Indien jy as boerdery-eienaar nie weet waarheen die boerdery op pad is óf ’n behoorlike plan in plek het nie, gaan dit moeilik wees om jou onderneming te verbeter of selfs te vergroot. Die plan begin by die vraag: Waarheen is ek op pad met my boerdery?
Die proses van langtermynbeplanning begin by die boerdery-eienaar self. Gelukkig hoef die produsent dit nie alleen te doen nie. In hierdie artikel word ’n aantal eenvoudige riglyne verskaf wat kan help met hierdie uiters belangrike proses.
Wat is langtermynbeplanning?
In kort is langtermynbeplanning die tipe beplanning wat waarskynlik oor ’n tydperk van vyf jaar en langer uitgevoer gaan word, waarna dit:
- Afgehandel of voltooid gaan wees.
- Ten volle in produksie gaan wees.
’n Tipiese voorbeeld hiervan is die beplanning wat nodig is om ’n pekanneutboord te vestig en die bome te versorg totdat dit in volle produksie is. Pekanneutbome begin gewoonlik eers vanaf die vyfde jaar ná vestiging produseer.
Dit neem gevolglik ook redelik lank voordat ekonomiese voordele verkry word. ’n Deel van hierdie langtermynbeplanning sal onder andere die volgende behels:
- Bepaal die beskikbaarheid van voldoende water.
- Vind geskikte grond en voldoende oppervlakte vir ontwikkeling.
- Vind uit watter kultivars die beste vir die betrokke gebied aangepas is en waar dit gekoop kan word.
- Beplan die uitleg van die perseel en berei die plantgate voor.
- Stel, waar nodig, die chemiese balans in die grond reg.
- Ontwerp en installeer ’n besproeiingstelsel.
- Plant die bome.
- Versorg die bome gereeld volgens die onderhoudsprogram.
- Ondersoek markgeleenthede vir pekanneute.
- Bepaal hoeveel kapitaal nodig is om die projek te begin en hoe die kontantvloei daar gaan uitsien tot die bome in volle produksie is.
Chemiese grondregstellings of selfs die vestiging van weiding is in wese niks anders as om ’n boerdery se volhoubaarheid te verbeter nie. Dit word nie alles binne een jaar bereik nie, maar oor tyd. Nog ’n voorbeeld van langtermynbeplanning is die besluit om ’n plaas te koop, daarna die koop oor ’n tienjaartydperk gefinansier te kry en elke jaar die paaiement suksesvol te betaal.
Die volgende stelling kan ook gemaak word:
Langtermynbeplanning = volhoubaarheid.
Langtermynbeplanning begin gewoonlik by ’n behoefte, probleem of tekort wat geïdentifiseer is. Dit gee weer aanleiding tot ’n ondersoek, wat by beplanning kan eindig. Hierdie ondersoek en beplanning word gedoen om iets te verander, uit te brei of om iets nuuts tot die boerdery te voeg, maar met die uitsluitlike doel om die boerdery te verbeter.
Verbetering van die boerdery = doeltreffender of winsgewender boerdery = om winsgewend volhoubaar te boer.
Dit is egter uiters belangrik om te besef dat langtermynbeplanning nie ’n eenmalige aksie is nie. Soos die tyd aanstap, moet veranderinge en aanpassings voortdurend gemaak word om by die beplande doelwitte uit te kom.
Aangesien daar in die landboubedryf ontsettend baie veranderlikes is, moet ’n langtermynplan eintlik ’n lewendige dokument wees wat gereeld hersien moet word. Die hoofdoel van die plan behoort nie te verander nie. Dit is net die manier om daarby uit te kom wat van tyd tot tyd aangepas kan word.
Dit is ook belangrik om te besef dat selfs ’n uiters deeglike langtermynplan nie noodwendig verseker dat die plan wel 100% gaan uitwerk soos wat aanvanklik beplan is nie. Weereens kan die talle veranderlikes in die landbou-omgewing die skuld hiervoor kry.
Hoe doen ek dit?
- Eerstens moet jy jouself dwing om verby die huidige produksiejaar en selfs die volgende produksiejaar te kyk en te dink.
- Dink uit die boks uit.
- ’n Huidige behoefte, probleem of tekortkoming kan aanleiding daartoe gee dat ’n nuwe idee kan ontstaan.
- Betrek jou gesin:
- Rondetafelgesprek.
- Informeel.
- Almal deel idees.
Betrek mense/kundiges buite jou boerdery, maar wat jou boerdery en jou werkswyses ken.
- Gebruik hulle as ’n klankbord.
- Bel jou adviseur en nooi hom/haar vir koffie, met die opdrag om net te kom luister en nie advies te gee nie.
- Waarom kan dit werk?
- Want dan dink jy nie net aan jou plan nie, maar jy “hoor” jou eie plan of idee.
Ná bogenoemde prosesse kan nuwe uitbreidings of aanpassings tot die boerdery geïdentifiseer word.
- Miskien kan ’n jarelange droom weer na die oppervlak kom?
- Binne bogenoemde stappe kan SWOT (Strengths, Weaknesses, Opportunities, Threats)-analises gedoen word. Visie- en missiestellings kan opgestel word. Dit hoef nie alleen gedoen te word nie, aangesien mense beskikbaar is om sulke prosesse te fasiliteer.
Wat moet nou gebeur?
- Omskryf die langtermynplan.
- Stel doelwitte.
- Wat wil jy bereik?
- Wanneer wil jy dit bereik?
- Hoe wil jy dit bereik?
Byvoorbeeld: 500 ha-lande kan binne die volgende vyf jaar na 1 000 ha vermeerder, met die gepaardgaande kapitale uitbreiding, óf vermeerder 100 koeie na 300 koeie.
- Ontleed jou plaas (indien dit nog nie gedoen is nie).
- Kyk na die geskiktheid van hulpbronne – grond, mense, toerusting – om die nuwe plan te akkommodeer.
- Kyk na die finansies:
- Hoeveel kapitaal is nodig vir uitbreiding?
- Waar gaan die kapitaal vandaan kom?
- Gaan die plaas se waarde verhoog?
- Wie is die opvolgers in die gesin wat met die boerdery kan aangaan?
- Wanneer al die praktiese aspekte oorweeg is, moet ’n finansiële plan opgestel word.
Aspekte om te oorweeg
- Daar gaan foute insluip. Wees voorbereid hierop en laat ruimte daarvoor.
- Kommunikasie:
- Weet almal wat by die plaas betrokke is (en in die toekoms betrokke gaan wees) van die plan?
- Die hele gesin moet betrek word.
- Die plaasbestuurder/voorman moet ’n baie goeie idee hê wat van hom verwag gaan word en waarom, met ander woorde waarheen hy moet werk.
- Arbeiders moet ’n oorhoofse idee van die plan hê, sodat hulle ook kan verstaan wat van hulle verwag word en waarom hulle iets spesifieks moet doen.
- Weet almal wat by die plaas betrokke is (en in die toekoms betrokke gaan wees) van die plan?
- Dit sal help dat almal in dieselfde rigting werk en produktiwiteit verhoog.
- Maak seker dat die korttermynproduksiebesluite in lyn is met die langtermynplan.
- Waak daarteen om jouself met ander produsente te vergelyk. Kyk na jou eie doelwitte, drome en ideale.
Gevolgtrekking
Elke produsent moet deeglik bewus wees van watter rigting sy boerdery gaan inslaan. Langtermynbeplanning met deeglik omskrewe doelwitte help om gefokus te bly op die einddoel – die droom.
Almal wat by die boerdery betrokke is en wat ’n invloed het op die uitvoering van boerderytake, behoort betrek te word om die droom te omskryf en ’n plan uit te werk om dit te bereik. Die plan kan in fases opgedeel word, met spesifieke doelwitte wat teen spesifieke einddatums bereik moet word. Dis verder ook uiters belangrik dat die droom deur almal in die boerdery nagejaag moet word om dit te verwesenlik. Maak die nodige aanpassings indien nodig.
Bronnelys
- Gitman LJ, 2000. Principles of managerial finance. Addison Wesley Publishing Company, Massachusetts
- Van Reenen MJ, Marais A de K en Nel PS, 1994. Finansiering, investering en menslikehulpbronbestuur. JL van Schaik Uitgewers, Pretoria