• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Thu, Nov 13, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Agri NW se topboer wys sy slag met Bovelders

Nicolene Smalman-Kotze, Redakteur

13 Nov 2025
in Nuus
Agri NW se topboer wys sy slag met Bovelders

William Harvey

Share on Facebook

Agri NW se Jong-boer van die Jaar vir 2025 is besig om groot welslae met ’n relatiewe onbekende beesras te behaal. William Harvey (39) boer sedert 2015 met Bovelders in die Piet Plessis-omgewing.

Bovelders is ’n saamgestelde ras, oorspronklik van die Vrystaat-omgewing, maar dié diere aard uitstekend in die geharde Kalahari-gedeelte van Noordwes waar William Harvey boer.

William se oorlede pa, Keith, het jare lank met Brahman-kruisings geboer, maar was op soek na ’n “rooi ras” waarvoor daar ’n groter aanvraag was. Die antwoord op pa en seun se soektog na die perfekte dier sou toe net “om die draai” wees.

Die soektog na ’n meer geskikte beesras

William se oupagrootjie is oorspronklik van Aliwal-Noord en het hom in 1910 in die Tlakgameng-omgewing gevestig. Keith het aanvanklik met grondboontjies geboer voor hy in 1981 ’n beesboerdery hier gevestig het. Hy en ses ander produsente het in 2000 nuwe lewe in die abattoir op Vryburg geblaas en dit ’n paar jaar lank help bestuur voor hy na die plaas teruggekeer het.

Voordat William ’n BAgric-graad in diereproduksiebestuur by die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, het hy in 2004 aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer. Ná sy studies is hy na Australië, waar hy ’n jaar lank op verskeie beesplase gewerk het. “Ek het baie geleer en is dankbaar vir dié goeie geleentheid en erva­ring wat ek opgedoen het,” sê William. Hierna het hy hom by sy pa op die plaas Uitzoek aangesluit en voltyds begin boer.

Hulle het begin navorsing doen oor ander beesrasse om mee te boer. “Ons het besluit ons moet ‘rooi’ gaan, want dis wat die mark soek,” verduidelik William.

Bonsmaras, Beef- en Droughtmasters het reeds goed in die Piet Plessis-omgewing gevaar. “Soos die Here dit wou hê, is een van my goeie vriende hier anderkant ’n Bovelder-teler. Hulle het reeds ’n paar bulle aangeskaf en by die Bovelder-studiegroep aangesluit.

“Hy het my eendag aangesê om kalwers vir die plaaslike vetveeskou in te skryf, wat hy vir my sou vetmaak. Ek en my pa het op hulle plaas aangekom en 90 van sy beste Bovelder-kalwers het in ’n kraal gestaan. Ek en my pa het vir mekaar gesê: ‘Dis presies waarna ons soek.’”

Dié vriend het die Harveys meer van Bovelders vertel en hulle saamgenooi na ’n telersveiling wat binnekort sou plaasvind. “Ons het gegaan en ons voete is onder ons uitgeslaan,” vertel William.

“Die Bovelder-studiegroep is fantasties. Hoe hulle dink en prakties met beeste boer … Alles wat hulle in beeste wou beklemtoon en voortbring, het ooreengestem met wat óns wou doen. Die fokus is op vrugbaarheid en doeltreffendheid. Ons het sommer net daar ons eerste vier bulle gekoop en nie weer teruggekyk nie.”

Die Bovelder is ’n relatiewe onbekende beesras, maar is ’n saamgestelde ras wat uitstekend by Agri NW se jongboer van 2025 aard.

’N SAMESTELLING VAN RASSE SE BESTE EIENSKAPPE

Volgens die Bovelder-studiegroep se webwerf het elf kommersiële beesprodusente van die Memel- en Warden-gebiede in die Vrystaat in 1978 oor die toekoms van hul onderskeie vleisbeeskuddes besin. Hulle wou teeldoelwitte daarstel wat ekonomies volhoubaar was en het suiwer- en kruisteling oorweeg, asook ’n saamgestelde ras (composite breeding).

Die groep produsente het onder leiding van verskeie wetenskaplikes die volgende teelbeginsels aanvaar:

  1. Die kombinasie van ’n reeks goed gekose rasse om ’n nuwe genepoel te vorm, lei tot verhoogde produktiwiteit en vinniger vordering met teling en seleksie.
  2. Gewenste eienskappe kan makliker deur infusie ingebring word deur middel van rasse wat sterk staan in daardie eienskappe, teenoor suiwerteling of seleksie binne die ras.
  3. Aangesien doeltreffende vleisproduksie die enigste doelwit is, behoort enige ras of raskombinasie wat ’n bydrae kan maak, gebruik te word.
  4. Kruisteling met suiwer rasse is voordelig, maar inge­wikkeld en kan tot ondoelmatige telingspraktyke lei.
  5. Deur moederkoeie te gebruik wat by jou plaas se toestande aangepas is, kan ’n groot mate van produktiwiteit in geskepte rasse opgestapel word.

Daar is gevolglik op ’n Taurus-Indicus-samestelling besluit, wat ’n Simmentaler-Sussex-kruis en ’n Afrikaner-Bonsmara-kruis insluit.

  • Taurus-beeste is van Europese oorsprong en is beter aangepas vir koeler klimaatstoestande. Hulle lewer beter gehalte vleis wat geur, marmering en sagtheid betref.
  • Die Indicus is vanaf Suid-Sentraal-Asië afkomstig, met groter ore en ’n korter pels, wat hulle meer geskik vir warm en droë klimaatstoestande maak.
William en sy vrou, Reinette, en hul vier kinders – Nathan (12), Haley (11), Caleb (9) en Abigail (6).

Waarom ’n Bovelder vir dié jongboer werk

Hulle het hul eie koeie as basiskoeie gebruik en elke jaar ’n bul of twee probeer bykoop. In 2017 het hulle huurkoeie uit die Vrystaat gekry, wat hulle bedryf ’n groot hupstoot gegee het. “Ons het van die vroulike diere vir onsself teruggehou en dit het baie gehelp,” verduidelik William.

Bovelders is nie by Stamboek SA geregistreer nie, maar William vind die studiegroep se leiding en insette van onskatbare waarde. “Ons kan beheer waarvoor ons soek en wat ons doen en dit werk uitstekend. Dit het ’n groter impak en is meer intiem.”

Hy en twee ander Bovelder-boere in die omgewing het ook hulle eie studiegroep (Molopo Bovelder-studiegroep) gestig om maandeliks inligting en wyshede met mekaar te kan deel. “Ons bemark, verkoop en koop sáám. Dit werk fantasties vir my en my boerdery,” voeg William by.

“As ek byvoorbeeld ’n oorwegende Indicus-trop het en ek soek meer Taurus-eienskappe, gaan soek ek bloot ’n bul wat oorwegend Taurus is om by my koeie te sit. Ons kan voortdurend ‘terugteel’ na waar ons wil wees.” Die Bovelder het ook goeie moeder- en melkeienskappe.

Hy en die twee ander lede van die Molopo Bovelder-studiegroep bied die afgelope agt jaar ’n boeredag op een van hulle se plase aan, waar hulle Bovelder-diere bespreek en bemark word. “Dit gaan regtig goed! Ses ander boere in die omgewing het Bovelder-bulle gekoop en begin nou na hierdie ras oorskakel. Ons nooi hulle om dan hulle Bovelder-kalwers saam met ons s’n te bemark.”

William Harvey is op 28 Augustus tydens ’n glansdinee by ATKV Buffelspoort as Agri NW se Jongboer van die Jaar aangewys.
Die Jongboerwenner saam met die twee finaliste teen wie hy vir die titel moes meeding: Hardus du Plessis van die Wolmaransstad-omgewing en David Pitout van Koster.

Boer so ná as moontlik aan die natuur

Keith is in 2016 aan kanker oorlede. William en sy gesin is daarom ingestel op ’n meer gesonde lewenstyl en probeer so organies en ná aan die natuur as moontlik boer.

Sy pa het reeds in 1991 grondboontjies van sy lande onttrek en borseltjiegras aangeplant. “My pa het altyd gesê jy ry nie kos agter ’n dier aan nie, jy ry die dier agter kos aan. Hier is net ’n paar boere wat saai en ons is ver van Vryburg en Stella af. Dis nie ’n opsie om voer te maak nie en dis baie duur om aan te ry.”

William se diere wei in die somer op die aangeplante weidings, waar hy hulle kan sien kalf, en in die winter word hulle in die boskampe ingejaag.

Hy pas hoëdrukbeweiding toe. Die boskampies is 10 ha groot, terwyl die aangeplante weidings in kampies van 5 ha verdeel is. “My troppe is lekker groot, so die diere word elke dag geskuif. Die hoeveelheid reën wat ontvang is, die tipe gras en die troppe beeste bepaal of ons hulle elke dag of eers elke derde dag skuif.”

Hy meen dit is belangrik dat daar ’n goeie balans tussen weidings- en beesbestuur is. “In die winter pas ons hoëdrukbeweiding meer intensief toe, omdat die kalwers klaar gespeen is en die koeie reeds by die bulle was. In die somer, wanneer hulle moet kalf, teel en kalwers grootmaak, probeer ons die troppe verklein om die beeste te bevoordeel.”

William beklemtoon dat die gras en beeste daagliks gemonitor moet word met ’n hoëdrukbeweidingstelsel. “Is ek te kwaai op die bees? Moet ek strenger wees op die weiding? Dit is wat ons plaaslike studiegroep só lekker maak. Ons kan by mekaar leer en mekaar raad gee.”

’n Jongboer wat ook swaarkry ken

Met Keith se afsterwe het William as direkteur van Harvey Cattle Ranch oorgeneem en was daar “slegte skuld” wat hy moes bestuur. Sy oupa, Willy, is ses maande later op 89-jarige ouderdom oorlede. Boonop was dit droë jare.

“My oupa het reënvalrekords sedert 1936 bygehou en nog vertel dat 2015/2016 die droogste jare van sy leeftyd was. Dit het my gedwing om ’n klomp beeste uit te skot. Tog het dit eintlik baie goed gewerk omdat ons na die Bovelder wou oorskakel. Ek kon ’n klomp diere wat nie aangepas was nie, verkoop om plek te maak vir die Bovelder.

“Dit was good with the bad. Dit was net die Here se genade wat ons gehelp het om elke keer op die regte tyd ’n plan te hê. Die gemeenskap het ons ook baie gehelp en bemoedig.”

William is met Reinette getroud. Sy het drama studeer en hulle het op universiteit ontmoet. “Die boer en die drama queen,” lag hy. “Dit kom egter nou goed tot sy reg. Sy help elke jaar met die konsert en redenaars by Laerskool Piet Plessis.” William is ook die ondervoorsitter van dié skool se beheerliggaam.

Buiten gras-gevoerde beesvleis, voorsien hulle ook braaikuikens, wat vry is van groeistimulante
of -hormone, aan die nabye mark. William het ook onlangs byekorwe gevestig om die gesondheidsvoordele van heuning te ontgin.

NWK het William met ’n LekkeSlaap-koopbewys bederf. Saam met hom en die finaliste is Johan Bezuidenhout (groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK).

Georganiseerde landbou sterk dié boer se hand

William het reeds saam met sy pa vergaderings van die plaaslike boerevereniging bygewoon en in 2010 by dié van Tlakgameng aangesluit. Hy het van 2012 tot 2022 as die sekretaris gedien.

Hy is deur Leo Roets, wat ook met Bovelders boer, genomineer om vir Agri NW se Jongboerkompetisie in te skryf. “Ek is nie spyt nie. Dit was ’n wonderlike geleentheid en ervaring. Al die aandag is wel oorweldigend! My teenstaanders is fantastiese boere en ek het nie verwag om te wen nie.”

Die nasionale jongboerwenner sou op 26 November aangekondig word en teen druktyd was die uitslag nog onbekend.

Beoordelaars van die nasionale kompetisie het William op 25 September op sy plaas besoek. “Dis ’n uitdaging, maar bied ’n goeie geleentheid om jou karakter en boerdery op te bou. Jy kan sien of jy op die regte pad is en watter areas werk kort.”

Hy moedig ander jongboere aan om ook by hulle plaaslike boereverenigings betrokke te raak. “Veral ons hier in die verre weste sien nie altyd alles wat georganiseerde landbou doen nie, omdat ons ver van alles af is. Dit was lekker om op Agri NW se jaarkongres meer te sien en te hoor van die goeie werk wat hulle doen.

“Ek wens almal kon die kongres se tema, ‘Ons moet self’, hoor en ter harte neem. Baie doen dit al deur hulle eie paaie te skraap. Ons moet self, maar ons kan ook nie self sonder strukture soos Agri NW nie. Hulle baklei vir ons daarbo sodat ons dit self kan doen.

“Die enigste manier om ons land te verbeter, is om in te spring en te help om daardie ouens se hande sterker te maak. Moenie jou gemeenskap of buurman vergeet nie. Raak betrokke!”

William beoog om in die komende jare die huurkoeie op sy plaas te verminder en alle skuld te delg. “Ek bedryf ’n familie­boerdery waarvan my twee susters en ma steeds deel is. Ek is net die direkteur van die maatskappy en sal graag eendag hulle erfdele vir hulle wil gee.

“Ek wil ook vir my twee seuns die geleentheid bied om eendag saam met my te kan boer, indien hulle wil.”

Bron

Bovelder. (n.d.). Studiegroep – About. Available at: https://bovelder.co.za/Studiegroep-About.htm (3 Oktober 2025)

Tags: Nov/Des 2025
Previous Post

Jongboere kyk terug op ’n jaar vol hoogtepunte

Next Post

Take the courage to pause

Recommended

Landbou vandag

Landbou vandag

13 Nov 2025
Praktiese riglyne vir die 1ste tree in boerdery

Praktiese riglyne vir die 1ste tree in boerdery

13 Nov 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 Nov 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Landbou vandag

Landbou vandag

13 Nov 2025
Praktiese riglyne vir die 1ste tree in boerdery

Praktiese riglyne vir die 1ste tree in boerdery

13 Nov 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 Nov 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In