• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Thu, Mar 19, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

‘Boer 2.0’ vind gestalte by TLU SA se jongboerkongres

Nicolene Smalman-Kotze, redakteur

19 Mar 2026
in Nuus
‘Boer 2.0’ vind gestalte by TLU SA se jongboerkongres

Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste en voormalige leier van die Vryheidsfront Plus, was een
van die sprekers tydens TLU SA se jongboerkongres.

Share on Facebook

Die nuwe generasie boer behoort nie net tegnologie te omarm en aan ‘n winsgewende plaas te bou nie, maar moet ook poog om ‘n kultuur te vestig wat fokus op verhoudings, waardes en bewaring.

TLU SA se jongboerkongres is op 13 Maart in Pretoria aangebied en NWK was ‘n platinum borg. Die tema, Boer 2.0: Die nuwe generasie boer is deur verskeie sprekers toegelig wat onderwerpe soos landboustrukture, regsaspekte en veerkragtigheid bespreek het.

Strukture skep ‘n verenigde front

Clemens Senekal en Wian Süllwald is weer tot voorsitter en ondervoorsitter van TLU SA se jongboerkommitee verkies.

Clemens Senekal boer met varke en pekanneute in Gauteng en is weer tot voorsitter van TLU SA se jongboerkomitee verkies. Hy het aan die jong kongresgangers die belangrikheid van georganiseerde landbou, beklemtoon.

“Strukture bepaal die omgewing waarin jy boer. Sonder strukture gebeur fragmentasie, daar is geen rigting nie en besluite word reaktief geneem. As boer mik jy om produksie te verhoog, maar al die besluite wat jou boerdery raak, word buite jou plaashek geneem.

“Jy het nie beheer oor aspekte soos prys en veiligheid nie en het daarom strukture nodig om die omgewing waarbinne jy boer, te bepaal. Almal het gesamentlike uitdagings soos wetgewing, siektes, swak infrastruktuur en moeilike marktoegang. Strukture poog om vertroue te wen en stel ‘n langtermyn visie daar wat in samewerking met die hele gemeenskap verkry kan word.”

Hy het aan kongresgangers gesê dat landboustrukture ‘n platform bied vir gesamentlike onderhandeling, die deel van kennis en om op krisisse te reageer. “Wanneer daar druk kom, moet jy reeds deel wees van ‘n struktuur wat beskerming kan bied op velde soos beleidsverandering, eiendomsreg, arbeid, ekonomiese volhoubaarheid en veiligheid.

“Jongboere gaan oor die lang termyn die gevolge dra van vandag se besluite. Ouer generasies kan nie alleen die toekoms vorm nie. Jou afwesigheid is ook ‘n besluit.”

Twintig plaasmoordenaars reeds parool geweier

Die kongres is bygewoon deur Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste en voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Hy het genoem dat hy reeds die parool van 20 plaasmoordenaars, “vir grondige, wettige redes” afgekeur het. “Die boer se stryd is ons almal se stryd en daardie slagspreuk moet julle wyd verkondig.”

Hy het verwys na die krisis rondom bek-en-klouseer en die skuld daarvoor op “politiek” gepak. “Sorg daarom dat jy insae in verkiesings kry en jou stem gehoor word. Jy kan dalk sê jy is klaar met politiek, maar politiek is nooit klaar met jou nie.”

Hy het die jongboere bedank wat, ten spyte van aanslae, aanhou boer. “Moenie dink ons weet nie wat die stryd is nie. Julle gee ons hoop. Staan sterk. Ons is geanker in ons geloof.”

Wees gedissiplineerd onder druk

Charles Lloyd

Charles Lloyd is ‘n staatsaanklaer op Ermelo in Mpumalanga en het die jongboere toegespreek oor regskwessies verbonde aan veediefstal en die hantering van vuurwapens.

“Ek sien die nagevolge van verkeerde besluite deur beide kriminele én klaers. Die suksesvolle boer van die toekoms is nie die rykste boer nie, maar die een wat die beste ingelig is, sy huiswerk doen, voorbereid is en weet in watter milieu hy homself bevind.”

Charles het bygevoeg dat die moderne plaas lankal nie meer net “grond en diere” is nie, maar ‘n regs-ekosisteem. “Of dit gaan oor kontrakte, die hantering van bek-en-klou, of om vee te merk – elke besluit dra ‘n regsimplikasie en word deur ‘n wet gereguleer.”

VEEDIEFSTAL

Dit is belangrik dat produsente hulle deeglik met die inhoud van die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959) asook die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) vergewis.

“Is jou spesifieke brandmerk geregistreer en sal jy die nodige dokumentasie kan indien by die hof? Jy verloor geloofwaardigheid as jy nie hierdie tipe vrae kan beantwoord nie en dit beteken baie in ‘n hof. As jy geloofwaardigheid voor ‘n landdros verloor, verloor jy jou saak en sal die voordeel van die twyfel na die beskuldigde gaan.”

Charles het verduidelik dat verklarings dikwels verkeerd afgelê word omdat talle polisiebeamptes nie Engels magtig is nie. “Niks verhoed jou egter om jou eie verklaring te skryf nie. Jy moet wel weet wat ons wil sien en daar wil hê. Dis ‘n kunsvorm om ‘n behoorlike verklaring op te stel.

“Daar is verskeie strukture in plek om jou te help hiermee. Woon ook opleidingsessies binne julle organisasies by waartydens jy leer om ‘n misdaadtoneel te beveilig en bewysstukke by te hou.

“‘n Boer wat wette en prosesse verstaan, vermy nie net self vervolging nie, maar versterk ook sy vermoë om geregtigheid na te jaag.”

VUURWAPENS

Charles het gesê dat ‘n produsent ten volle by magte is om homself tydens ‘n plaasaanval te verdedig, maar dat dit nie slagoffers vrywaar om wette te oorskry nie.

“Leer dus wat die perke daaraan verbonde is. Onkunde van die reg is ‘n verskoning, maar wanneer jy op ‘n bepaalde vlak spesialiseer, word daar van jou verwag om te weet wat wetgewing behels. Jy kan nie hof toe kom en sê jy het nie geweet nie.”

Hy het verduidelik dat die verdediging byvoorbeeld ‘n beskuldigde se vuurwapenrekords kan aanvra om na te gaan of hy geteken het dat hy verstaan wat selfverdediging behels.

“Hê gebeurlikheidsplanne in plek en oefen dit oor en oor in jou brein. Die besluit om te skiet of nie moet in ‘n fraksie van ‘n sekonde geneem word en as dit verkeerd is, kan jy jou aan die verkeerde kant van die gereg bevind.”

Charles het benadruk dat dissipline onder druk die verskil tussen regverdigheid en vervolging kan beteken. “In ons digitale era word boodskappe, asook stem- en video-opnames, bewysstukke. Leierskap vereis dissipline tydens kommunikasie.

“Boere wat voorbereid is, vermy die hof. Hulle bekom voortydig advies en tree kalm onder druk op. Ek sien ‘n generasie wat vrae vra en voorberei. Slim boere veg nie die sisteem nie, maar beweeg selfversekerd binne dit.

“Raak dus betrokke by georganiseerde strukture soos TLU SA. Lewer julle opinies by die opstel van nuwe wetgewing. Soek oplossings eerder as verskonings.”

Boerdery is nie ‘n solosport nie

Willem van der Merwe

Willem van der Merwe is ‘n regspraktisyn wat in 2017 ook begin boer het. “Ek het my toekomstige vrou ontmoet, maar was ‘n jong prokureur by ‘n groot firma. My vrou was baie junior in haar pos en ons het nie geld gehad om te trou nie,” het hy vertel.

Hy het besef dat hy ‘n ander inkomstestroom sou moes vestig. Willem vertel dat sy vertroue in die Here ‘n deurslaggewende rol in sy boerderybedryf speel. “Ons was een Sondag by die kerk toe ‘n oom my genader en gesê het dat hy ‘n stuk grond beskikbaar het waarop ek ‘iets’ kon begin doen.”

Met min geld beskikbaar vir insette en boonop net 15 dae verlof per jaar, het Willem sterk gesteun op bure se hulp. “Ek het nie kunsmis, saad of versekering in plek gehad nie. Ons het rondgevra en verhoudings begin bou.”

Hy het sojabone geplant en met sy eerste oes 800 kg/ha behaal. “My pa is boonop daar op die lande oorlede terwyl hy my gehelp stroop het. Ek het gewonder of dit die moeite werd was om my loopbaan in gedrang te sit vir 19 ha.”

Ook die volgende jaar wou geen bank Willem finansier nie. ‘n Landboumaatskappy het hulle ‘n lening van R100 000 aangebied, mits hy en sy vrou “hul salarisse sou wegteken”.

“Ons het dit gedoen. Ek het êrens gehoor kalk is ‘n wonderlike ding. Ek kon net 80 kg/ha kunsmis bekostig en die kunsmisagent het gesê dit is beter as niks. Daardie jaar was ‘n goeie een en ons oeste het verdubbel.”

Willem beskryf sy vooruitgang sedertdien as ‘n sneeubaleffek danksy dataversameling en goeie bestuur. “Boerdery was nog nooit ‘n solosport nie. Jy gaan op iemand anders se skouers moet staan. Die regte mentorskap en ondersteuning kan 20 jaar se foute verkort na ‘n twee jaar leerproses.

“Honderd jaar gelede was Suid-Afrika se gemiddelde mielie-opbrengs minder as 1 t/ha. Vandag is dit gemiddeld 7 t/ha. Daardie verbetering het nie vanself gebeur nie, maar omdat boere hul kennis gedeel het.”

Willem meen banke kyk na produsente se kontantvloei, produksiegeskiedenis, bestuursvermoë, bates en risikobestuur wanneer hulle aansoek doen vir lenings.

“Jy moet banke wys dat hulle jou kan vertrou. Self-begin boerderye kan hul profiele verbeter deur op hierdie sleutelelemente te fokus. Elke suksesvolle seisoen bou beleggersvertroue.

“Die moderne boer moet fokus op diversiteit, tegnologie, strategiese vennootskappe, dataversameling en ooreenkomstige besluite. Maak God ook deel van jou boerdery.”

Nie my plaas nie, maar Syne

Daandré Coetzee

Daandré Coetzee is ‘n groenteboer van Brits en voormalige deelnemer aan Boer soek ‘n vrou. Hy het kongresgangers aangeraai om te fokus op hul nalatenskap. “Dit is nie iets wat jy los as jy sterf nie. Jy bou reeds nou elke dag daaraan. Dit is die indruk wat jy laat wanneer jy ‘n vertrek verlaat, hoe jy ander behandel en hoe jy in jou geloof geanker is as dinge rof raak.

“Ons leef in ‘n wêreld wat jou meet aan wins, opbrengste en hoeveel bates jy besit. Al hierdie goed het ‘n plek, maar die Here kom werk anders in ons. Hy vra nie hoeveel geld ons gemaak het nie, maar eerder wat ons gebou het wat Hy kan gebruik. Wat het jy gesaai wat die volgende geslag kan oes?”

Hy glo die boer 2.0 bou nie net aan ‘n winsgewende plaas nie, maar ‘n kultuur. “Ons boer in uitdagende tye. God roep ons egter nie net om te oorleef nie, maar oom oor te dra, te bou, te saai en altyd hoop te dra. God vra nie wat jy vir jou kinders agterlaat nie, maar wat jy ín hulle agterlaat.

“Ek praat nie meer van my plaas nie. Dis Sy grond en hulpbronne. Wie in die klein dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar en boere 2.0 verstaan dit.”

Tags: MRT/APR 2026
Previous Post

Skryf met die boer in gedagte, is topouteur se raad

Recommended

‘Boer 2.0’ vind gestalte by TLU SA se jongboerkongres

‘Boer 2.0’ vind gestalte by TLU SA se jongboerkongres

19 Mar 2026
Skryf met die boer in gedagte, is topouteur se raad

Skryf met die boer in gedagte, is topouteur se raad

17 Mar 2026
Kuberbedrog  kan jou duur te staan kom

Kuberbedrog kan jou duur te staan kom

17 Mar 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

‘Boer 2.0’ vind gestalte by TLU SA se jongboerkongres

‘Boer 2.0’ vind gestalte by TLU SA se jongboerkongres

19 Mar 2026
Skryf met die boer in gedagte, is topouteur se raad

Skryf met die boer in gedagte, is topouteur se raad

17 Mar 2026
Kuberbedrog  kan jou duur te staan kom

Kuberbedrog kan jou duur te staan kom

17 Mar 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In