Wees gereed vir die nuwe seisoen
Die vorige seisoen, wat relatief droog was en oor die algemeen met redelike droë grondprofiele geëindig het, skep ’n uitdaging vir die nuwe seisoen. Eric Louw, bestuurder: Presisieboerdery by AgTech@NWK is dankbaar dat die voorspellings vir die nuwe seisoen meer gunstig is. Dit maak die produksievooruitsigte baie positief. Produsente moet dus die beste maak van hierdie geleentheid.
Eric deel ook die volgende nuttige advies: “Alle reënval, insluitende hoë-intensiteit donderbuie, moet doeltreffend in die grond gestoor word. Hou die bogrond ontvanklik vir reënwater sodat dit vinnig kan infiltreer. Dit kan gedoen word deur korse in die oppervlakte gereeld op te breek, oesreste op die grondoppervlakte te hou en verdigte lae op te hef sodat die water vinnig na die ondergrond kan dreineer.”
Wenke vir veeprodusente
Pieter le Roux, hoof-diere-en-weidingwetenskaplike, sê dit is belangrik om aan jong diere wat vir die eerste keer voorkomend geënt word, binne ses weke ’n skraagdosis toe te dien om hul weerstand te versterk.
Dit is ook nou die tyd wat ontwurming strategies gedoen moet word. “Doseer teen die regte parasiet op die regte tyd en doseer slegs diere wat besmet is. Hou rekord daarvan en selekteer teen diere wat chronies besmet raak,” noem hy.
Hier is nog goeie raad:
3 VINNIGE WENKE VIR BEESPRODUSENTE
- Hou vol met winterlek totdat daar voldoende groen weiding beskikbaar is. Die beste maatstaf is om die mis dop te hou. Sodra die diere se mis oor die algemeen begin los raak kan daar voluit oorgeskakel word na somerlek (P6 of P12 om die helfte gemeng met sout).
- In die meeste beeskuddes met ’n kalfseisoen word die bulle November/Desember by die koeie geplaas. Maak seker die bulle is getoets vir vrugbaarheid, Trichomoniase en Vibriose voor die dekseisoen begin.
- Help koeie en veral verse deur goeie voedingsbestuur om teen dektyd op ’n kondisiepunt van 3,5 uit 5 te wees.
KRY OOIE SE KONDISIE GEREED
- Ooie wat nou gepaar word, moet in kondisie toeneem om goed ram te vat. Dit staan bekend as ’n positiewe energiebalans. Begin met prikkelvoeding vanaf 14 tot 21 dae voordat die ramme bykom tot 21 dae ná die ramme bygesit is.
- Koggel die ooie net vir nege dae en sit dan die ramme by. Koggelramme werk baie goed hierdie tyd van die jaar om die ooie op hitte te kry, maar 14 dae is te lank, want dan sal die vrugbaarste ooie reeds weer van hitte af wees.
- Ooie wat binne die volgende ses weke gaan lam, moet teen Pasteurella, bloednier, blou-uier, rooiderm en bloedderm (indien dit in die omgewing voorkom) geënt word. Maak seker dat hierdie ooie nie kondisie verloor nie, veral die meerling- en tweetandooie.
Plant op ’n skoon saadbed
’n Onkruidvrye saadbed is ononderhandelbaar. Kenmerkend van onkruid is dat dit sterk kompeteerders is, wat veral gewassaailinge se aanvanklike ontwikkeling ernstig onderdruk. Die onkruid raap plantvoedingstowwe en water voor die gewasse op en laat honger saailinge agter.
Volgens Eric Louw, skei ’n wye verskeidenheid onkruide ook remstowwe af, wat die gewasse se ontwikkeling beperk. Onkruid moet dus doeltreffend beheer word sodat al die water en plantvoedingstowwe uitsluitlik vir die gewasse beskikbaar sal wees.
Moenie op bemesting bespaar nie
Kunsmispryse styg elke jaar en die vorige seisoen se laer oeste het waarskynlik gesorg vir oorlaat kunsmis in die grond. Dit kan sekerlik ’n motivering wees om nou met kunsmis te snoep. Met die gunstige seisoenvoorspellings is dit egter waarskynlik die verkeerde plek om te spaar, maan Eric Louw.
Hier is nog goeie raad:
- Hou by die geskikte bemestingspraktyke vir die grond en seisoen se potensiaal. Inteendeel, hou die seisoen dop en gee dalk eerder ’n bietjie ekstra kunsmis.
- Voldoende grondvog, doeltreffende bewerking, voldoende bemesting en doeltreffende onkruidbeheer is steeds die belangrikste aspekte wat tot ’n optimale oesopbrengs lei.
Nuus uit AgTech se ruimte
AgTech@NWK maak seker dat die publiek deeglik kennis neem van die dienste wat hulle aanbied. Hulle was deel van Hoërskool Lichtenburg se Loopbaandag, die Koster verskaffersdag en het ook by NAMPO ALFA uitgestal.




