
Sonneblom is een van die somergewasse wat die minste sensitief is vir plantdatum en daarom kan die gewas met groot sukses vroeg en laat aangeplant word in die hoofproduserende sonneblomgebiede.
Produsente in Suid-Afrika se somersaaigebiede plant jaarliks ongeveer 550 000 ha tot 600 000 ha sonneblom, waarvan die grootste gedeelte van hierdie oppervlakte normaalweg in Januarie aangeplant word.
Die vraag moet egter gevra word of Januarie die ideale planttyd vir sonneblom is, en of vroeë aanplantings in die komende seisoen meer voordele vir produsente kan inhou.
Produsente wat vroeg plant,
gee hul mening
WITTE EN JANCO KOTZÉ, HARTBEESFONTEIN
Witte en Janco Kotzé van die plaas Arizona naby Hartbeesfontein het AGSUN 5106CLP en AGSUN 5108CLP as ‘n vroeë aanplanting gevestig,met beide kultivars wat ongeveer 2,7 t/ha gerealiseer het. Volgens die Kotzés is begin November die ideale plantvenster vir sonneblom in hul omgewing.
“Ons opbrengste is gewoonlik hoër wanneer ons in dié tyd plant, omdat daar meer hitte-eenhede vir die plante deur die groeiseisoen beskikbaar is. Vroeë sonneblom bied ook ‘n vroeë inkomste, hanteer droogtetydperke beter as ander gewasse en die vroeë leweringsprys is meer stabiel vroeg in die seisoen.”
WJ SWART, DELAREYVILLE
WJ Swart van die plaas Excelsior naby Delareyville het AGSUN 5111CLP op 3 November 2025 aangeplant en 2,8 t/ha gerealiseer, met ‘n gemiddelde skepelmassa van 43 kg.
Hy verkies om sonneblom ná die eerste somerreën, of so vroeg as moontlik, te plant en sê dat hy die afgelope twee jaar minder tot geen siektes op vroeër aanplantings gesien het nie.
LUKAS DREYER, HARTBEESFONTEIN
Lukas Dreyer van Hartbeesfontein het die afgelope seisoen ‘n vroeë aanplanting van AGSUN 5108CLP op 20 November gedoen en ‘n gemiddelde opbrengs van 3,5 t/ha op hierdie kultivar gerealiseer.
Volgens Dreyer moet sonneblom so vroeg as moontlik geplant word. “Die aantal hitte-eenhede wat die plant kan benut, lei gewoonlik tot hoër opbrengste,” sê hy. Hy sê ook vroeë sonneblom gee vroeër kontantvloei, wat sy boerdery ‘n hupstoot gee.
NELIUS BEYERS, MAKWASSIE
Nelius Beyers van Doornpan naby Makwassie sê sy November-sonneblomaanplantings het die afgelope seisoen beter as die latere aanplantings presteer. Die meerderheid van sy sonneblom was reeds voor 16 Desember gevestig en het hoofsaaklik uit AGSUN 5106CLP bestaan. Beyers se aanplantings het die afgelope seisoen opbrengste van 2,5 t/ha tot 3,5 t/ha gerealiseer.
Volgens Beyers is vroeë aanplantings minder vatbaar vir siektes. Hy beskryf sonneblom as ‘n onmisbare deel van sy gewaspakket en meen produsente moet eerder vroeër as later plant.
TOKKIE BOTES, VENTERSDORP
Tokkie Botes van Palmietfontein naby Ventersdorp plant AGSUN 5106CLP en AGSUN 5108CLP omdat dié kultivars volgens hom oor verskillende seisoene stabiele opbrengste lewer, goeie siekteverdraagsaamheid toon en ‘n sterk ontwikkelde blarefabriek het.
Hy beskou sonneblom as ‘n ideale wisselbougewas wat produksierisiko’s aansienlik versprei en droogtestremming goed hanteer. Botes sê dat produsente wat vir top opbrengste mik, vroeg in November moet plant – dit is ook die vroegste plantdatum waarop hy reeds suksesvol sonneblom aangeplant het.
JOPPIE FOURIE, MAKWASSIE
Joppie Fourie van die Makwassie-omgewing het AGSUN 5106CLP aangeplant en 2,6 t/ha gerealiseer met ‘n aanplanting op 10 November 2025, terwyl ‘n latere aanplanting op 1 Desember 3 t/ha gelewer het.
Volgens Fourie verkies hy vroeë sonneblom wanneer die ondervog reg is, aangesien sonneblomplante dan die hitte-eenhede doeltreffend kan benut om ‘n goeie oes te lewer. Hy beskou einde Oktober tot middel November as sy ideale plantvenster en het reeds op 28 en 29 Oktober suksesvol sonneblom aangeplant, met ‘n opbrengs van 2,7 t/ha in ‘n baie droë jaar.
Die landboukundige sê sy sê
Een van sonneblom se grootste voordele is die gewas se buigsaamheid ten opsigte van plantdatum, aangesien dit in die meeste produksiegebiede van September tot Januarie gevestig kan word.
Sonneblom kan suksesvol ontkiem by grondtemperature so laag as 4°C en groei goed tussen 10°C en 31°C. Ten opsigte van groeitemperature is sonneblom in staat om uiterstes te hanteer. Dit is bekend daarvoor dat dit matig rypbestand in die saailingstadium is en kan temperature van tot -2°C oorleef.
Sonneblom se opkoms en gerealiseerde plantestand is ook normaalweg beter wanneer dit vroeg geplant word, aangesien gronde steeds redelik koel is in vergelyking met later in die seisoen.
Een van die redes waarom baie produsente vroeë sonneblom verkies, is die potensiaal vir hoër opbrengste. Vroeë aanplantings stel die gewas in staat om langer tydperke van fotosintese beter te benut, wat tot beter plantontwikkeling en uiteindelik hoër graan- en olie-opbrengste kan bydra.
In gebiede waar waterbeskikbaarheid ‘n beperkende faktor is, kan vroeë plantdatums sonneblom in staat stel om beskikbare grondvog meer optimaal te benut en ‘n goed gevestigde wortelstelsel te ontwikkel voordat midsomer-droogtestremming voorkom. Aangesien die gewas ‘n penwortelstelsel het en vog vanuit dieper grondlae kan benut, stel dit plante in staat om toegang tot dieper grondvogreserwes te verkry voordat belangrike droogtetye aanbreek. Dit kan die risiko van droogtestremming gedurende belangrike groeistadiums aansienlik verminder. Gevolglik kan vroeë sonneblom beter toegerus wees om droë tye beter te weerstaan, wat tot meer stabiele opbrengste kan lei.
Vroeë sonneblom kan produsente verder help met beter gewasrotasiebeplanning omdat plante se groeiseisoen voor die herfsmaande afgehandel is. Só kan hulle herfsreën optimaal benut en grondvog vroeër begin opgaar vir die volgende seisoen. Grondvoorbereiding kan ook vinniger plaasvind, wat tot meer doeltreffende gebruik van produsente se hulpbronne kan lei.
Die afgelope seisoen het die meeste somerreënvalgebiede goeie reën ontvang, wat ‘n waardevolle geleentheid skep om bestaande grondvog te benut en sodoende produksierisiko’s te beperk. Dit maak vroeë sonneblomaanplantings vanjaar ‘n belangrike oorweging, aangesien produsente die beskikbare vog beter kan benut voordat moontlike warmer en droër toestande later in die seisoen intree.
Wat sê die landbou-ekonoom?
Volgens Lardus Basson word die afgelope paar seisoene gekenmerk deur uitdagende produksietoestande, wisselvallige weerpatrone en toenemende druk op boerderye se winsgewendheid. Produsente moes aanpas by nat toestande, midsomer-droogtes, hoë insetkoste en graanpryse wat onder druk verkeer.
In hierdie omstandighede begin vroeë sonneblomaanplantings al meer uitstaan as ‘n praktiese strategie om risiko’s beter te bestuur en marges te beskerm, veral met sonneblom se relatief laer insetkoste en histories sterker pryse tydens Maart-lewerings.
Data van Safex-pryse oor die afgelope dekade toon dat sonneblompryse in Maart gemiddeld ongeveer 5,6% hoër was as pryse tydens Mei en Junie. Hierdie moontlike premie van 5,6% bied waardevolle ruimte in ‘n produsent se begroting en kan help om produksie- en markrisiko’s beter te hanteer.
Volgens die ekonomiese vergelyking in Tabel 1 kan ‘n vroeë Oktober-aanplanting in hierdie scenario tot sowat R2 389/ha meer winsmarge realiseer as ‘n latere Januarie-aanplanting. Die kombinasie van hoër opbrengste en beter pryse kan ‘n betekenisvolle verskil in winsmarges en kontantvloei maak. Vroeë sonneblom bied nie net ‘n alternatief aan produsente nie, maar ook ‘n geleentheid om hul produksierisiko’s beter te bestuur en winsgewendheid te beskerm.
Wat sê die weerkundige?
Volgens Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, was daar vyf La Niña- en slegs een El Niño-seisoen in die afgelope ses jaar sedert 2020/2021, wat ‘n abnormale skewe verdeling is. Volgens die geskiedenis is daar ‘n meer gelyke verdeling tussen La Niña- en El Niño-seisoene. Alle aanduidings is dat ‘n baie sterk El Niño besig is om te ontwikkel, wat tot Maart/April 2027 kan voortduur en dalk die inleiding is tot ‘n reeks van droër seisoene.
Gedurende die meeste El Niño-verskynsels in die verlede het die laatwinter, lente en selfs vroeë somer gemiddelde tot bogemiddelde reënval gekry oor die grootste deel van die land. Dit word ook vanjaar verwag. Baie droë en warm toestande word vanaf November verwag, maar dit is veral in die Januarie- tot Maart-tydperk wanneer die droogte en hitte ‘n hoogtepunt gaan bereik. Vanjaar is baie grondwater opgegaar en kan grond wat ‘n goeie waterhouvermoë het tot 200 mm of meer plantbeskikbare water hou, wat die uitwerking van El Niño kan versag.







