Die meeste organismes kom in die boonste grondlaag voor, waar die wortels en organiese materiaal hoofsaaklik gekonsentreer is. Grondorganismes het grotendeels ’n positiewe impak op die groei van gewasse, maar daar is ook nadelige organismes.
Die onsigbare lewe in die grond maak sigbare verskille in landboupraktyke. Die grond is ’n ekosisteem vir organismes – vanaf mikroskopiese grootte tot die veeldoelige erdwurm. Daar is ’n wedersydse verhouding tussen die grondlewe en landboupraktyke.
Grondorganismes se rol
Grondorganismes is betrokke by ’n wye verskeidenheid prosesse in die grond. Hierdie prosesse dra by tot die gesondheid en vrugbaarheid van die grond. Die aktiwiteite van grondorganismes kan in die volgende vier funksies verdeel word:
Grondstruktuur: Die organismes en grondstruktuur is afhanklik van mekaar. Grond met goeie aggregate is ’n gunstiger omgewing vir organismes om in te leef. Aggregate vorm en word verbeter deur die slymbedekkings van organismes, wat met die grond meng, en die gronddeeltjies wordsó aanmekaargeheg.
Die beweging van organismes deur die grond meng die grond en die organiese materiaal. Hierdie beweging van organismes in die grond vorm mikro- en makroporieë in die grond, wat deurlugting en waterinfiltrasie verbeter.
Omskakeling van organiese materiaal en minerale: Organiese materiaal bestaan uit ’n komplekse verskeidenheid koolstofverbindings. Die organismes in die grond is ontbinders en breek die organiese materiaal af om daardeur die koolstofverbindings te ontbind. Die koolstof word benut omdat dit ’n waardevolle bron van energie vir die organismes is, en word as koolstofdioksied vrygestel ofas nuwe organiese koolstof in die grond vasgelê.
Grond wat meer organiese materiaal bevat, het ’n groter diversiteit van organismes. Dit bevorder die afbreking van organiese materiaal in die grond.
Die grondorganismes verhoog ook die grondvrugbaarheid tydens die ontbinding en mineralisering van organiese materiaal.
Mineralisasie is die proses waartydens organismes organiese materiaal afbreek vir die gebruik van koolstof enminerale vrystelvir opname deur plante. Sommige organismes het ’n simbiotiese verhouding met plante. Hierdie organismes maak minerale vir plante beskikbaar om op te neem.
Biologiese degradasie: Wanneer grondorganismes organiese materiaal afbreek, ontbind dit in wese chemiese verbindings. Die verbindings word in eenvoudiger vorms afgebreek, wat nie toksies is vir die ander grondorganismes en plante nie. Grondorganismes dien as biofiltreerders en as die populasie van organismes hoog is, is die afbreking van toksiese stowwe vinniger.
Interaksie met plante: Grondorganismes se reaksie met plante is positief of negatief. Sommige organismes kom voor as patogene, wat skadelik is vir planteen plantsiektes veroorsaak. Die verskynsel kom veral voor wanneer die balans van die verskillende spesies versteur word en daar meer patogeniese spesies in die grond voorkom.
Antagonistiese organismes voorkom dat patogeniese spesies oorheers. Hierdie antagonistiese spesies vermeerder wanneer gewasrotasie toegepas word en daar meer organiese materiaal is,wat die diversiteit van organismes in die grond bevorder.
Verskillende klasse
Soos Figuur 1 aandui, word grondorganismes in vier klasse verdeel, naamlikmikroflora, mikrofauna, mesofauna en makrofauna.
MIKROFLORA
Mikroflora is die bakterieë en fungi in die grond. Dit is in simbiose met mekaar of is vrylewend, en aktief betrokke by die ontbinding van organiese materiaal en mineralisasie. Mikroflora dien ook as agente vir die herwinning en beskikbaarstelling van stikstof, fosfaat en swael.
Bakterieë se hooffunksies in die grond is om tot die koolstofketting by te dra deur ontbinding en fiksasie.Mikroflora is ook belangrik tydens die fiksasie en vrystelling van stikstof in die grond en aan die plant. Die meeste bakterieë produseer ’n taai stof wat help om gronddeeltjies aan mekaar te bind en aggregate te vorm.
Fungi is verantwoordelik vir die ontbinding van organiese materiaal deur die sellulose te degradeer en te assimileer.Fungusdrade stel die plante in staat om minerale en water in ’n groter grondvolume te bekom. Dit bevorder ook die opname van minerale wat minder beweeglik in die grond is, soos fosfaat.
Fungi kan patogenies en parasities wees deurdat dit siektes op plantwortels veroorsaak, maar beheer ook nematodes wat sommige siektes veroorsaak. Hierdie mikroflora se hifes help om die grondstruktuur in die grondoppervlakte te verbeter deur gronddeeltjies aan mekaar vas te hou.
MIKROFAUNA
Hierdie klas is die belangrike organismes wat bakterieë en fungi se populasies intoom hou. Dit handhaaf die verbintenis tussen die mikroflora en die groter fauna. Mikrofauna is mikro-organismessoos protozoa en nematodes. Ditspeel ’n noodsaaklike rol in die mineralisering van minerale en die beskikbaarheid daarvan aan plante.
Nematodes wat op mikroflora voed, help met die verspreiding van organiese materiaal en ontbinders in die grond. Ditstel plantbeskikbare stikstof in die grondvry deur op die mikroflora te voed. Sommige nematodespesies het ’n negatiewe impak op plantedeurdatdit die plantwortels beskadig en meer vatbaarvir siektes maak.
MESOFAUNA
Mesofauna is organismes soos myte en collembola, wat op fungi en bakterieë voed. Ditreguleer die populasies van mikro-organismes. Mesofauna woon en beweeg meestal in die porieë, waar dit op afval-en organiese materiaal voed. Hierdie organismes is ook ontbinders, wat kleiner organismes help om organiese materiaal makliker af te breek.
MAKROFAUNA
Makrofauna is die grootste grondorganismes wat by die ontbinding en fragmentering van organiese reste en die verbetering van die grondstruktuur betrokke is. Hierdie organismes kan met die blote oog gesien word. Erdwurms, termiete en miskruiershelp met die vorming van aggregate en grondporieë. Hulle bevorder die grondomgewing vir kleiner organismes om in te leef.Die organismes meng en verplaas die organiese materiaal dieper in die grond.
Sommige van die makrofauna kan organiese materiaal ontbind en verteer, wat van die ander organismes nie kan doen nie. Die makroporieëwat hierdie organismes vorm, bevorder die groei van plantwortels en verbeter die infiltrasie van water in die grond.
Uitwerking van eksterne faktore
Die diversiteit van die spesies in die grond wissel soos die grondomgewing verander. Die klimaat het ook ’n invloed op die diversiteit van spesies in die grond. Eksterne faktore het ’n invloed op die organismepopulasies en organiese materiaal.Dit sluit in:
Stoppelbehandeling: Wanneer stoppels gebrand word, gaan die meeste van die koolstof verlore en die organismegetalle word onderdruk. Die habitat vir grondorganismes word verbeter as daar meer stoppels is.
Die tipe bewerking: Die verskillende bewerkings het voor- en nadele. Geenbewerking los baie organiese materiaal op die oppervlak,waar die meeste organismes voorkom. Geenbewerking is voordelig vir die gewenstefunguspopulasies, maar nadelig vir die patogeniese fungi. Die predatore wat op fungi en bakterieë voed neem ook toe, wat nadelig is vir die bakteriese populasie,wat alreeds onderdruk word.
Konvensionele bewerking is gunstig vir bakterieë en organismes wat vinnig kan versprei en ’n hoë metabolisme het. Die fungise hifes word deur die bewerking van grond gebreek en dit onderdruk die funguspopulasies. Hierdie praktyk versprei dieorganismes dieper in die grondprofiel en verlaag ook die ongewenste nematodepopulasies.
Gewasrotasie: Dit behels ’n verskeidenheid voordele vir die produksie van gewasse en die onderhoud van grondgehalte. Die toepassing van gewasrotasie is uiters voordelig vir die grondorganismes. Wanneer verskillende gewasse geplant word, bevorder dit die diversiteit van organismes wat in die grond voorkom. Ander voordele sluit in die vermindering van plantsiekteswanneer die organismepopulasies in balans is en meer diverse plantbeskikbare minerale.
Insette: Kunsmis wat toegedien word, dien as ’n ekstra bron van energie vir sommige spesies en bevorder die populasiegetalle. Hoë kunsmistoedienings het ’n negatiewe impak op die simbiotiese verhouding tussen die organismes en die plant, wat veroorsaak dat die organismes se getalle afneem. Kunsmis en praktyke wat die grond-pH verlaag of te hoog maak, is ongewens vir sommige grondorganismes.
Chemikalieë wat gebruik word vir die beheer van onkruide en insekte, het ’n negatiewe impak op die grondorganismes as dit direk in die grond geplaas word of as toedienings nie volgens die etiket gedoen word nie. Die afbreking en ontbinding van chemiese verbindings in organiese materiaal is langer skadelik vir die organismes as wanneer dit net op die grond voorkom. Sommige chemikalieë het ’n voordelige uitwerking op fungi en ander organismepopulasies, al is dit nie die funksie van die chemikalieë nie.
Voorstelle
Daar is vandag al soveel navorsing en wetenskaplike toepassings wat gebruik word om die lewe in die grond te verbeter. Die afgelope dekades word landboupraktyke aangepas om die grondgesondheid te verbeter. Daar is reeds ’n wye reeks produkte beskikbaar,wat gebruik word om die saad en grond te inokuleer,en dit bevorder die bakterieë en funguspopulasies in die grond.
Dekgewasse is ’n opsie om meer lewende wortels in die grond te behou,wat die biodiversiteit van die organismepopulasies ondersteun. ’n Voorstel wat ook algemeen voorkom, is om meer organiese materiaal op die oppervlakte te los ofom slegs ‘n gedeelte in te werk.
Samevatting
Die organismes wat in die grond leef, verrig belangrike funksies en bevorder prosesse wat baie voordelig vir die landbougemeenskap is. Dit is nie net vir die natuur voordelig om die lewe in die grond te verbeter nie, maar ook vir die produsent wat produktief en volhoubaar wil produseer.
Bronnelys
Alexandra Band Benites J, 2005. The importance of soil organic matter. FAO United Nations, Rome
Future Directions International, 2017. Living soils: The role of microorganisms in soil health. http://www.futuredirections.org.au/publication/living-soils-role-microorganisms-soil-health/ [17 April 2020]
Gupta VVSR, Neate SMand Leonard E. Life in the soil.