
Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (www.sabric.co.za) is kubermisdaad ’n vinniggroeiende sosio-tegniese kwessie wat na verwagting in die toekoms konvensionele finansiële misdade sal oortref. Dit is omdat kubermisdaad in ’n virtuele wêreld plaasvind, wat dit toelaat om tyd en fisiese grense te oorskry. Boonop vergemaklik die internet se gerief en anonimiteit die pleging van hierdie misdade.
Kubermisdaad behels onder andere ongemagtigde toegang tot toestelle, identiteitsdiefstal en die diefstal van aanlyn bankinligting. Dit is dus belangrik om stappe te neem om jouself teen hierdie tipe misdade te beskerm, aangesien die gevolge daarvan ingrypend kan wees.
Diefstal van aanlyn bankinligting
Op 7 Maart 2024 het ’n volbank van drie regters in die Vrystaatste Hooggeregshof ’n uiteensetting van die regsposisie rondom die diefstal van aanlyn bankinligting gegee in Mosselbaai Boeredienste (Edms.) Beperk, handeldrywend as Mosselbaai Toyota, versus OKB Motors BK, handeldrywend as Bultfontein Toyota [2024] ZAFSHC 34.
Die feite van die saak is kortliks soos volg: Mosselbaai Toyota (die eiser) het aksie ingestel teen Bultfontein Toyota in die Bultfontein Landdroshof vir die betaling van R159 353,76, rente en regskoste, op sterkte van ’n mondelinge ooreenkoms met die volgende materiële bepalings:
- Mosselbaai Toyota verkoop ’n voertuig aan Bultfontein Toyota vir die koopprys van R159 353,76.
- Die koopprys is betaalbaar teen lewering van die voertuig aan Bultfontein Toyota.
Die voertuig is op 8 Februarie 2018 aan Bultfontein Toyota gelewer, met die oorspronklike faktuur vir die koopprys daarmee saam. ’n Kopie van die faktuur is op 7 Februarie 2018 per e-pos vanaf ’n amptelike Mosselbaai Toyota e-posadres aan Bultfontein Toyota gestuur.
Beide die oorspronklike faktuur en ’n afskrif daarvan het Mosselbaai Toyota se werklike bankbesonderhede bevat. Mosselbaai Toyota beweer dat die koopprys nie soos ooreengekom betaal is nie, dat Bultfontein Toyota kontrakbreuk gepleeg het, en dat die koopprys opeisbaar en betaalbaar is.
Dit blyk egter dat Mosselbaai Toyota die slagoffer was van sogenaamde e-mail spoofing, deurdat die e-pos met die faktuur se afskrif in die kuberruim onderskep is en die bankbesonderhede op die afskrif daarna gewysig is. Hierna is die e-pos met die gewysigde afskrif van die faktuur aan Bultfontein Toyota gestuur.
Bultfontein Toyota beweer dat betaling van die koopprys wel gemaak is:
- Hulle het ’n afskrif van die faktuur per e-pos vanaf Mosselbaai Toyota ontvang, wat sekere bankbesonderhede bevat het.
- Hulle het die koopprys by wyse van ’n elektroniese oorplasing na die bankrekening wat op die faktuur se afskrif verskyn het, betaal.
- Mosselbaai Toyota of sy verteenwoordiger het deur die versending van die faktuur se afskrif minstens nalatiglik voorgegee dat die bankbesonderhede daarop korrek is, en Bultfontein Toyota het aanvaar dat dit korrek is.
- Mosselbaai Toyota kan gevolglik nie daarop steun dat betaling in die verkeerde bankrekening gemaak is nie.
- Betaling in die verkeerde bankrekening was die gevolg van nalatigheid aan die kant van Mosselbaai Toyota.
Bultfontein Toyota se verteenwoordigers was egter bewus van ’n omsendskrywe wat Toyota Suid-Afrika in November 2017 aan alle Toyota-handelaars gestuur het, waarin handelaars teen bedrieglike aktiwiteite gewaarsku is, insluitend dat bankbesonderhede op fakture verander word.
Hulle het onder kruisondervraging toegegee dat hulle die bankbesonderhede telefonies moes bevestig om te verseker dat betaling na die korrekte rekening geskied, maar dat hulle dit nie gedoen het nie.
Ná die aanhoor van getuienis het die hof die volgende bevinding gemaak:
- Bultfontein Toyota kon nie nalatigheid aan Mosselbaai Toyota se kant bewys nie.
- Selfs indien Mosselbaai Toyota nalatig was, was dit nie die oorsaak van die skade nie.
- Bultfontein Toyota was nalatig weens hulle versuim om die korrektheid van die betrokke bankbesonderhede te bevestig, onder omstandighede waar hulle gemaan is om dit wel te doen.
- ’n Enkele telefoonoproep sou voldoende wees om die korrektheid van die bankbesonderhede te verifieer.
- Bultfontein Toyota se eie nalatigheid was die oorsaak van betaling in die verkeerde rekening.
- Bultfontein Toyota is aanspreeklik vir betaling van die koopprys, met rente daarop, en Mosselbaai Toyota se regskoste.
Op watter party rus die risiko?
Die werklike belang van die uitspraak lê in die ontleding van die regsposisie met betrekking tot op watter party die risiko rus in só ’n transaksie:
In Eriksen Motors (Welkom) Bpk. versus Protea Motors, Warrenton, 1973 (3) SA 685 (A), is daar bevind dat wanneer ’n debiteur betaling per tjek aanbied en die krediteur dit aanvaar, bly die betaling voorwaardelik en word dit eers afgehandel sodra die tjek gehonoreer is.
Enige risiko van bedrieglike wanbetaling word deur die debiteur gedra, aangesien dit die debiteur se plig is om betaling aan sy krediteur te maak. Maar waar die krediteur die wyse van betaling voorskryf en die debiteur daaraan voldoen, word enige inherente risiko in die voorgeskrewe metode na die krediteur oorgedra.
In Galactic Auto (Edms.) Bpk. versus Andre Venter, [2019] ZALMPPHC 27, waar die feite soortgelyk was, het die hof bevind dat indien die verweerder bloot die bankbesonderhede geverifieer het, sou hy die verlies verhoed het, en dat sy versuim om dit te doen vir sy eie rekening was.
In Mannesmann Demag (Edms.) Bpk. versus Romatex, 1988 (4) sa 383 (D), het die hof die beginsels wat in die Eriksen Motors-saak neergelê is, bevestig.
In Fourie versus Van der Spuy & De Jongh Ing, 2020 (1) SA 560 (GP), het ’n prokureur betaling wat aan sy kliënt verskuldig was weens kubermisdaad na die verkeerde rekening gemaak. In paragraaf 24 van die uitspraak sê die hof dat indien die prokureur die kliënt se nuwe bankbesonderhede geverifieer het, sou die bedrog eenvoudig nie plaasgevind het nie. Dit was duidelik dat geen verifikasieproses gevolg is nie en dat die firma die verlies sou moes dra, nie die kliënt nie.
In Edward Nathan Sonnenbergs versus Hawarden, 2024(5) SA 9 (SCA), het ’n koper van ’n onroerende eiendom ’n bedrag van R5,5 miljoen elektronies oorbetaal in ’n bankrekening wat sy geglo het dié van die transportprokureur is. Die bankbesonderhede was vervat in ’n e-pos wat die koper van ’n sekretaresse in diens van die transportprokureur ontvang het. Wat die koper nie geweet het nie, was dat haar e-posrekening gekaap is en dat die bankbesonderhede bedrieglik verander is, wat tot gevolg gehad het dat die betaling in die verkeerde rekening gemaak is.
Die appèlhof het bevind dat daar ’n regsplig op die koper gerus het om die transportprokureur se bankbesonderhede te bevestig, veral onder omstandighede waar sy voorheen bewus gemaak is van die gevare van kuberbedrog.
In André Kock en Seun Vrystaat (Edms.) Bpk. versus Snyman N.O., 2022 JDR 1792 (FB), was dit ook ’n geval van ’n e-pos wat onderskep is en waarop bankbesonderhede verander is. Betaling is na die verkeerde bankrekening gemaak. Die hof het bevind dat die betaler se aanspreeklikheid eindig sodra die betaling gemaak is, en dat die verantwoordelikheid om die korrektheid van bankbesonderhede te verifieer vierkantig op die betaler rus.
In Gerber versus PSG Wealth Financial Planning (Edms.) Bpk., [2023] JOL 58352 (GJ), het PSG op grond van ’n bedrieglike e-posversoek, wat gelyk het asof dit van Gerber kom, uitbetaling van fondse in ’n bedrieglike bankrekening gemaak, waarna Gerber sy skade van PSG geëis het. Die hof het onder andere bevind dat die oorsaak van die verlies nie die kubermisdaad was nie, maar wel PSG se versuim om waaksaam te wees wanneer gelde wat in ’n trust gehou word by ’n ander rekening inbetaal word.
In Hartog versus Daly en Andere, 2023 JDR 0189 (GJ), moes ’n prokureur op grond van ’n mandaat die opbrengs van ’n transaksie aan sy kliënt uitbetaal. Die e-pos waarin die kliënt se bankbesonderhede verskaf is, is egter onderskep en die bankbesonderhede is gewysig, met die gevolg dat betaling in die verkeerde rekening gemaak is. Die hof het bevind dat die prokureur die mandaat verbreek het deur nie die betaling in die kliënt se bankrekening te maak nie en dat die prokureur aanspreeklik gebly het vir sodanige betaling.
In Pinnacle Micro (Edms.) Bpk versus Govender, [2024] ZAKZDHC 23, is Pinnacle Micro se bankbesonderhede bedrieglik in onderskepte e-poskommunikasie gewysig. Govender, wat ’n lang besigheidsverhouding met Pinnacle Micro gehad het en self ’n deskundige in die IT-bedryf is, het versuim om Pinnacle Micro se gewysigde bankbesonderhede telefonies te bevestig.
Die dokumente wat deur die bedrieër aan Govender verskaf is, was verdag, onder andere omdat dit bloot na Pinnacle (Edms.) Beperk verwys het en nie na Pinnacle Micro nie. Die hof het bevind dat Govender versuim het om die wysiging van die bankbesonderhede met Pinnacle Micro te bevestig, en dat betaling in die gewysigde bankrekening onnadenkend gemaak is. Govender word gevolglik aanspreeklik gehou om die betaling (weer) te maak.
Mosselbaai Toyota het nie die wyse van betaling voorgeskryf nie en het slegs hulle bankbesonderhede voorsien. Die risiko van betaling was gevolglik op Bultfontein Toyota tot dit in die korrekte bankrekening reflekteer, in ooreenstemming met die uitsprake in Eriksen Motors, Galactic Auto, Mannesmann Demag, Fourie, André Kock, Gerber, Hartog en Pinnacle Micro. Die daaropvolgende uitspraak in Hawarden volg ook hierdie beginsel.
Samevatting
Natuurlike en regspersone maak en ontvang daagliks betalings by wyse van elektroniese oorplasings. In die lig van bogenoemde regspraak is die algemene reël dat daar ’n regsplig op die betaler rus om die ontvanger se bankbesonderhede minstens telefonies te verifieer, om seker te maak dat betalings na die korrekte bankrekenings gemaak word.
Hoewel kubermisdaad nie meer ’n nuutjie is nie, behoort ’n betaler daarteen gewaarsku en aanbeveel te word om die ontvanger se bankbesonderhede telefonies te bevestig voordat betaling gemaak word.
Enige versuim om bogenoemde regsbeginsels toe te pas, kan tot gevolg hê dat die betaler weer betaling sal moet maak.







