• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Tue, Jan 20, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Dinamiese vennoot

Agri Securitas sal kan doen met ’n miljoen danksy ysters se swoeg en sweet

Nicolene Smalman-Kotze, Redakteur

20 Jan 2026
in Dinamiese vennoot
Agri Securitas sal kan doen met ’n miljoen danksy ysters se swoeg en sweet

Deelnemers aan en ondersteuners van die Ysters vir Landbou-inisiatief ten bate van Agri Securitas. Foto’s: Luné White, tensy anders vermeld

Share on Facebook

Dinamiese vennoot

Ses nulle! NWK het sy doel om R1 miljoen vir Agri Securitas met sy deelname aan die Ysterman op Mosselbaai verlede jaar in te samel, bereik.

Ysters se deelname

Sewe solo-deelnemers en 12 aflosspanne het op 16 November vir die Isuzu Ironman 70.3-kompetisie as deel van die Ysters vir landbou-inisiatief ten bate van Agri Securitas aangetree.

Die dag was egter nie sonder sy uitdagings nie. Een van die ses solo-deelnemers het nie die uitdaging voltooi nie.

Marisa Meiring, ’n makelaar by NWK4Sure Makelaars, het in ’n aflosspan geswem. Sy het ’n hartstilstand in die see gehad en is deur lewensredders uit die water gehaal voordat ’n dokter en paramedici haar geresussiteer het. Die fietsryer en hardloper in haar span, kon gevolglik nie met hulle items begin nie. Sy behoort egter na verwagting volkome te herstel.

Die fiets van ’n fietsryer in ’n ander aflosspan het op 43 km on­klaar geraak en dié span se hardloper kon ook nie met haar item begin nie.

Die tien ander aflosspanne het die eindstreep gehaal en die span van Hoërskool Lichtenburg (Rhodé Snyman, Ollie Moremi en Dijan de Waal) het selfs ’n plek op die podium behaal deurdat hulle ’n tweede plek in die gemengde afdeling en ’n derde in die ope spanne verwerf het.

Van die swemmers voor hul die koue seewater aangedurf het.

“Kan nie” bestaan nie

NWK se groephoof- finansiële beampte, Alf White, was die meesterbrein agter die Ysters vir Landbou-inisiatief. Hy het in 2023 ’n soortgelyke inisiatief ten bate van Nika Capital aangepak en wou hierdie jaar iets aanpak wat bewusmaking oor boere se veiligheid sou skep. “Deur ’n georganiseerde struktuur soos Agri Securitas kan ons seker maak dat die regte ondersteuning, vaardighede en fondse tot landbou­ers se voordeel ontsluit word,” het hy verduidelik.

Verskeie bemarkingsveldtogte is onderneem om die breë gemeenskap en veral NWK-klante aan te moedig om bydraes te maak. Dis grootliks op die aanlyn platform, GivenGain, gedoen.

Elke deelnemer aan die Ysters vir Landbou-inisiatief moes aktief fondse werf en betalings kon by elkeen van hulle se profiel op GivenGain gemaak word. Bietjies-bietjies maak meer en klante kon deur so min as R5 by hul transaksies by enige NWK Retail-winkel of NWK-vulstasie te voeg, tot Agri Securitas bydra. Hiermee is sowat R9 200 ingesamel.

“Die droom is in November 2024 gebore en ’n klein groepie het skepties en entoesiasties begin bou aan ’n plan om aan die Ysterman in Mosselbaai te gaan deelneem en R1 miljoen vir Agri Securitas in te samel,” het Alf uitgebrei.

“Elkeen moes spreekwoordelik ‘put your money where your mouth is’ en ’n kontrak onderteken waarvolgens hulle persoonlik pa sou moes staan indien hul teikens nie behaal sou word nie.

“Aan die begin van 2025 het dit steeds net soos ’n droom geklink, maar die groepie het stadig begin oefen en mekaar probeer inspireer. Meer en meer mense het later betrokke geraak en uiteindelik het meer as 30 ondersteuners die deelnemers na Mosselbaai vergesel – geklee in hul ‘Ysters vir Landbou’ T-hemde om verdere bewusmaking te kweek.”

Alf het ’n veeleisende beroep en moes boonop ondanks siekte en beserings fiks bly. “Ons was dalk net 43 atlete wat weggespring het, maar daar was duisende ysters vir landbou – van die R5-skenkers, diegene wat op 12 September aan die aflos-uitdaging deelgeneem of op GivenGain bydraes gelewer het, tot die geleentheid se koördineerders en ondersteuners.

“Hierdie mense het my persoonlik geïnspireer om, ten spyte van uitdagings by die werk, gesondheidspro­bleme en beserings wat ek opgedoen het, steeds aan te hou en deur te druk, nie net met my voorbereiding nie, maar tydens die Ysterman self.

Hy het kort voor sy deelname gesê: “Jy vra jouself af of jy genoeg geoefen het. Ek het my kinders van kleins af geleer ‘kan nie’ bestaan nie en ek probeer dit altyd demonstreer met wat ek aanpak.

“Daar is baie op die spel en ek kan nie sê: ‘Ek kan nie’. Ek is senuweeagtig maar kan ook nie wag om deel te neem nie!”

Hy het ná afloop van sy deelname laat hoor: “Wat ’n ervaring! Die hele dag was net ongelooflik. Almal langs die pad wat jou ondersteun en aanmoedig – sonder hulle sou ek nie kon klaarmaak nie. Die swem was rof – die ergste wat ek nog in die see ervaar het. Ek is styf en beweeg soos ’n ouman, but we did it!”

Alf erken: “Ek hét soms die gedagte gekry om op te gee, maar ek het aangehou omdat daar soveel mense was wat saam geglo en gewerk het om dit moontlik te maak. Ek het opnuut besef dat dit mense is wat die lewe die moeite werd maak.”

Die terugvoer wat hy na afloop van die Ysterman van ander deelnemers ten bate van die inisiatief gekry het, maak hom nederig dankbaar. “Ek was sommer ’n bietjie emosioneel omdat ek tóé besef het dat dit werklik iets vir iemand anders beteken en waarde tot hul lewens gevoeg het.”

Hy is hoopvol dat die bydrae tot Agri Securitas ’n daadwerklike verskil aan mense se veiligheid op die platteland sal maak. Die geld sal vroeg vanjaar aan Agri Securitas oorhandig word. ’n Datum was teen die tyd van publikasie nog nie vasgestel nie.

Alf White, die meesterbrein agter die Ysters vir Landbou-inisiatief, met sy medalje.

Raad van ’n Ysterman

Alf se raad aan ander wat poog om ’n groot doelwit soos deelname aan ’n Ysterman te bereik, is:

  • Glo in jou droom. Dit moet realisties en moontlik wees om te bereik, maar is nie noodwendig maklik nie.
  • Stel ’n plan op om jou doelwit te bereik. Dit moet aanpasbaar wees as veranderende omstandighede dit vereis.
  • Dit verg dissipline om by bogenoemde plan te hou. Moenie tou opgooi as dit moeilik raak nie!
  • Verleen hulp aan ander wat saam met jou na ’n doel werk en vra ook hulp as jy sukkel. Sáám kan ons meer bereik!
Louis du Toit vind sy naam tussen dié van ander deelnemers op ’n beeld van die Ysterman-logo by die
Ysterman-ekspo in Mosselbaai.
Alle deelnemers moes ’n identifikasieband om hul
gewrigte gedra.

Ysters brei uit oor hul ervaring

Pieter van der Merwe, besturende direkteur van Bastion: “My fiets het net ná die halfpadmerk gebreek en ek kon dit nie regmaak nie. Ten spyte van maande se oefening, kon ons nie die wenstreep bereik nie.

“Dis seker maar die lewe. Jy beplan, werk en doen jou deel, en dan kry jy ’n dwarsklap. Jy moet dan besluit of jy in ’n hoekie gaan sit en sulk, of die hou op die ken vat en weer aangaan. Ek dink dis wat dikwels in landbou gebeur. Boere beplan en as die reën nie kom nie of dit reën te veel, dan sukkel hulle ook en voel mismoedig.

“’n Mens moet glo en vertrou. Dit was lekker om deel te wees van die span en die fondsinsameling was steeds vir ’n goeie doel. Daaroor is ek bly en trots daarop.”

Sanrie Adlam, operasionele bestuurder van NWK Finansies: “Ek het deelgeneem vir ’n doel wat my baie na aan die hart lê – om fondse in te samel vir Agri Securitas, ’n organisasie wat boere help om veilig op die plase te bly.

“Vir my as iemand wat in die landbousektor werk, is dit eenvoudig: Sonder veilige boere het ons geen landbou, geen toekoms en geen besigheid nie. ’n Groot dankie aan Alf, die meesterbrein agter hierdie inisiatief. Jou visie en dryfkrag inspireer my. Op ’n persoonlike noot het ek hierdie uitdaging ook vir my drie dogtertjies gedoen. Ek wou vir hulle wys jy kan enigiets bereik as jy hard werk, vasbyt en jou oog op die doelwit hou.”

Jaco du Preez, NWK-direksielid: “Dit was lekker om deel te neem en deel van die fondsinsameling te wees. Dit het my gemotiveer om weer aan die hardloop te kom. Ek het Februarie begin oefen en dit was bietjie van ’n gesukkel omdat ek vir lank nie gehardloop het nie.

“Ek is ’n lid van die Klippan Boerevereniging en Agri Securitas het ons gehelp om kameras op te sit, wat grootliks bydra tot sekuriteit in die omgewing en help om misdaad te verminder. Dit is daarom belangrik om ook ’n bydrae daarvoor te lewer.”

Lizandri Horn, graanverhandelaar by NWK: “Die grootste rede vir my deelname was om ’n voorbeeld te wees vir Lichtenburg se jeug. Ek is betrokke by ‘Hart­klop’, waar ons hulle meer oor Jesus leer.

“Ek het gedink dit kan ’n goeie voorbeeld stel van hoe om jouself uit te leef, betrokke te raak en ’n voorbeeld vir ander te wees. Wat ook al die Here op jou hart druk – hetsy om deel te wees van die Ironman-span, ander van Jesus te vertel of om net vir iemand ’n sjokolade te gee.”

’n Noue ontkoming

Marisa vertel van haar ervaring: “Ek sal nooit die oomblik vergeet toe my hart skielik opgehou klop het tydens die Ironman se swemgedeelte nie. Ek het met ’n doel in die water ingegaan – nie net om myself te toets of om my vrese te oorwin nie, maar om iets groter as myself te dien.

“Hierdie poging was vir my ’n manier om fondse in te samel vir die veiligheid van ons boere – ’n saak wat my ná aan die hart lê. Elke slag van my arms, elke asemteug was vir húlle – vir die mense wat elke dag die grond van ons land omdraai en dikwels in onsekerheid leef.

Marisa Meiring

“Maar toe, onverwags en brutaal, was my eie lewe in gevaar. Een oomblik was ek vasgevang in die ritme van die swem, die volgende was daar niks nie, net stilte en duisternis wat my probeer wegtrek het. En tog, juis dáár, in die broosheid van daardie grens tussen lewe en dood, het ek die grootste genade beleef.

“My Ysters vir Landbou-spanlede en die reddingspan het soos ware helde opgetree. Vreemdelinge het hulself in gevaar gestel om my veilig uit die water te kry, asof ’n onsigbare Hand hulle gelei het. En toe my werksmense opdaag, nie net as kollegas nie, maar as familie met gebede en vrees in hul oë, met hande wat my vasgehou het asof hulle my terug wou anker in die lewe …

“In daardie oomblik het ek besef: Werk is nie net ’n plek van rekeninge en verantwoordelikhede nie – dit is ’n plek waar liefde in mense se harte groei, waar lojaliteit sterker as bloed kan voel.

“God se genade het my deur die donker getrek en my weer lig laat sien. Ek het nie net ’n tweede kans gekry nie, ek het ’n hernude waardering gekry vir die mense om my, vir die taak wat ek wou verrig, en vir die doel waarvoor ek die Ysterman aangepak het.

“My poging om ons boere se veiligheid te ondersteun het ’n dieper betekenis gekry: Ek leef nog sodat ek steeds kan gee, steeds kan dien en steeds kan liefhê.

“Elke asemteug is vandag vir my ’n getuienis: God is goed, mense is kosbaar en niks wat uit die hart kom, gaan ooit verlore nie.”

Tot die voertuie het die storie vertel.
Tags: Jan/Feb 2026
Previous Post

Bekamp grondversuring met landboukalk

Recommended

Agri Securitas sal kan doen met ’n miljoen danksy ysters se swoeg en sweet

Agri Securitas sal kan doen met ’n miljoen danksy ysters se swoeg en sweet

20 Jan 2026
Bekamp grondversuring met landboukalk

Bekamp grondversuring met landboukalk

20 Jan 2026
Approach 2026 with a new mindset

Approach 2026 with a new mindset

9 Jan 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Agri Securitas sal kan doen met ’n miljoen danksy ysters se swoeg en sweet

Agri Securitas sal kan doen met ’n miljoen danksy ysters se swoeg en sweet

20 Jan 2026
Bekamp grondversuring met landboukalk

Bekamp grondversuring met landboukalk

20 Jan 2026
Approach 2026 with a new mindset

Approach 2026 with a new mindset

9 Jan 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In