sal jy moet wag tot die volgende werksdag) en jy in die hof kan verskyn.
Dit is beter om eerder veilig as jammer te wees. Dinge loop maklik skeef, maar dit kan met ’n bietjie voorbereiding en gesonde verstand bestuur word.