Birdlife South Africa
ROOIDATALYS
Suid-Afrikaanse voëls wat op die rooidatalys tot “bedreig” gegradeer is:
- Sekretarisvoël
- Berghaan
- Breëkoparend
KALKOENIBISSE BROEI WEER VOLUIT
Die Bedforddam, wat vir die Ingula Pumped Storage Scheme van Eskom op die rant van die Drakensberg eskarp 25 km noord van Van Reenen gebou is, sou ‘n broeikolonie kalkoenibisse se neste in die kranse van die dam se bakruim, met water vul. Birdlife SA en Eskom het ‘n projek geloods om kunsmatige nesgate in dieselfde kranse, maar bokant die watervlak, te maak. Die kolonie het die afgelope aantal jaar op ander rotslyste in dié kranse gebroei, en jaarliks ongeveer vier kuikens grootgemaak. In 2020 het hulle egter na jare vir die eerste keer die kunsmatige nesgate betrek en is daar gedurende 2020 nie minder nie as 13 kuikens grootgemaak.
OOSTELIKE ROOIPOOTVALK
Oostelike rooipootvalke broei in Oos-Asië en besoek Suidelike-Afrika gedurende ons somer. Een van hulle is vier jaar gelede met ‘n satellietopsporingtoestel toegerus. Dié individu het die afgelope vier jaar sowat 116 000 km tussen Suid-Afrika en ‘n gebied noord van Beijing getrek. Ongelukkig het di toestel verlede jaar ophou werk.
Bewaring
VULPRO
VulPro is ‘n rehabilitasiesentrum in die Magaliesberg vir roofvoëls, veral vir aasvoëls.
Roofvoëls in versorging
Teen die einde van 2020 was daar meer as 260 aasvoëls en ander roofvoëls by VulPro. Al hierdie voëls moet elke dag versorg en gevoed word. Wat ‘n wonderlike bydrae tot bewaring!
Monitering van neste
Daar word op verskeie gebiede aasvoëlneste gemoniteer. Een so ‘n lokaliteit is op Omega Game Ranch naby Mareetsane, waar 56 neste die afgelope jaar gemoniteer is, met ‘n 86% sukseskoers om kuikens groot te maak. Van hierdie kuikens is ook gering.
Uitbroei van eiers
As ‘n reël word die eiers wat deur die broeipare by VulPro gelê word, verwyder en in broeikaste uitgebroei, om ‘n hoër broeikoers te behaal. Weens die COVID-19-inperking, is die eiers die afgelope jaar by die ouers gelaat sodat hulle dit self uitbroei. Soos verwag, was die sukseskoers baie laer en het slegs sewe kuikens grootgeword.
Satellietmonitering
VulPro het die afgelope jaar 38 voëls wat met satellietopsporing toegerus is, gevolg en hulle trekgewoontes gemoniteer. Hierdie trekgewoontes is baie belangrike inligting tydens navorsingprojekte.
Aasvoëlrestaurante
VulPro was die afgelope jaar by verskeie aasvoëlrestaurante betrokke, onder andere die een in die Lichtenburg Wildteelsentrum.
Produsente wat aasvoëls of enige ander groot roofvoël wat siek of gewond is sien, kan vir Kerri Wolter by kerri.wolter@gmail.com of telefonies by 082 808 5113 kontak.
BARBERSPAN
Sampie van der Merwe, oordbestuurder, het laat weet van ‘n verskeidenheid voëls wat tans in die park gesien word: reusesterretjies, witbaardsterretjies, witvlerksterretjies, ‘n verskeidenheid eende, reiers, slanghalsvoëls, flaminke, oostelike rooipootvalke, sekretarisvoëls en visarende met hulle jongeling. Aasvoëls wat by die aasvoëlrestaurant gesien word, is witrugaasvoëls en swartaasvoëls. Produsente wat karkasse wil skenk, kan vir Sampie skakel by 082 443 9777.
VEILIGE SONES VIR AASVOëLS
Nog ‘n “aasvoël veilige sone” is gestig. Dit is die derde een vir Suid-Afrika en hierdie keer in die Karoo. Grondeienaars van 40 plase met ‘n gesamentlike oppervlakte van 315 000 ha, plus die Karoo Nasionale Park, Kamdeboo Nasionale Park en Bergsebra Nasionale Park, wat gesamentlik ‘n totale area van 23 000 km2 beslaan, is as ‘n “aasvoël veilige sone” verklaar. Die doel van sodanige projekte is om aasvoëlbevolkings te stimuleer om groter stabiele bevolkings te vorm. Veilige karkasse word in hierdie gebied vir aasvoëls uitgesit, kraglyne word beveilig en sementdamme word ook met strukture toegerus sodat indien aasvoëls in die dam val, hulle kan uitkom. Monitering van die kolonies word deurgaans gedoen.
Kontak ons
Produsente wat interessante voëlwaarnemings maak, kan dit na NWK Arena Voëlnuus stuur by mdup@mweb.co.za.