VulPro het op 26 Junie vanjaar uitgevind van ‘n aasvoël in die Kroonstad-omgewing, wat nie kan vlieg nie. Ons het gereageer en gevind dat die aasvoël net een been het en derhalwe nie in die lug kan kom om te vlieg nie. Die aasvoël is na VulPro gebring en deur die personeel ‘Stompie’ gedoop.
Stompie is toe na ‘n veearts in Broederstroom geneem, waar sy behandeling ontvang het. Sy het steeds plat op die grond gelê en kon glad nie staan nie. Nadat sy gestabiliseer is, is Animotion, ‘n organisasie wat in prostese vir diere spesialiseer, gekontak vir moontlike hulp. Hulle het die uitdaging aanvaar en ‘n kunsbeen van plastiek, aluminium en rubber gemaak.
Animotion het die afmetings op 27 Junie 2020 kom neem en was twee weke later terug met die prostese. Die prostese is aangesit en onmiddellik daarna het Stompie regop gekom en op die kunsbeen gestaan. Sedertdien het Stompie baie goed aangesterk en al op die been begin rondloop. Sy is deur Katie Ballinger van die Verenigde State van Amerika (VSA) aangeneem, wat haar finansieel ondersteun.
Produsente wat aasvoëls of enige ander groot roofvoël sien wat siek of gewond is, kan vir Kerri Wolter by kerri.wolter@gmail.com of telefonies by 082 808 5113 kontak.
Kontak ons met vars voëlnuus
Produsente wat interessante voël waarnemings maak, kan dit na Arena Voëlnuus stuur by mdup@mweb.co.za.