
Die nuwe senior bestuurder van NWK Handel glo dat veerkragtigheid die belangrikste eienskap is wat beide produsente en NWK se voortbestaan sal verseker.
Bertus Jacobs (50) het op 1 Augustus amptelik die leisels by Pieter Coetzer oorgeneem en is van mening dat veerkragtigheid belangrik is om aan die voorpunt van voortdurende veranderinge in klimaat en tegnologie te bly.
Terug na sy wortels
Bertus is ’n plaasseun wie se ouers tussen Schweizer-Reneke en Christiana geboer het. Hy is daarom opgewonde om nou te kan terugploeg in die omgewing waar hy vandaan kom, as deel van ’n gevestigde landboumaatskappy wat al 115 jaar lank sake doen.
Hy wou self graag sy hand aan boerdery waag, maar het met ’n onderwysbeurs ’n B.Sc.-graad in chemie en fisika aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroom-kampus voltooi.
Hy was 15 jaar lank in die onderwys en het deeltyds geboer voordat hy in 2011 as landboukundige by GWK in Douglas begin werk het. Bertus was die bedryfshoof van presisieboerdery en het vanaf 2014 tot 2016 gedien as areabestuurder van presisieboerdery in die sentrale streek (Douglas, Prieska en Marydale).
In Augustus 2016 is hy na die Humansdorpse Landboukoöperasie (Die Koöperasie), waar hy as die bestuurder van tegniese en spesialisdienste werksaam was. Bertus was vir die operasionele bestuur van kunsmis, landbouchemie, saad, veeartsenykundige dienste, lewende hawe, besproeiing, geografiese inligtingsisteme (GIS) en tegnologiese ontwikkeling verantwoordelik.
Hy was ook instrumenteel in die vestiging van ’n besigheidseenheid wat skadunette oor uitvoergewasse oprig en alternatiewe energie verskaf.
’n Gulde geleentheid op die regte tyd
Bertus waak daarteen om te stagneer en meen hy het gebied wat hy kón by Die Koöperasie. Daarom het hy die geleentheid wat by NWK opgeduik het, aangegryp.
Voortdurende leer is vir hom belangrik en hy het ’n meestersgraad in volhoubare landbou, asook ’n MBA, voltooi. “Ek hou van uitdagings en soos wat jy leer en nuwe dinge ervaar, daag jy jouself uit. Dit dwing jou om die regte vrae te vra: Is ek op die regte plek? Waarheen is ek op pad? Is dit waar ek wil wees?
“Indien dit nie die geval is nie, moet jy jouself probeer belyn volgens die doelpale wat jy vir jouself ingekap het. Jy sal dan kan sien of jy op die regte plek is en of jou tyd daar verby is.”
Hy sê dit is maklik om die waarskuwingstekens mis te kyk as jy in ’n gemaksone verval. “Dit gaan oor die rigting waarin ’n onderneming op pad is en die geleenthede rondom dit. Hoe het die marktoestande verander? Wat is die rigting wat ’n sekere afdeling moet inslaan? Lyk dit soos ’n doodloopstraat? Is daar nog geleenthede vir groei en ontwikkeling, of is dit klaar bereik? Jy moet ook kyk of jy jouself met die visie van die topbestuur kan belyn.”
Dankbaar vir ’n maklike oorgang
Om ’n soomlose oorgang vanaf Pieter se bestuur te bewerkstellig, het Bertus reeds op 1 Mei by NWK ingeskakel. “Ek is baie dankbaar vir die wyse waarop Pieter dit gedoen het. Dit spreek boekdele van die basis wat hy probeer skep het om die oorgang so maklik as moontlik te maak. Ek sal hom ewig dankbaar wees daarvoor.
“Hy het my gewys waar die maatskappy vandaan kom en waarom dinge op bepaalde maniere gedoen word. Dis die ideale manier om ’n bestuurspos oor te gee. Pieter het sy lewe aan NWK gewy en ek is baie dankbaar.”
Bertus beskryf sy nuwe kollegas as “baie hulpvaardig” en glo dat hy en die span by NWK Handel sáám nog groot hoogtes gaan bereik.
Hy sal graag waarde tot dié segment wil toevoeg en wil uiteindelik meer waarde vir aandeelhouers ontsluit.
Landbou in die westelike dele van die land, wat NWK se bedieningsgebied insluit, is meer blootgestel aan klimaatuiterstes. Daarom meen Bertus dis belangrik om gerat te wees vir beide uiters droë én nat toestande.
“NWK gee goeie raad vir boere en help hulle met die bestuur van hul finansies – om voorsiening te maak vir minder goeie jare, maar ook om te skep in die nat jare. Hierdie konserwatiewe benadering van NWK is doeltreffend, maar ons sal selfs meer hierby (veranderende weerstoestande) moet aanpas om winsgewend te kan wees,” sê Bertus.
Produsente gebruik alreeds tegnologie doeltreffend in die aanwending van presisieboerdery, maar Bertus glo dit moet ook in die handelsomgewing beter aangewend word tot voordeel van die maatskappy en die produsent.
“Ons moet tegnologie gebruik en steeds ’n verhouding met die klant behou.” Hy glo egter nie dat NWK se handelswinkels ooit heeltemal sal verdwyn nie, weens die verafgeleë dorpe in sy bedieningsgebied.
Die regte mense in die regte posisies is deurslaggewend
Dit bring Bertus by sy punt oor veerkragtigheid. “Al hoe jy aan die voorpunt van die kurwe kan bly, is deur die regte mense in die regte posisies aan te stel. As almal vir dieselfde span speel en hulle word reg gemotiveer, kán hulle veerkragtig wees.”
Hy sê NWK het ’n dinamiese topstruktuur wat nie vasgeval het in die verlede nie en aanpasbaar is in hul manier van dinge doen. “Hulle is oop vir verandering en dit bring nuwe geleenthede oor jou pad.”
Dit is belangrik dat beide klante en werknemers eienaarskap van NWK sal neem en dit hanteer asof dit hul eie onderneming is.
Hoewel Bertus van mening is dat daar nog geleenthede vir interne groei vir NWK in sy onmiddellike omgewing is, glo hy dat geografiese uitbreiding nodig is om meer aandeelhouers te lok, wat met mekaar kan meeding. Dit sal die vraag en aanbod stimuleer en aandele se waarde laat groei.
“Jou aantal boere in ’n bepaalde gebied word minder. Deur daardie interne groei te optimaliseer, hetsy deur jou markaandeel te vergroot of ’n ander produk of diens na die tafel te bring, is al manier om ander areas stelselmatig oordeelkundig te benader en te ontgin.”
Bertus is beïndruk met NWK se betrokkenheid by sy gemeenskap en die maatskappy se volgehoue pogings om gebrekkige infrastruktuur in sy bedieningsgebied te herstel.
Sy vrou, Nelia, is ’n grondslagonderwyser en hulle seun, Phillip (15), is ’n ywerige sportman. Hulle is tans nog in Jeffreysbaai en gaan vroeg volgende jaar by Bertus in Lichtenburg aansluit. Die egpaar se dogter, Joáni, is in matriek en beoog om volgende jaar by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus te studeer.
“Die voortbestaan van die platteland is van kardinale belang vir NWK. As die dorp en sy skole agteruitgaan, gaan jy nie talent na die maatskappy kan lok nie. Al is jou boere hóé sterk, as jy nie die regte personeel het nie, gaan jou onderneming dit nie oorleef nie.”
Bertus geniet dit om tyd saam met sy gesin te spandeer. “Om in die natuur te kom, is altyd ’n voorreg en ek hou van jag en visvang.” Hoewel hy oefen om “uiting te gee aan sy frustrasies”, erken hy laggend dat hy nie genoeg draf nie.
Beplan hy dalk om sy jarelange droom van voltyds boer te verwesenlik? “Never say never,” glimlag hy.






