Die breër groep van groot roofvoëls word in ware arende, woue, slangarende, jakkalsvoëls, sperwers, singvalke, vleivalke, ware valke en valke verdeel. In hierdie artikel word die ware arende afgehandel met die langkuifarend en witkruisarend.
Kenmerkend van die ware arende is dat hulle bene tot by die kloue beveerd is. Voorts is hulle met sterk haaksnawels en skerp kloue toegerus om prooi mee te dood en te verskeur.
Langkuifarend
Die langkuifarend is ‘n medium-grootte arend met ‘n donkerbruin veredrag, wit vere op die bene en met ‘n kenmerkende kuif op die agterkop wat dikwels deur die wind van agter opgewaai word. Die mannetjie se kuif is langer as dié van die wyfies. Langkuifarende is sowat 53 cm tot 58 cm van die snawel tot by die stert en weeg ongeveer 0,9 kg tot 1,2 kg. Hulle het ‘n vlerkspan van 1,1 m tot
1,3 m.
VERSPREIDING EN HABITAT
Langkuifarende is ‘n redelik algemene arend in Suid-Afrika, maar was in die verlede selde of ooit in Noordwes aangeteken.Die afgelope paar jaar word hulle heel dikwels in die oostelike dele van Noordwes opgemerk, waaronder Koster en Potchefstroom. In Suid-Afrika kom hulle hoofsaaklik oos van ‘n denkbeeldige lyn vanaf Mussina tot by George, voor. Hulle verkies klam boomryke gebiede soos beboste valleie, bergagtige boomveld, plantasies, boomryke boerderystreke en boorde met kolle klam grasveld waar hulle graag jag.
GEDRAG
Langkuifarende kom alleen of in pare voor en spandeer groot dele van die dag op ‘n prominente sitplek bo-op ‘n boom of ‘n paal, dikwels langs paaie. ‘n Individu het tipies ‘n paar gunsteling plekke waar hy gereeld sit.
EETGEWOONTES
Hierdie arendspesie jag gewoonlik vroeg soggens en laat-middag oor ‘n relatief klein area van sowat 150 ha. In ‘n studie is bevind dat 41 van 106 jagpogings suksesvol is. ‘n Klein prooi word heel ingesluk, terwyl groter prooi uitmekaar geskeur word. Groot prooi word dikwels op die grond verskeur en geëet.
Hulle maak hoofsaaklik jag op vleirotte, maar waterrotte, rietrotte, streepmuise en ander knaagdiere beland ook op die spyskaart. Minder gereelde prooi is voëls, paddas, slange, akkedisse, krappe, sprinkane en kewers. Die dieet word met wildevye en bessies aangevul.
BROEIGEWOONTES
Langkuifarende is monogaam (vorm pare) en pare bly verskeie seisoene bymekaar. Hulle is territoriaal en individue keer jaarliks na hul territorium toe terug. Die hofmakery behels dat die paar saam rondvlieg. Albei geslagte bou of herstel dieselfde nes wat uit ‘n stokplatform bestaan en met blare uitgevoer word. Vars nesmateriaal word tydens die broeiery bygevoeg. Die nes van tot 600 mm in deursnee, word hoog in ‘n groot boom op ‘n dik tak gebou. In Mpumalanga is bloekombome baie gewild vir die nes. ‘n Paar sal dieselfde nes tot vyf keer agtereenvolgens gebruik, of daar word tussen twee neste afgewissel.
Hulle broei deur die jaar, maar die piek broeityd is van Julie tot November. Een tot twee eiers word gelê en die wyfie sal soms weer eiers lê en broei indien die eerste broeipoging misluk. Die wyfie behartig die meerderheid van die broeiwerk vir sowat 42 dae, maar word vir kort tye deur die mannetjie afgelos wanneer sy gaan kos soek. Die broeiende wyfie word deur die mannetjie gevoer.
Die eiers broei ‘n paar dae uitmekaar uit en die groter kuiken sal selde die jonger een doodmaak. Kuikens is teen 40 dae bykans vol geveerd en kan na 33 dae self eet en word dan al minder gevoer. Die kuikens kan op 35 dae begin vlieg.
Mortaliteite van kuikens is dikwels weens sterk wind wat die nes uit die boom waai, brande, steurings wanneer plantasiebome afgesaag word, plunder van eiers en kuikens deur muskejaatkatte en ape. Die jonges bly vir sewe weke in die omgewing van die nes nadat hulle die nes verlaat het en word nog deels gevoer, terwyl hulle twee maande nadat hulle die nes verlaat het, begin om te probeer jag.
Sowat 73% van die pare broei jaarliks, terwyl 56% van hulle ‘n jongeling suksesvol grootmaak.
BEDREIGINGS
Langkuifarende se populasies het in die onlangse verlede begin uitgebrei sedert hulle ‘n aantal jaar gelede as kwesbaar gelys is en hulle gebiede is ook aan die uitbrei. Hulle word deur kragdrade doodgeskok, vlieg teen kragdrade vas en sommiges word op paaie doodgery.
Witkruisarend
Wanneer die witkruisarend vlieg is daar ‘n wit gedeelte aan die punt van die vlerk. Witkruisarende is sowat 80 cm tot 96 cm van die snawel tot by die stert en die mannetjies weeg ongeveer 3,7 kg en die wyfies 4,5 kg. Die vlerkspan is sowat 2 m tot 2,8 m.

VERSPREIDING EN HABITAT
Hulle kom feitlik oral in Suid-Afrika voor, maar is skaars in Noordwes en die noordweste van die Vrystaat. Hulle verkies bergagtige streke met groot kranse waar hulle broei en naby rotsagtige koppies waar daar dassies is.
GEDRAG
Witkruisarende kom meesal in pare voor. Hulle is veral vroeg soggens en laat-middag/vroeg-aand aktief. Hulle rus graag in skadu gedurende die warm gedeeltes van die dag of sweef op warm stygende lugkolomme en sweef ook op stygende lug wanneer wind teen berge op waai. Hierdie arendspesie slaap op ‘n krans, gewoonlik naby die nesplek. Territoriale gevegte vind in die lug plaas en hulle sal mekaar se voete vasgryp en dan na benede tuimel.
EETGEWOONTES
Jagwerk word in vlug of vanaf ‘n sitplek gedoen. Hulle sal soms by karkasse aas. Jagsukses wissel tussen sowat 30% en 50 % van pogings en hulle sal tipies een keer per 30 uur prooi vang met die meeste van die prooi wat op die grond of op rotse gevang word.
Hulle jag in pare waartydens die een die prooi sal opjaag en die ander een dit vang. Dassie word vanaf hoë kranse verjaag sodat hulle hulself doodval, waarna hulle dan die prooi eet. Witkruisarende sal soms dassies vanuit ‘n boom op die grond vang of uit die boom verjaag en dan op die grond vang. Dassies word veral vroeg soggens en laatmiddag gevang wanneer hulle in die son sit en bak.
Sowat 50% tot 90% van witkruisarende se dieet bestaan uit dassies. Verder vang hulle blou-ape, jong bobbejane, rietrotte, duine-molle, nagape, boomeekhorings, hase, ystervarke, wildekatte, grysduikers, klipspringers, rietbokke en springbokke. Voëls soos tarentale, fisante, korhane, kolganse, aasvoëlkuikens, reiers, ibiskuikens, meeue en duiwe word gejag. Soms sal slange en likkewane ook ten prooi val. Skilpaaie word in die lug ingedra en op klippe laat val om die dop oop te breek.
BROEIGEWOONTES
Witkruisarende is ook monogaam en pare vorm dikwels ‘n jarelange band. Hulle is deur die jaar territoriaal met verskeie nesplekke in die territorium, maar ‘n sekere nesplek is gewoonlik die gunsteling en word vir jare lank gebruik. Die hofmakery behels onder andere ‘n lugvertoon. Albei geslagte bou aan die nes, dikwels ‘n vorige nes op ‘n rotsbank, maar selde in ‘n boom. Die nes bestaan uit ‘n platvorm (2,4 m in deursnee) van stokke en takke. Dit word met groen materiaal uitgevoer.
Hulle broei gedurende April tot Julie en die wyfies lê gewoonlik een tot twee eiers, met die tweede eier kleiner as die eerste een. Sommige pare sal weer eiers lê indien die eiers verlore gaan. Die wyfie broei snags en die meeste van die dag vir 44 tot 48 dae. Die mannetjie sal die broeiwerk oorneem wanneer die wyfie eet of jag.
Die eerste eier se kuiken broei ook eerste uit en is gewoonlik groter as die tweede een. Die ouer kuiken domineer gewoonlik die jonger kuiken en sal die jonger een gewoonlik doodmaak. Kuikens is op 11 tot 13 weke vol vere en begin op ses weke self vreet, maar word deels ook deur die wyfie gevoer met kos wat die mannetjie nes toe bring. Volwassenes sal die jongeling na sowat vier maande nadat die nes verlaat is, uit die territorium verjaag. Die broeisukses is sowat 80% vir pare wat twee eiers lê en sowat 40% vir pare wat slegs een eier lê.
BEDREIGINGS
Witkruisarende se populasies is redelik stabiel. Hulle verdrink in sementdamme en word soms deur kragdrade doodgeskok. Eiers en kuikens word deur muishonde, bobbejane, slange en luiperds geroof.
Bronnelys
- Chittenden H, 2009. Roberts Voëlgids, ‘n volledige veldgids tot meer as 950 voëlspesies in Suider-Afrika. John Voelcker Voëlboekfonds. Jacana
- Loon R en Loon H, 2005. Birds the inside story. Struik Uitgewers. SA
- Oberprieler U en Cillié B, 2008. Die voëlgids van Suider-Afrika. Lapa Uitgewers (Edms.) Bpk. Pretoria
- Roberts, 2011. Roberts VII Multimedia. PC Edition Version 1.2. Birds of Southern Africa. Southern Birding CC
- Sinclair I en Ryan P, 2009. Volledige fotografiese veldgids – voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Suid-Afrika
- Southern African Bird Atlas Project: http://sabap2.adu.org.za