Daar is sedert 2021 bykans 300 katte van Lichtenburg Dierewelsyn op plase in NWK se bedieningsgebied hervestig. Rondloperkatte is egter ’n voortdurende probleem en dié dierewelsynsorganisasie doen opnuut ’n beroep op produsente om katte, wat uiters doeltreffend is om knaagdiere se getalle te beheer, aan te neem.
Wilde katte pas nie goed aan in geslote ruimtes nie en daarom probeer Lichtenburg Dierewelsyn om hulle sover moontlik op plase in die omgewing te vestig. Die aantal katte (300) is ’n bewys dat dié projek ’n reusesukses is. Die terugvoer van produsente is onder andere dat hul rotprobleme iets van die verlede is en dat die teenwoordigheid van katte by ’n stoor rotte en selfs slange weghou.

Die katte word vooraf gesteriliseer en produsente moet bloot gewillig wees om hulle van skuiling, kos en die nodige versorging te voorsien.
Anita Wandrag is ’n vrywilliger by Lichtenburg Dierewelsyn. Sy en haar suster, Esmé, word gereeld in die dorp gewaar waar hulle katte kos gee en ook vanghokke stel om hulle te vang en vir sterilisasies na veeartse te neem. Sy het onlangs katte aan Daan Roux, ’n produsent in die omgewing, oorhandig om op sy plaas te vestig. Die katte is egter deur sy suster se kinders “onderskep” en is nou geliefde huiskatte. “Ek het daardie katte lewendig verloor. Hulle is nie meer stoorkatte nie, maar huiskatte,” het hy laat weet en Anita vir nóg katte gevra om op sy plaas te vestig.
As jy ’n kat(te) wil aanneem, kontak gerus vir Anita by 083 336 3939.
