• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Mon, Mar 23, 2026
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Nuus

Vroueboer mik nou vir platinum-toekenning om pa se nalatenskap te eer

Nicolene Smalman-Kotze, Redakteur

23 Mar 2026
in Nuus
Vroueboer mik nou vir platinum-toekenning om pa se nalatenskap te eer

Estelle in die veld by van haar Bonsmaras. Die diere van Hansu Bonsmaras aard goed in die geharde suurveld op Palmietfontein.

Share on Facebook

Sewe jaar ná haar pa se afsterwe is Estelle de Kock, ’n apteker van Ventersdorp, as Noordwes se wenner van SA Stamboek se beste vleisbeeskudde aangewys. Sy het boonop in Oktober dubbelgoud in die Logix Vleisbeeskudde van die Jaar-toekenning by SA Stamboek se simposium in Bloemfontein opgeraap.

Estelle de Kock van Hansu Bonsmara-stoetery beskou haar prestasies as ’n persoonlike oorwinning omdat sy met bykans geen kennis van beesboerdery nie die leisels moes oorneem toe haar pa, Hansie Steyn, in November 2018 oorlede is.

’n Nalatenskap wat oor dekades strek

Estelle se ouers het in 1976 vanaf Lichtenburg na die plaas Palmietfontein, net buite Ventersdorp, verhuis. Sy onthou dat haar pa in ’n artikel aangehaal is waar hy gesê het dat hy met die eerste oogopslag van Bonsmara-speenkalwers besluit het dat dit die ras sou wees waarmee hy boer.

“Hy het voor dit ’n melkery bedryf. Daar was egter baie probleme met arbeid en met die droogte het hy die meeste van sy lande onder Smutsvinger begin sit. Dit het dus net meer sin gemaak om ’n vleisbeesras te kry,” verduidelik Estelle.

Die stoetery is in 1978 geregistreer en Estelle se pa het vroeg reeds groot welslae met sy kudde behaal. Hy is 15 jaar opeenvolgend deur die Landbounavorsingsraad en SA Stamboek as streekswenner aangewys.

Toe Hansie met kanker gediagnoseer is, moes Estelle en haar sibbes besluit wie by hom sou oorneem. “My broer is ’n ortopeed in Kaapstad en my sussie is self met ’n Bonsmara-boer getroud. Ek het ’n apteek in Ventersdorp gehad, wat net voor my pa se dood verkoop is. Dit het dus sin gemaak dat ék sou oorneem.”

Estelle sê sy en haar pa het ’n baie spesiale band gehad. “Ons kon baie met mekaar stry, lief wees vir mekaar en het mekaar baie kere op ’n dag gebel. Ons het tipiese pa-en-dogter geselsies gehad en nooit oor die boerdery gesels nie. Ek het baie van die terminologie (oor beesboerdery) gehoor as hy met iemand oor die foon gepraat het, maar ek het nie geweet wat dit beteken nie.”

Stampe en stote met die oorname

Met geen kennis van beesboerdery nie, het Estelle aanvanklik baie op haar man, Mike, gesteun. Hy is aan die stuur van hul saaikomponent, wat uit mielies en sojabone bestaan. “Ek het op my eie beeste gefokus en nie veel insig in die administratiewe kant van my skoonpa se stoetery gehad nie,” vertel hy.

Estelle het kursusse bygewoon en die hulp van ’n kudde-adviseur, Danie Olivier, ingeroep. “Ek het nie eens geweet wat die beesgetalle was, waar hulle loop of watter bulle vir die stoetery gebruik word en watter vir verkope nie!”

Sy erken die eerste jaar was taamlik chaoties. Boonop is hulle kort ná haar pa se dood deur veediewe geteister. “Ons is tot twee keer per week geteiken. Ek sou net ’n idee begin kry van watter beeste in watter groep is, dan word daar weer van hulle gesteel.”

Hulle het die hulp van twee sekuriteitsmaatskappye ingeroep en Estelle het selfs vrou-alleen die nabygeleë informele nedersetting ingevaar in ’n poging om die skuldiges vas te trek.

“My pa was baie erg oor ’n belofte en het jou daarby gehou. Ek het hom op sy sterfbed belowe dat ek na die beeste sou kyk en met elke bees wat gesteel is, het dit vir my gevoel ek kom nie my belofte na nie.”

Sy weier om tou op te gooi

“’n Oom het in die koöperasie na my toe gekom en gevra hoekom ek nie net al die diere verkoop nie, want ek sou in elk geval almal weens veediefstal verloor. Hoewel dit vir my ’n eye opener was, het dit my ook gemotiveer om dit eenvoudig nie toe te laat nie.”

Estelle meen mense se vertroue in haar was boonop min omdat sy ’n vrou is en voor haar pa se afsterwe nie regtig by die boerdery betrokke was nie.

Sy het nietemin volhard en verskeie kursusse bygewoon om haar kennis te verskerp. Estelle bestempel die Bonsmara SA-beestelersgenootskap se hulp en leiding as van onskatbare waarde. “Hulle het aan die begin hierheen gery om te kom help en ek kon hulle enige tyd kontak.”

Met Danie se hulp het sy geleer om ’n esteties mooi Bonsmara met goeie fenotipiese waardes te teel. “Die ideale Bonsmara het ’n mediumgrootte raam, met goeie kapasiteit en baie vleis. Ons werk aktief daaraan om ons lengte-hoogte verhoudings te verbeter en meer vleis te teel om aan die mark se behoefte te voorsien.”

Estelle verduidelik dat, hoewel die donkerrooi Bonsmara mooier vertoon, sy vind dat dié wat ligter en geler is eintlik beter aangepas is.

“’n Veearts het ook al teenoor my genoem dat hy dit by alle beesrasse opmerk: ’n Vroulike dier met ’n geler ondertoon is die beter koei. Ons het Desember van ons oudste koeie geslag wat deur die jare die beste presteer het en die meeste van hulle was geel.”

Die ideale Hansu Bonsmara

Estelle span twee dekseisoene in – van Desember tot Februarie en weer van Junie tot Augustus – en handhaaf ’n tussenkalfperiode van 390 dae. As sy ’n bul wil aanskaf, kyk sy fyn na die ma se data omdat dit die bul se vrugbaarheid bepaal.

“Belangrike teelwaardes is ‘geboorte direk’ (’n kalf se genetiese vermoë vir geboortegewig), asook die lengte-hoogte verhou­ding. Ons kon ook daarin slaag om binne twee jaar bulle met ’n baie hoër skrotumomtrekwaarde te teel.”

Vrugbaarheid is ook ’n belangrike oorweging by die seleksie van koeie. “Die vroulike diere moenie ’n groot raam hê nie. Sy moet mooi breed oor die sitbene wees, asook vroulik, met ’n mooi nek en rug. Dié met slegte uiers en spene word dadelik uitgeskot.

“’n Koei moenie dooie kalwers lewer nie, hulle almal speen en ’n goeie speenindeks hê. Dis hierdie diere wat kontantvloei handhaaf. Die hoeveelheid kalfies van ’n bepaalde koei wat goedgekeur word as ’n stoetdier met ’n goeie fenotipiese punt, is ook belangrik.”

Kalfies by Hansu word op sewe maande gespeen, met ’n gemiddelde speengewig van 220 kg en ’n gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) van bykans 1 kg.

Die miostatien-geen, wat tot dubbelbespiering lei, is grootliks in die 1980’s nagejaag. Daar is egter intussen gevind dat dit tot kalwingsprobleme lei en produsente probeer nou eerder om dié geen uit te skakel. Daarom word bulle met hierdie geen nie vir teeldoeleindes by Hansu Bonsmaras gebruik nie.

Estelle moedig verkope vanaf die plaas aan en nooi voornemende kopers om ’n dag tussen die diere te kom spandeer. “Die koper kan dan op sy tyd tussen die bulle in die veld deurstap. Hulle word nie gevoer nie, en die produsent kan self sien hoe hulle in hierdie klipperige suurveld aard en wat hulle kondisie is.”

Sy vind dat manlike kopers dikwels huiwerig is om ander mans vir raad te vra. “Dit gebeur relatief gereeld dat ’n man saam met my ry en dan vra wat ’n bepaalde teelwaarde beteken, en dat ek dit vir hom moet verduidelik. Ek is steeds besig om te leer, maar dit is lekker om die kennis wat ek het met iemand te kan deel.”

Hoewel die onlangse toekennings goeie bemarkings­waarde het, glo Estelle dat Hansu se hoë gehalte diere hulself bemark. “Ek het onlangs ’n kliënt wat al jare lank by my koop, vir die eerste keer ontmoet! Hy sal sê watter teelwaardes hy in ’n bul soek, waarna ek dan ’n video van die dier en ’n faktuur vir hom stuur en die dier gelaai word. Dit is lekker as iemand soveel vertroue in jou en jou produk het!”

Mike en Estelle de Kock met die toekennings wat sy by SA Stamboek se onlangse simposium opgeraap het.

Streektoekenning ’n aangename verrassing

Die stoetery het in 2020 en 2021 brons en silwer toekennings verwerf, waarmee Estelle minder tevrede was. Sy was heel in haar noppies met die dubbelgoue toekenning, en sy en Mike het kort hierna die simposium verlaat en gery.

“Op pad huis toe het ons op die Bonsmara WhatsApp-groep gesien dat mense almal met hul toekennings gelukwens. Ek is gelukgewens met die dubbelgoud, waarop iemand anders geantwoord het: ‘En die streekwenner.’ Ek het nogal gewonder wie dit is en my nie verder daaraan gesteur nie.”

Sy het egter dae lank hierna nog boodskappe en oproepe van gelukwense gekry. “Ek het toe ’n boodskap aan SA Stamboek gestuur en gevra wie die streekwenner is, toe vind ek uit dis ék!

“My pa was nog altyd ’n streekwenner en ek meet myself aan wat hy bereik het. Ek wil nie hê mense moet sê ek het ’n gemors hiervan gemaak of dat ek dit wat vir ons drie kinders agtergelaat is, deur my vingers laat glip het nie.”

Sy droom nou daarvan om ’n platinum toekenning te verwerf. “Dan sal ek vir my pa kan sê: Pê wê! Dit sal die lekkerste wees,” glimlag sy.

Tags: MRT/APR 2026
Previous Post

Die vrou agter die boer – die fondament van ’n boerdery

Recommended

Vroueboer mik nou vir platinum-toekenning om pa se nalatenskap te eer

Vroueboer mik nou vir platinum-toekenning om pa se nalatenskap te eer

23 Mar 2026
Die vrou agter die boer – die fondament van ’n boerdery

Die vrou agter die boer – die fondament van ’n boerdery

23 Mar 2026
Bewaringsnuus uit ons kontrei

Bewaringsnuus uit ons kontrei

23 Mar 2026

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Vroueboer mik nou vir platinum-toekenning om pa se nalatenskap te eer

Vroueboer mik nou vir platinum-toekenning om pa se nalatenskap te eer

23 Mar 2026
Die vrou agter die boer – die fondament van ’n boerdery

Die vrou agter die boer – die fondament van ’n boerdery

23 Mar 2026
Bewaringsnuus uit ons kontrei

Bewaringsnuus uit ons kontrei

23 Mar 2026

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In