(DEEL 74)
Geelbek- en swartwoue
Die breër groep van groot roofvoëls, word in ware arende, woue, slangarende, jakkalsvoëls, sperwers, singvalke, vleivalke, ware valke en valke verdeel. In hierdie artikel bespreek ons die geelbek- en swartwou.
Woue is medium-grootte roofvoëls en kleiner as arende maar groter as valke. Hulle het kaal bene, teenoor die ware arende waarvan die bene tot op die voete geveerd is. Kenmerkend van die woue is hul lang sterte. Hulle sweef die grootste deel van die dag al draaiend en swaaiend relatief laag oor die jaggebied, wat dikwels dorpsgebiede insluit. Dié twee spesies is nogal moeilik om van mekaar te onderskei.
Geelbekwou
Geelbekwoue is sowat 51 cm tot 60 cm van die snawel tot by die stert. Mannetjies weeg tussen 567 g en 760 g en wyfies tussen 617 g tot 750 g. Die vlerkspan is 133 tot 140 cm. Geelbekwoue kan met swartwoue verwar word.
VERSPREIDING EN HABITAT
Geelbekwoue kom gedurende die somer feitlik oral in Suid-Afrika voor. Hulle arriveer in swerms gedurende Augustus en vertrek weer gedurende Maart tot Mei verder noord in Afrika in. Hulle is meer algemeen in boomveld en plattelandse dorpsgebiede met baie bome, maar minder algemeen in grasveld en dorre streke, soos die Kalahari en Karoo.
GEDRAG
Hierdie voëls kom alleen of in pare voor. Hulle vlieg heeldag draaiend en swaaiend laag oor die jaggebied (veral dorpe) en gebruik hul sterte om te stuur. Dié lang sterte maak hulle ook baie rats. Stertvere maak gereeld oop en toe en dit is wanneer die V in die stert sigbaar is.
EETGEWOONTES
Geelbekwoue jag vanuit die lug deur te sweef en die grond te bespied. Wanneer hulle prooi sien, duik hulle vinnig af om die prooi op die grond te gryp of voëls in vlug te vang. Hulle is uiters opportunisties en sal selfs kos vanaf ‘n piekniektafel gaps. Karkasse word op die pad gegryp en hulle sal ook ander roofvoëls se prooi afneem. Tydens brande word diertjies wat vir die vuur vlug, gevang. Hulle voed ook op vlieënde termiete tydens termietuitbrake of aas by dooie karkasse.
Hulle maak hoofsaaklik jag op klein soogdiere, reptiele, voëls, paddas, insekte en vis, en aas by ‘n verskeidenheid karkasse.
BROEIGEWOONTES
Nie alle geelbekwoue wat na Suid-Afrika migreer, broei hier nie. Hulle is monogaam en territoriaal. Dit word bespiegel dat pare lewenslank vorm. Territoriums word dadelik ná aankoms oorgeneem en verdedig. Die nes word deur albei geslagte gebou en word jaarliks oor en oor gebruik. Dit is ‘n platvormnes van stokke (50 cm tot 80 cm in deursnee) op ‘n hooftak of mik in ‘n groot boom tussen 5 m en 30 m bokant die grond. Die nes word met sagte materiaal soos wol, hare, tou, materiaal, vel en mis uitgevoer.
Paartyd is Augustus tot Desember en daar word en tot vier eiers gelê. Albei ouers broei vir 31 tot 38 dae, maar die wyfie behartig die meeste van die broeiwerk. Hulle is baie aggressief rondom die nes en sal selfs mense en ander predatore aanval. Ouers voer die kuikens op die nes en op dag 30 kan hulle self begin eet. Die meeste van die kos word deur die mannetjie nes toe gebring, waar die wyfie dit vat om die kuikens te voer. Vanaf dag 30 begin die wyfie ook om kos nes toe te bring. Die kuikens verlaat die nes op dag 40, wanneer hulle na takke naby die nes beweeg en in die boom rondklouter en vladdervlieg. Hulle kan op dag 42 tot 45 vlieg.
BEDREIGINGS
Omdat geelbekwoue by karkasse aas, maak vergiftigde karkasse hulle kwesbaar. Hulle word ook op paaie doodgery wanneer hulle aan karkasse aas.
Swartwou
Swartwoue is sowat 51 cm tot 60 cm van die snawel tot by die stert en die mannetjies weeg sowat 450 g tot 850 g en die wyfies 750 tot 1,076 g. Die vlerkspan is omtrent 170 cm. Swartwoue kan met geelbekwoue verwar word.
VERSPREIDING EN HABITAT
Hierdie voëls kom basies noord van die Garieprivier voor. Hulle is baie skaarser as geelbekwoue maar is volopper in die dorre noord-weste, waar hulle nomadies is. Hulle arriveer gedurende Oktober/November met die aanvang van die reënseisoen in groot swerms en vertrek weer Maart. Al verkies hulle droë oop boomveld, kom hulle ook in woudrante tot halfwoestyn voor.
GEDRAG
Swartwoue kom in groot swerms voor saam met ander migrerende roofvoëls – soos steppe-arende, kleinrooivalke en geelbekwoue – wat reënfronte volg agter vlieënde termietuitbrake aan. Hulle slaap in swerms in groot bome soos bloekombome, veral naby menslike nedersettings en gebruik dikwels elke aand dieselfde slaapplek.
EETGEWOONTES
Swartwoue is net so opportunisties en aanpasbaar as geelbekwoue. Hulle maak veral op termiete jag, waar hulle in vlug of op die grond gevang word. Verder eet hulle ook klein soogdiere, voëls, reptiele, paddas en aas by karkasse.
BROEIGEWOONTES
Swartwoue broei nie in Suid-Afrika nie, maar in Noordwes-Afrika, Oos-Europa en Asië.
BEDREIGINGS
Omdat swartwoue by karkasse aas, maak vergiftigde karkasse hulle kwesbaar.

Bronnelys
- Chittenden H, 2009. Roberts Voëlgids, ‘n volledige veldgids tot meer as 950 voëlspesies in Suider-Afrika. John Voelcker Voëlboekfonds. Jacana
- Loon R en Loon H, 2005. Birds the inside story. Struik Uitgewers. SA
- Oberprieler U en Cillié B, 2008. Die voëlgids van Suider-Afrika. Lapa Uitgewers (Edms.) Bpk. Pretoria
- Roberts, 2011. Roberts VII Multimedia. PC Edition Version 1.2. Birds of Southern Africa. Southern Birding CC
- Sinclair I en Ryan P, 2009. Volledige fotografiese veldgids – voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Suid-Afrika
- Southern African Bird Atlas Project: http://sabap2.adu.org.za