Pluimveeprodusente vra dikwels wat die werklike impak van mikotoksiene op die produktiwiteit van braaikuikens is. Wat na ’n eenvoudige vraag klink, is egter nie so maklik om te beantwoord nie.
Drie belangrike oorwegings speel ’n rol by die evaluering van die impak van mikotoksiene op braaikuikenproduktiwiteit:
- Besoedelingsvlakke in volledige voer.
- Direkte en indirekte invloed van mikotoksiene op die dier.
- Prestasieparameters.
Mikotoksiene in voer
Mikotoksiene kom gereeld in pluimveevoer voor. Volgens die Biomin World Mycotoxin Survey het meer as 8 000 monsters van volledige pluimveevoer tussen 2016 en 2020 positief getoets vir mikotoksiene. ’n Verdere ontleding het getoon dat 92% van die monsters met meer as een mikotoksien besmet was.
Dit is waarom dit belangrik is om die geheelbeeld te interpreteer en nie net na die invloed van ’n enkele mikotoksien te kyk wanneer die risiko’s daarvan in braaikuikenproduksie geëvalueer word nie. Toetse op die volledige voer en/of die bestanddele help om die dieregesondheidsrisiko te evalueer. Die gereelde voorkoms van mikotoksiene plaas druk op diere se immuunstelsels en verlaag hul prestasie.
Mikotoksiene in braaikuikens
Sigbare kliniese tekens by pluimvee, soos ’n vetterige lewer, erosie aan die bek of ’n sistiese oviduk, is nie altyd maklik identifiseerbaar in braaikuikens onder veldtoestande nie. Daar is twee hoofredes hiervoor:
- Eerstens beteken die kort lewensiklus van braaikuikens dat probleme nie altyd kans kry om te manifesteer nie.
- Tweedens bemoeilik die gesamentlike uitwerking van verskillende mikotoksiene die akkurate diagnose van mikotoksikose. Die belangrikste gevolge van mikotoksiene op immuniteit, inflammasie, oksidasie en dermgesondheid by pluimvee is egter duidelik in wetenskaplike proewe bewys.
IMPAK OP DERMGESONDHEID
Dit is reeds bewys dat mikotoksiene, veral deoksinivalenool (DON) en fumonisien (FUM), verskillende aspekte van dermintegriteit beïnvloed. Gesamentlik kan hierdie twee mikotoksiene verskeie dermfunksies belemmer deurdat dit die absorpsie-oppervlakte vir voedingstowwe verminder en gevolglik die spysvertering benadeel. Verder, deur die deurlaatbaarheid van die dermwand te verhoog, kry patogene, antivoedingsfaktore en gifstowwe toegang.
Figuur 1 toon die uitwerking van DON, nivalenool, FUM B1 (FB1), T-2 en ZEN op die dermepiteel. Dit verander die verskillende verdedigingsmeganismes, insluitend die epiteelintegriteit, selproliferasie, slymlaag, immunoglobuliene (Ig) en sitokienproduksie.
IMPAK OP VATBAARHEID VIR GESONDHEIDSKWESSIES
Antonissen et al. (2014) het bewys dat lae tot matige hoeveelhede Fusarium-mikotoksiene (DON, nivalenol, FUM, T-2 en searalenoon, oftewel ZEN) aanleiding gee tot verskeie belangrike siektes, soos koksidiose, salmonellose, nekrotiese enteritis en kolibasillose.
Kombinasies van DON, FUM en ZEN is geïdentifiseer as faktore wat die Eimeria-geïnduseerde immuunreaksie en die doeltreffendheid van die antikoksidiale behandeling verminder.
Die risiko vir nekrotiese enteritis word verhoog wanneer FUM en DON teenwoordig is. Bewyse van ’n hoër vatbaarheid vir Salmonella typhimurium is gerapporteer by die voorkoms van DON en T-2, wat daarop dui dat hierdie verbindings die bakteriese metabolisme kan moduleer. E. coli-patogenese word beïnvloed deur FUM, wat die dermkolonisering en translokasie van E. coli stimuleer.
IMPAK OP DIE IMMUUNSTELSEL EN LEWE
Dit is bekend dat die lewer deur die meeste mikotoksiene aangetas word, wat ’n verlies aan funksie van die hepatosiete veroorsaak. By braaikuikens is ’n sigbare, vetterige degenerasie en ’n toename van ongeveer 15% in lewergewig aangemeld.
’n Moontlike oplossing kan wees om die dieet by die voorkoms van mikotoksiene aan te pas. Die regte benadering is egter om ’n mikotoksien-deaktiveerder te gebruik om voedingsverliese te voorkom.
IMPAK OP IMMUNISERINGSUKSES
Modulasie van die immuunreaksie is een van die vernaamste werkswyses van mikotoksiene. Dit beïnvloed ander sanitêre aspekte soos inenting en dra dus by tot verlaagde immuniteit teen virussiektes. Hierdie “mislukte” inentings verhoog dan die vatbaarheid van pluimvee vir aansteeklike siektes, wat onder normale omstandighede voorkom kon word.
BEVORDERING VAN BAKTERIËLE BESMETTING VAN KARKASSE
Soos genoem, kan mikotoksiene die dikte van die dermepiteel verminder, wat tot ’n “lekkende dermkanaal” kan lei. Sodra die verbindings tussen dermselle ontwrig word, ruil molekules tussen die derm en die bloedstroom uit.
Hierdie toestand kan die besmetting van karkasse in die abattoir beïnvloed deur onder meer oortollige proteïene in die dermlumen, wat die verspreiding van patogene bakterieë soos E. coli, C. Perfringens en Salmonella sp ondersteun, en die hoër volume water in die dermlumen, wat tot meer uitskeidings en hoër besmettingsvlakke in die abattoir lei. Dus hou die voorkoming van ’n “lekkende dermkanaal” direk verband met die vermindering van geldelike verliese en die verbetering van voedselsekerheid in die pluimveebedryf.
Braaikuiken-prestasieparameters
Prestasie word steeds beskou as een van die belangrikste parameters om die sukses van pluimveeproduksie te evalueer. Met dié perspektief in gedagte, is dit duidelik dat mikotoksiene ’n braaikuikenboerdery se bestuursparameters negatief kan beïnvloed.
’n Datasamestelling van wetenskaplike proewe het getoon dat die voorkoms van mikotoksiene in pluimveediëte (P<0,05) die voerinname met 12% en die gewigstoename met 14% verminder het, wat tot ’n laer voeromsettingsverhouding (VOV) van 7% gelei het. Dit is hoofsaaklik weens ’n laer voerinname, wat ’n laer doeltreffendheid in proteïenneerlegging tot gevolg het.
Hiermee saam toon voorlopige resultate van ’n gesamentlike projek met die Universiteit van Gent ’n sinergistiese, negatiewe uitwerking van ’n disbiose-gestremde dieet en addisionele DON (5mg/kg) en FUM (20mg/kg) op prestasie.
Dié data toon ook dat die swakker prestasie duideliker in die finale fase blyk, wat die impak van mikotoksiene op die groeiparameters in die laaste tydperk van die braaikuiken se lewensiklus verskerp (Figuur 2).
’n Voorbeeld van ’n realistiese uitkoms word ook deur die data van Kolawole et al. (2020) weergegee. In sy langtermynevaluering van ’n kommersiële boerdery, is bewys dat natuurlike besmettingsvlakke binne die aanbevelings van die Europese Unie vir mikotoksiene ’n beduidende impak op die VOV het, wat die sinergistiese uitwerking van mikotoksiene en die swakker braaikuikenprestasie in kommersiële toestande bevestig.
Vir meer inligting en bronverwysings, besoek Biomin se webtuiste, www.biomin.net.
Kontaknommer: 018 468 1455/6
E-pos: albert.vanrensburg@biomin.net
Volg Biomin ook op Facebook: Biomin South Africa