
Produsente wag tans in spanning op entstof teen bek-en-klouseer (BEK), wat na verwagting eers teen einde Maart in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. Die siekte het krisisafmetings in Noordwes, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Vrystaat aangeneem, met vrektes wat selfs onder wild soos koedoes, nyalas en rooibokke aangemeld word.
Buiten vir goeie biosekuriteitsmaatreëls op plase, kan produsente ook op goeie voeding steun wat diere se immuunsisteme versterk en ʼn mate van beskerming bied.
Daar is tans geen volledig nagevorsde en bewese behandeling wat diere ná infeksie van BEK genees nie. Soos met die meeste virale infeksies, is behandeling hoofsaaklik ondersteunend van aard en daarop gemik om die dier se immuunstelsel te help om die infeksie te beveg en herstel te bevorder.
Kliniese tekens en voedingsuitdagings
Besmette diere toon tipiese gedragsveranderinge soos depressie, hangende koppe en ore, verhoogde lêtyd, isolasie van die trop, verminderde voerinname en minder sosiale interaksie. Die mees kenmerkende simptome van BEK is pynlike blase en sere op die tong, mond en hoewe, wat vreet en beweiding ernstig bemoeilik.

Ten spyte van hierdie uitdagings speel voeding ’n kernrol in die ondersteunende sorg van diere wat aan BEK ly. Die voorsiening van hoë gehalte, smaaklike voer met ’n korrekte voedingsamestelling ondersteun die immuunstelsel en voorsien noodsaaklike boustene vir nuwe liggaamselle, teenliggaampies en weefselherstel.
Verskeie internasionale studies, hoofsaaklik uit lande waar BEK endemies voorkom, dien as grondslag vir die voedingsbeginsels wat in hierdie artikel bespreek word, met die doel om relevante en betroubare inligting aan produsente te verskaf.
Voeding

KONSENTRASIE VAN VOEDINGSTOWWE
Een van die belangrikste aspekte van kliniese voeding vir BEK-geaffekteerde beeste is die beduidende afname in voerinname. Anoreksie of selfs totale staking van vreetgedrag kan voorkom as gevolg van pyn veroorsaak deur die siektetoestand en hierdie diere vrek dikwels weens honger. Dit is daarom noodsaaklik dat die voer wat aan siek diere aangebied word hoogs smaaklik en ryk aan gekonsentreerde voedingstowwe is.
Die doel is om die maksimum moontlike hoeveelheid noodsaaklike voedingstowwe per eenheid voer aan die dier te voorsien. Indien die dieet onvoldoende is, sal die dier liggaamsreserwes mobiliseer om die immuunrespons te onderhou, wat tot kondisieverlies en verdere produksieverliese kan lei.
VORM VAN VOER

Weens die teenwoordigheid van mondsere word sagte, fynverwerkte voer verkies. Beeste wat aan BEK ly, is nie geskik vir beweiding nie as gevolg van seer hoewe, algemene swakheid en die onvermoë om groot afstande af te lê. Daarbenewens is isolasie van siek diere in groot weidingskampe onprakties.
’n Doeltreffende oplossing is kraalvoeding met toepaslike ruvoer. Green chop of vars groenvoer wat meganies verwerk is, word verkies bo droë hooi. Waar groenvoer nie beskikbaar is nie, kan kuilvoer of sagte, fyn hooi soos tef gebruik word.
SMAAKLIKHEID VAN DIE RANTSOEN
Sout en ureum kan pyn veroorsaak wanneer dit met oop mondsere in aanraking kom, wat die smaaklikheid van voer negatief beïnvloed. Alhoewel hierdie voedingstowwe noodsaaklik is (sout vir elektrolietbalans en metaboliese funksies, en ureum as ’n belangrike stikstofbron) vir rumenmikrobiese fermentasie, moet dit nie sonder deeglike oorweging uit ’n rantsoen verwyder word nie.
Dit is raadsaam om ’n gekwalifiseerde voedingkundige te raadpleeg voordat enige voedingskomponente onttrek of aangepas word.

FERMENTEERBARE KOOLHIDRATE
Fermenteerbare koolhidrate voorsien vinnig beskikbare energie wat noodsaaklik is vir ’n doeltreffende immuunrespons en verbeter ook die smaaklikheid van voer. Bronne sluit onder andere hominy chop, graan en melasse in. Hierdie bestanddele moet egter met omsigtigheid gevoer word, aangesien oormatige inname ’n skielike daling in rumen-pH kan veroorsaak, wat die siektetoestand kan vererger.
PROTEÏENBRONNE
Proteïene is noodsaaklik vir die vorming van teenliggaampies, witbloedselle en die herstel van beskadigde weefsel. Dit is ook noodsaaklik vir die instandhouding van produksieprosesse, selfs tydens siekte.
VERBETERDE PROTEÏEN- EN ENERGIEBENUTTING
Verbeterde proteïen- en energiebenutting tydens rumenfermentasie ondersteun ’n gesonde rumenmikrobioom. Dit dra by tot ’n vinniger herstel van eetlus en verbeterde benutting van ruveselbronne, wat uiteindelik die herstelproses versnel.
MAKRO- EN SPOORMINERALE
Makrominerale soos kalsium en fosfor is noodsaaklik vir verskeie metaboliese prosesse, insluitend immuunfunksie. Spoorminerale speel ’n kritieke rol in wondgenesing en die vermindering van oksidatiewe stres.
Sink bevorder vel- en wondherstel, terwyl koper, chroom, mangaan en seleen belangrik is vir antioksidantverdediging en algemene genesingsprosesse.
BYMIDDELS
Bymiddels soos vitamiene, minerale, antioksidante, ensieme en sekere medikasies kan via die dieet voorsien word. Onvoorspelbare voerinname tydens siekte kan egter beteken dat diere nie altyd voldoende hoeveelhede inneem nie, wat die doeltreffendheid van hierdie strategie kan beperk.
Samevatting
Alhoewel die meeste beskikbare studies in Indië uitgevoer is, hoofsaaklik op beeste besmet met die serotipe O-vorm van die BEK-virus, bly die bevindinge relevant en toepaslik. Studies toon konsekwent dat korrekte voedingsaanvulling tydens infeksie lei tot vinniger herstel, minder ernstige simptome en verminderde produksieverliese.
Produsente word aangeraai om tydens BEK-uitbrekings nou saam met ’n voedingkundige te werk om ’n geskikte, plaas-spesifieke dieet te formuleer wat die herstel en welstand van aangetaste diere optimaal ondersteun.
Bronnelys
Somagond A, Manjunatha Patel BH, Pattanaik AK, Krishnaswamy N, Mahadappa P, Singh M., Gaur GK & Dutt T. (July 2024). Evaluation of feeding different forms of therapeutic diet on the feed intake, digestibility, feed efficiency, and growth of calves experimentally infected with foot-and-mouth disease virus. Veterinary Research Communications, Springer
Somagond A, Manjunatha Patel BH, Pattanaik AK, Verma MR, Dutt T & Bhanuprakash V (April 2022). Feeding behaviour of foot-and-mouth disease (FMD) infected Holstein Friesian crossbred calves offered a therapeutic diet. Indian Veterinary Research Institute (IVRI), Bengaluru, India
Yusuf A, Sutaryono S, Hidayat Dilaga S, Dahlanuddin D, Suhubdy S, Putra RA, Sukarne S, Dradjat Santoso A & Supriadi D. (March 2025). Nutrient-rich feed supplementation accelerates recovery of body condition and increases calf birth weight in Bali cattle affected by foot-and-mouth disease. Faculty of Animal Science, University of Mataram, Mataram, Indonesia. Journal of Advanced Veterinary and Animal Research






