Birdlife South Africa
Birdlife South Africa het voëlkykers in Suid-Afrika gevra om hul gunstelingvoël te nomineer. Al die nominasies is verwerk en die tien gunstelingvoëls is:
- Visarend
- Gewone JanFrederik
- Visuil
- Bosloerie
- Berghaan
- Gewone troupant
- Sekretarisvoël
- Konkoit
- Breëkoparend
- Rooiborslaksman
Uit die totaal van 862 voëls wat in Suid-Afrika voorkom, is 351 spesies deur 2 256 persone genomineer. Die naby-wenners was die hoephoep, bruinkopvisvanger, kroonarend, bromvoël, kuifkopvisvanger, knysnaloerie, witkruisarend, baardaasvoël, kuifkophoutkapper, paradysvlieëvanger, witkoluil en die bokmakierie.
BEWARING
Die tweede “aasvoël veilige sone” wat in Suid-Afrika gevestig is, is in noord KwaZulu-Natal opgerig. (Die eerste een is die Tswalu Kalahari Reserve.) Dit word deur Birdlife South Africa georganiseer en het ten doel om groot areas te identifiseer waar aasvoëls gereeld voorkom. Grondeienaars word dan gevra om deel te neem aan die projek deur praktyke te volg wat veilig vir aasvoëls is. Dit behels ‘n protokol waarvolgens onder andere slegs veilige veemiddels gebruik word en karkasse nie vergiftig word nie.
Kontak ons met vars voëlnuus
Produsente wat interessante voëlwaarnemings maak, kan dit na NWK Arena Voëlnuus stuur by mdup@mweb.co.za.