
Nie net is 4 Mei sinoniem met NWK se verjaardag nie, dit sal ook nou in geskiedenisboeke opgeteken word as die dag toe dit sy toonaangewende tegnologiesentrum geopen het. AgTech@NWK het Maandag dié sentrum, wat onder andere die grootste DJI-hommeltuigwerkswinkel van sy soort in Suid-Afrika huisves, amptelik in ontvangs geneem en aan klante bekendgestel.
AgTech@NWK Expert bestaan uit presisietoerusting terwyl AgTech@NWK Drones landboukundige hommeltuie en toebehore bied. AgTech@NWK se nuwe tegnologiesentrum bied dus ‘n een-stop oplossing vir produsente se tegnies-landboukundige behoeftes.
‘n Gesentraliseerde werkswinkel maak goeie sakesin

Zane Barnard, bestuurder van AgTech Expert en die werkswinkel, het Maandag by die opening van die nuwe tegnologiesentrum verduidelik dat die besluit om ‘n werkswinkel van hierdie omvang te open, nie ligtelik geneem is nie.
“Veral die aankoop en diens van hommeltuie het die afgelope jaar uit sy nate gebars. Ons roem onsself daarop dat ons die beste diens in die land lewer en wil graag hierdie belofte gestand doen.
“Voorts maak ons grondkundiges aanbevelings aan kliënte oor byvoorbeeld variërende kalkstrooing en ons kan dan hierdie kliënte help om die kaarte in die regte formaat op hulle trekker in te lees. Dit is dus ‘n voortvloeisel van die diens wat ons landboukundiges reeds bied.”
Zane het bygevoeg dat die tegnologie wat hommeltuie en presisietoerusting inspan, grootliks oorvleuel. “Baie van die prosedures in die werkswinkel is ook dieselfde. Deur dit saam te smelt, het ons ‘n homogene werkswinkel wat albei kante kan diens.”
Die nuwe werkswinkel is volledig toegerus met onderdele en toebehore van CNH en Raven vir stropers, strooiers, hoogloopspuite, ens. “Die nuwe FleetPro-reeks is die eerste kostedoeltreffende stuursisteem in die land wat reg funksioneer en klante is hoogs tevrede hiermee.”

Ook alles wat jy mag benodig vir DJI-hommeltuie is hier beskikbaar en soveel as agt hommeltuie kan per dag gediens word.
Daar is danksy die werkswinkels se samesmelting ses nuwe leerlingwerktuigkundiges aangestel wat in beide hommeltuie en presisietoerusting opgelei word. “Drie van hulle is reeds DJI-gesertifiseerd en permanent aangestel,” het Zane gesê.
“Deur opleiding te sentraliseer, verseker ons dat tegnici wat by al ons bedryfspunte ontplooi word, dieselfde tegnieke toepas en aan dieselfde standaarde voldoen.”
DJI Agras T70 – die T100 se indrukwekkende kleinboet

Die nuwe DJI Agras T70 is ook Maandag amptelik bekendgestel. “Dis die nuutste generasie landbouhommeltuig ontwerp vir presisie, doeltreffendheid en veelsydigheid in die moderne boerdery,” het Okkie Vermeulen, DJI-verkoopskonsultant by AgTech@NWK, gesê.
Dit is toegerus met ‘n 70 liter tenk en beskik oor 70 kg drakapasiteit. “Die T70 is baie ligter en beskik ook oor ‘n D-RTK2-stelsel wat presisie tot en met 10 cm akkuraat maak. Sy veiligheidsisteem, bestaande uit verkykers en radar, vermy moeilike terreine en sy nagvisie maak hom uniek.”
Hoewel die T100 die “hoofseun” in die DJI Agras-stal bly, bied die T70 ‘n meer bekostigbare, praktiese opsie vir kleiner boerderybedrywe of kontrakteurs.
Die oupagrootjie van landbou is jonk van gees

“NWK is trots op die feit dat dit Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy is. Ons is ná die Anglo-Boereoorlog gestig om boere te ondersteun en dit is ‘n deel van die maatskappy se DNS wat nooit sal verander nie.
“Dit is in elke werknemer, bestuurs- en direksielid se hart om ons boeregemeenskap te ondersteun, want sonder hulle is ons niks,” het Pieter Kleingeld, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, by die geleentheid gesê.
“AgTech@NWK is vanjaar 50 jaar oud en het tot stand gekom vir die wetenskaplike ondersteuning van witmielieverbouing in ons area. Dit het gegroei tot datagedrewe ondersteuning van presisieboerdery.
“Ons het in 1985 begin rondspeel met NDVI-beelde. Die tegnologie was egter elementêr en rekenaars, stadig. Die nut wat ons daaruit kon put, was redelik beperk. Vandag kan ons egter boerderybedrywe en plase se geskiedenis byhou met behulp van chemiese ontledings, bepaling van grondpotensiaal, reënvalinligting en satellietbeelde,” het hy bygevoeg.
Volgens Pieter ontsluit die tegnologiesentrum sinergie deurdat boerderye se data en beplanning nou tot op toerustingvlak deurgevoer kan word – alles onder een dak.

Die geleentheid is ook bygewoon deur Lexie Zhang, DJI Agras-hommeltuigverkoopsverteen-
woordiger in Afrika. “Ek is baie beïndruk! Ek was Januarie in Suid-Afrika toe hierdie gebou nog net ‘n konsep was. Dit is wonderlik om te sien hierdie droom het waar geword. Die span van AgTech@NWK is baie goed voorberei. Baie geluk ook aan NWK met sy verjaardag!”








