• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, Jun 16, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Pionierboer sorg vir baie eerstes

Nicolene Smalman-Kotze, Redakteur: NWK Arena

31 Jan 2025
in Nuus
Pionierboer sorg vir baie eerstes

Landbouskrywers SA Noord se Boer van die Jaar in Noordwes, Jozeph du Plessis.

Share on Facebook

Jozeph du Plessis (56) boer sedert 1995 in die Schweizer-Reneke-omgewing en is op 18 Oktober as Landbou­skrywers SA Noord se Boer van die Jaar in Noordwes aangewys.

Hy word as ’n pionierboer in dié geharde deel van Noordwes beskou, en was die eerste om in 2011 sy hand aan sojabone hier te waag en in 2017 aan katoen.

Om te boer, is baie soos om op ’n trapmeul te hardloop. Die spoed word elke jaar vinniger gestel en produsente moet sweet om by te bly.

Jozeph het dié gepaste vergelyking vir boerdery in Suid-Afrika getref. Wanneer ’n mens sy talle prestasies en jarelange rol in georganiseerde landbou in oënskou neem, is dit duidelik dat hy dié vinnige pas volhou.

Die wind het geloei buite sy huis op die plaas Boskop tydens NWK Arena se onderhoud met hom op 20 November 2024. Die planters is toe omgeskakel om die volgende dag mielies te begin plant nadat daar die vorige week “tussen 50 mm en 80 mm se sagte reën” gemeet is.

Net die tyd sou leer of goeie opvolgreën die res van die seisoen sou val. Aanpasbaarheid en goeie bestuurspraktyke het Jozeph egter gerat om deur meer as drie dekades enige uiterste weerpatrone die hoof te bied.

Jozeph en sy vrou, Susna.

Die vyfde geslag “langs die Kalahari”

Jozeph is ’n boorling van Vryheid in KwaZulu-Natal. Sy familie aan moe­ders­kant het in 1865 vanaf Calvinia na die Schweizer-Reneke-omgewing verhuis en met skape begin boer. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy oupa, Apie Lock, begin mielies plant.

Sy pa het ’n groot liefde vir beeste gehad en hoogs produserende vleisbeeste gesoek wat aangeplante weidings, oesreste en die natuurlike veld optimaal sou kon benut. Hy het in Texas in Amerika gaan skyfskiet en die Santa Gertrudis-beesras op King Ranch raakgesien.

“Die omstandighede daar is baie soortgelyk as hier en hy het besef dat die beeste goed hier sou aard. Hy kon my oupa oortuig om van die beeste te koop en hierheen te bring,” het Jozeph vertel.

Die beeste is in 1973 ingevoer, laer potensiaal lande is aan gewasverbouing onttrek en aangeplante weidings is gevestig. Jozeph se oom, Koos Lock, en sy seun, Abri, bedryf vandag nog die Locklore Santa Gertrudis-stoetery. Dit is een van die oudste en grootste Santa Gertrudis-stoeterye in die land.

Jozeph het ’n meestersgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en was ook ’n lektor daar. In 1995 is hy genooi om by die boerdery op Schweizer-Reneke aan te sluit en hy en sy vrou, dr Susna Nel, het hierheen verhuis.

“Toe ek hierheen kom, was daar bykans 300 boer­derye in die Schweizer-Reneke-distrik, waarvan 100 meer as 500 ton graan geproduseer het. Graan SA het my in 2015 gevra om ’n ondersoek hieroor te doen en ek het gevind dat die hoeveelheid boerderye oor 20 jaar tot slegs 100 verminder het. Slegs sowat 52 boere het toe nog geplant.”

Jozeph skryf dit toe aan onder andere die deregulering van die graanmark, wat dit al hoe moeiliker gemaak het om winsgewend te boer. “Dit was nie net klein boere wat onderdeur was en deur die grotes ingesluk is nie. Groot én klein boere was weg, en grotes én kleines het oorleef.

“Skaalgrootte was dus nie ’n bepalende faktor nie, maar eerder aanpasbaarheid en ’n laer skuldlas en risiko.” Ook Jozeph is genoop om te besin oor die rigting wat hy sou inslaan om volhoubaar te kan boer.

Doen meer met minder

Met staatsubsidies vir produsente iets van die verlede, het Jozeph geweet dat hy met baie meer likiditeit sou moes produseer en minder skuld moes aangaan. Dit was toe dat daar begin is om lae potensiaal lande aan gewasverbouing te onttrek en dit na aangeplante weiding om te skakel en die beeste te vermeerder.

Gewasverbouing se doeltreffendheid is met presisieboerdery verhoog. Al die lande is fisies gekarteer en geklassifiseer. Chemiese kartering word elke drie tot vier jaar herhaal en die bekalking en bemesting word daarvolgens aangepas. Elke hektaar word volgens sy eie potensiaal benut.

Grondwater word noukeurig bestuur deur spoorverkeer te implementeer, op rye te rip en lande te laat oorlê.

“Ons is baie lief vir mielies, maar het agtergekom mielies is nie altyd so lief vir ons nie,” het Jozeph geglimlag en verwys na die laer prys wat mielies gewoonlik behaal wanneer groot opbrengste behaal word.

Hy het besef dat die tyd ryp was om ’n ander gewas by sy boerderybedryf in te sluit en het op sojabone besluit. Jozeph het gaan kers opsteek by produsente in Brasilië en plaaslik by oom Patrys Lubbe in Newcastle.

In 2011/2012 is die eerste sojabone in die Schweizer-Reneke-omgewing aangeplant. Ten spyte van ’n droë jaar was dit ’n reusesukses en het Jozeph nooit weer teruggekyk nie. ’n Paar jaar later was ook sojabone in oorproduksie in dié gebied. Reeds as student het Jozeph katoen vir sy oupa as ’n proef op Boskop geplant en die resultate was belowend.

Hy het grondboontjies en sonneblom oorweeg, maar besef dat katoen beter groei- en wins­geleenthede sou bied.

Suid-Afrika raak ver agter met biotegnologie

Om katoen te oes, is duur, en Jozeph en twee ander produsente in die omgewing het saamgespan om katoenoesmasjiene te koop.

Suid-Afrika lewer goeie gehalte katoen, wat ’n beter premie verdien as dié van Amerika en Brasilië. Produsente word in Amerikaanse dollars betaal en dit is dus baie winsgewend. “As jy dit reg doen (katoenverbouing), betaal jy ’n katoenoesmasjien vinniger af as ’n mieliestroper,” het Jozeph bygevoeg.

Met die huidige genetika wat in Suid-Afrika beskikbaar is, moet katoen in Oktober of die eerste week in November geplant word. Dit is problematies omdat die weste van Noordwes dikwels eers teen einde November goeie reën kry.

Katoen SA ondersoek nou moontlikhede om meer en beter gepaste kultivars op plaaslike bodem te kry. “Ons sit met 20 jaar oue kultivars. Suid-Afrika raak ver agter wat biotegnologie betref. Tog het ons die afgelope seisoen ten spyte van ’n droë jaar ’n uitstekende oes behaal.”

Jozeph glo dat produsente ingelig moet wees om relevant te bly. “Ons het ’n fantastiese voorreg met die internet tot ons beskikking, asook landbouskoue soos Nampo. Landbounavorsing in Suid-Afrika het ongelukkig agterweë gebly en ons moet daarom by ons kollegas in die buiteland gaan leer.”

Hy handhaaf ’n ingesteldheid dat geen probleem nié opgelos of omseil kan word nie. “Met die vinnige ontwikkeling van tegnologie is daar al groot vooruitgang gemaak op die gebied van genetika, bemesting, plantvoeding, vogbestuur en siektebeheer. Die lae vrugte is alles al gepluk. Ons het die afgelope 20 jaar groot spronge gemaak en gee nou veel kleiner treetjies. Ons moet egter aanhou treetjies gee om die opbrengste en produktiwiteit te verhoog.”

Jozeph was die eerste produsent wat gewaag het om met katoenproduksie in dié streek te begin.

Landbou hou die sleutel tot mense se voortbestaan

Met voorspellings dat Suid-Afrika se bevolking teen 2050 op 120 miljoen sal staan, is Jozeph optimisties oor die geleent­hede wat landbou inhou, maar ook bekommerd dat nie almal die erns daarvan besef nie.

“Daar is in 2023 ’n potensiële ramp van ongekende omvang afgeweer met die uitvoer van graan vanuit Suid-Afrika na ons buurlande soos Zimbabwe en Zambië. Landbou is op ’n punt waar produktiwiteit groei en niks mag gebeur om dit te rem nie.

“As ons momentum gaan verloor, gaan voedselsekerheid in die gedrang kom. Hier is baie grond wat aan die staat behoort wat nie benut word nie. Daardie grond moet alles in produksie kom,” het Jozeph vertel.

Die lof van Suid-Afrikaanse produsente word dikwels besing, maar Jozeph meen dat die land se eintlike sterk punt in die totale landbouwaardeketting lê. “Ons het ’n fantastiese ketting, met liggame en maatskappye aan die insetkant wat ons help met navorsing en verbeterde verbouingstegnieke, asook die verskaffing van wêreldklas gehalte insette.

“Van die plaashek vorentoe, word graan vervoer en in silo’s geberg. Bemarking, verskansing en verspreiding vind plaas. Suid-Afrika se boere is gewis wonderlik, maar hulle sou dit nie sonder hierdie ketting kon doen nie.”

Jozeph voel sterk oor die feit dat die regering nie in die landbousektor moet “inmeng” nie, maar voeg by dat hulle ’n belangrike rol het om te speel. “Hulle moet boere in staat kan stel, kan ‘enable’. Kyk na die sojaboonbedryf. Daar was nie 20 jaar gelede werklik ’n mark daarvoor in Suid-Afrika nie. Graan SA het met die regering gepraat en laasgenoemde het toe inisiatiewe toegestaan waarmee perse opgerig is en ’n tarief is ook op ingevoerde sojaboon-oliekoek gehef.

“As ons soortgelyke samewerkingsooreenkomste kan vestig, sal Suid-Afrika ongetwyfeld oor 25 jaar voedselsekerheid met dubbel die huidige bevolking hê.”

Gaan tegnologie mense op plase vervang?

Jozeph glo hy het ’n maatskaplike en sosiale verantwoordelikheid om vir soveel moontlik mense werk te skep. Hy het 50 voltydse werkers wat met kleiner trekkers en implemente werk.

“Van ons werknemers is al derde of vierde geslagte op die plaas. Hulle word daagliks van en na Schweizer-Reneke vervoer, waar hulle woon, en ons help sommige van hulle om hul eie eiendomme in die dorp te bekom en te bou.”

Werknemers ondergaan deurgaans opleiding en vergoeding word op ’n prestasiebonusstelsel geskoei. Bonusse word aangepas op grond van die sukses van ’n betrokke jaar en elkeen word individueel beoordeel.

“In goeie jare is hier werknemers wat tot ses maande se salaris as aansporingsbonus verdien. Arbeidswette is streng en dis dikwels moeiliker om met mense as met masjiene te werk. Dit bly egter ’n beginselsaak vir ons.

“Ons het vanuit ’n geestelike oogpunt besluit om nie groot aalmoese vir liefdadigheid te gee nie, maar eerder meer werk te skep as wat ons probeer om met so min as moontlik mense reg te kom,” het Jozeph verduidelik.

Gaan iets soos hommeltuie dan nie eendag hierdie mens­like aspek vervang nie? “Daar is tegnologie wat arbeids­ver­vang­end is en ander wat produktiwiteit verhoog, sonder om arbeid te vervang. Solank arbeid bekostigbaar is, sal daar altyd plek wees vir mense.”

Hy is van mening dat Suid-Afrika meer werk op ’n sekon­dêre vlak kan skep met aanlegverwerkings. “Ons katoen word na China uitgevoer, waar klere gemaak en dan weer na Suid-Afrika ingevoer word. Ons kan dit mos self spin, weef en klere maak.”

Ten spyte van droogte, was die sojabone wat Jozeph in die 2011/2012-seisoen vir die eerste keer
geplant het, ’n reusesukses.

’n Man van ’n spesiale kaliber

Jozeph dien al 21 jaar op die raad van Graan SA en van Katoen SA, en is ook die voorsitter van die SA Katoenpro­du­sen­te-organisasie.

In 2021 was hy die wenner van die mielie-afdeling in Graan SA se Groei vir Goud-kompetisie in Noordwes, met ’n opbrengs van 12,47 t/ha.

Magda du Toit, ’n vryskutlandboujoernalis, het Jozeph as Landbouskrywers SA Noord se Boer van die Jaar in Noordwes benoem, omdat hy erkenning verdien “vir dit wat hy vermag in ’n produksiegebied wat met uitdagings besaai is.

“Alle produksiegebiede bied uitdagings, maar om in die droër weste van die land te boer, verg spesiale murg in jou pype. Jozeph het van daardie murg,” het sy gesê.

“Sedert ek Jozeph 24 jaar gelede leer ken het, het hy my beïndruk met die manier waarop hy met mense werk – kalm en geduldig – maak nie saak op watter vlak van die samelewing jy is nie.

“Ek beskou hom as ’n voorloper wat die gebruik van tegno­logie betref. Hy dra die belange van sy medeboere op die hart en volgens my is dit die rede waarom hy op die raad van Graan SA en Katoen SA dien, en waarom hy gekies is as voorsitter van die Katoenprodusente-organisasie, asook talle ander liggame waar hy as voorsitter of sameroeper dien.

“Hy sien ’n probleem, beredeneer dit en gaan soek dan ’n oplossing. Hy is bereid om sy kennis en oplossings met ander te deel. Al gaan dit hóé moeilik in die seisoen, Jozeph bly vashou aan sy geloof. Hoewel hy sal erken dit gaan swaar, bly hy vol hoop,” het Magda haar benoeming van Jozeph verduidelik.

Hy was aangenaam verras oor die benoeming. “Dit is ’n groot eer, want ek is saam met fantastiese boere genomineer. Ons sit self met baie goeie boere net in ons eie distrik.” Hy is nede­rig dankbaar vir die erkenning en voeg by dat dit net genade is. “Ons lewe en boer deur die Here se genade. Ons kennis kom van Hom af en ons eer Hom daarvoor.”

Jozeph het twee seuns en ’n dogter wat moontlik in die toekoms by hom op die plaas sal aansluit. Met ’n passie vir boerdery wat nog diep in Jozeph opvlam, het hy egter nie planne om binnekort af te tree nie en wil hy sy boerderybedryf verder verbeter.

Sy hoop vir die toekoms is dat Suid-Afrika as geheel vorentoe sal gaan en ’n beter toekoms vir al sy inwoners sal bied.

Tags: Jan/Feb 2025
Previous Post

Maak 2025 ’n skouspelagtige jaar

Next Post

Gee jou gewasse ’n hupstoot met topbemesting


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In