
Noordwes se polisie het nog geen direktief ontvang waarvolgens hulle versoek word om padblokkades te hou in die stryd teen bek-en-klouseer (BEK) nie. Dié staatsbeheerde siekte het krisisafmetings hier, asook in Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal aangeneem.
NWK het op 15 Januarie ‘n BEK-inligtingsdag by Du Preez Prag buite Lichtenburg aangebied waar produsente gepleit het dat die vervoer van vee deur die polisie en weermag gemonitor moet word. Hulle eis ondermeer dat die nodige vervoerpermitte, wat diere se oorsprong en BEK-status moet weerspieël, nagegaan word.
“Ons het die stasiebevelvoerder by ons boerevereniging se vergadering gehad. Hy kon egter nie eens sê wat hulle (die polisie) se pligte in hierdie verband is nie!” het een van die produsente wat die geleentheid bygewoon het, opgemerk.
Nóg ‘n produsent het bygevoeg: “Ons het al verskeie versoeke vir padblokkades gerig, maar daar word telkens gesê hulle wag vir ‘n nasionale opdrag om voertuie te kan stop en die relevante papiere aan te vra.”
NWK Arena het by ‘n ingeligte bron verneem dat die polisie inderdaad sal wag vir ‘n amptelike opdrag en/of versoek van ‘n staatsinstelling, soos die landboudepartement, om padblokkades vir hierdie doel te hou. “Hierdie opdrag sal dan vanaf die nasionale kantoor na die betrokke provinsies gekommunikeer word,” het die bron gesê.
Die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, het teen die tyd van publikasie nog op terugvoer in dié verband gewag.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Sam Tselanyane, het egter by navraag bevestig dat Noordwes nog geen só ‘n versoek van die departement ontvang het nie.
Dis oorlog!
Boerderye bevind hulle tans in ‘n oorlog wat sekeres van hulle nie gaan oorleef nie.
Danie de Villiers, ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in Noordwes (NWRPO) het by die inligtingsdag dié opmerking gemaak met verwysing na BEK.
“Ek is nie positief dat ons dit binne tien jaar sal stuit nie,” het hy bygevoeg. Teen verlede Donderdag is 65 geografiese gevalle deur staatsveeartse in Noordwes bevestig. Negentien hiervan was in Potchefstroom en 17 in Ventersdorp.

Die geleentheid is toegespreek deur veeartse in die privaat- en staatsektor, ‘n dag nadat die minister van landbou, John Steenhuisen, die media toegespreek het oor ‘n aksieplan wat die regering gaan implementeer in ‘n poging om die siekte hok te slaan.
Die grootste troefkaart teen dié siekte, wat ekonomiese verliese van miljarde rande meebring en nou selfs voedselsekerheid bedreig, is inenting.
Die staat het egter nie die vermoë om entstowwe op eie bodem te vervaardig nie. Daar is verlede week, kort na Steenhuisen die media toegespreek het, aangekondig dat die private Suid-Afrikaanse entstofvervaardiger, Design Biologix, as die alleenagent aangewys is om die Argentynse maatskappy, Biogénesis Bagó, se entstof teen die siekte, in te voer.
Wanneer presies hierdie entstowwe egter beskikbaar sal wees, is nog onseker.
Bepaalde gebiede in provinsies is volgens belangrikheid as primêr, sekondêr en tersiêr geklassifiseer en inentings sal daarvolgens geskied.
Dit versprei soos ‘n veldbrand
Volgens een van die sprekers by die inligtingsdag, dr Shaun Morris, word meer as 100 gevalle van BEK tans per dag aangemeld. Hy is ‘n veearts, voerkraalspesialis en lid van die ministeriële taakspan vir BEK.
“Die effek op veral melkkoeie en varke is vernietigend. Ons sien dat varkies binne twee dae nadat infeksie uitgebreek het, vrek.”

Hy het gesê dat die BEK-virus floreer in humiede toestande, soos in KwaZulu-Natal. Dr David Gerber, hoof- uitvoerende beampte van Dunevax Biotech, het bygevoeg dat inentings daarom eerste in hierdie provinsie moet geskied.”
Bekommerde produsente wou by Morris weet wat hulle kan doen om die verspreiding van die siekte te bekamp terwyl hulle op die entstowwe wag.
“Die beste manier om jou kudde te beskerm is om die status (van BEK) van buurplase te ken en jou eie biosekuriteitsmaatreëls in plek te hê.”
Hy het gewaarsku dat die virus tot 96 uur lank op klere kan bly leef en het produsente aangeraai om aparte wasserye vir arbeiders se klere te vestig.

Dr Langa Madyibi, direkteur van veeartsenykundige dienste by Noordwes se departement van landbou, het bygevoeg dat arbeiders wat tussen plase beweeg, tot die verspreiding van die siekte bydra.
“Sitroensuur is ‘n kontakdoder en baie doeltreffend in voetbaddens. Sorg dat alle besoekers aan jou plaas hierdeur loop,” was Shaun se raad.

Streng kontrole is nodig
Produsente wou weet hoekom hulle, in ag genome die dringendheid daarvan, nie entstowwe teen ‘n meer kompeterende prys kan bekom en self toedien nie.
“Ons moet dit een stap op ‘n slag neem. Dit bly ‘n beheerde siekte. Daar kan nie toegelaat word dat ‘n produsent entstof by die koöperasie koop, dit op sy voertuig se dashboard sit en eers in ‘n kroeg gaan sit en gesels voor dit toegedien word nie,” het Shaun verduidelik.
“Soos wat die inentingsprogram momentum kry en meer vertroue ingeboesem word, sal daar ‘n tyd kom wanneer boere self kan inent,” het hy bygevoeg.
Dieregesondheidstegnici sal veeartse hiermee bystaan en rekords streng byhou.
Tree op teen die sondebokke
Shaun het voorbeelde genoem van waar verdagtes wat doelbewus besmette diere vervoer het, skotvry daarvan afgekom het en vir strenger optrede gevra.
“Gebruik die hulpmiddels tot julle beskikking, soos plaaskameras. Julle het ‘n boeregroep – stop voertuie en vra (bestuurders) vir die nodige papiere. Julle het ‘n skut. As ‘n bees siek lyk … Skut daai beeste!”
‘n Produsent het egter in reaksie hierop opgemerk dat hulle dit nie sal kan waag nie, omdat “hulle plase sal brand”.
Volgens Shaun het hulle nou ook vrektes weens BEK onder koedoes, rooibokke en nyalas waargeneem.
Produsente het hul kommer uitgespreek oor die gebrekkige verteenwoordiging vanuit die wildbedryf op ministeriële vlak, waarop Shaun bygevoeg het dat individue wat op die nodige strukture dien, waarskynlik binnekort hiervoor genomineer sal word.






