Die produksie en verskaffing van granate (Punica granatum) blyk om ’n besigheid te wees met ’n hoë winsmarge, en dit het oor die afgelope vyf jaar redelik momentum in Suid-Afrika gekry.
Onder dié tradisionele vrug se rooi wange skuil stroopsoet, sappige en boonop pitlose pêrels, wat oorlaai is met voedingstowwe, vitamiene en antioksidante. Die sap van granate is uiters gesog nadat onlangse mediese navorsing getoon het dat granaatsap se hoë vlakke van antioksidante kardiovaskulêre gesondheid kan verbeter, die groei van bors- en prostaatkankerselle inhibeer, asook allergieë en inflammasie verminder. Daar is ook gevind dat ’n daaglikse glas granaatsap selfs die libidovlakke ’n hupstoot kan gee (landbou.com, 2013).
Alhoewel volwasse granaatbome redelik droogteverdraagsaam is, reageer dié bome baie goed op besproeiing. Besproeiingskedulering word dus sterk aanbeveel om goeie vrugteproduksie aan te moedig.
Produksiepraktyke
Die ideale planttyd van granaatbome wissel van Julie tot Augustus. In die Suidelike Halfrond skakel die bome gedurende September tot Desember om van vegetatiewe na reproduktiewe groei. Dié vrug is tipies van Februarie tot einde Maart in seisoen (POMASA, 2013). ’n Klein opbrengs van ongeveer 2 t/ha is reeds moontlik in die tweede jaar nadat die bome geplant is, maar dit neem tot ses jaar voordat die bome hul volle kapasiteit van tot 30 t/ha bereik.
Die plantdigtheid word deur ’n kombinasie van omgewingsfaktore bepaal, maar die algemeenste digtheid van 4 m x 3 m (833 bome/ha) tot 5 m x 3 m (666 bome/ha) word aanbeveel (POMASA, 2013).
Kultivars wissel met betrekking tot die grootte van die vrugte, die skil se kleur (van geel tot pers/rooi), die interne arielkleur (van byna wit tot rooi), hardheid van die saad, sapinhoud, suur- en soetheid. Meer bekende kultivars in Suid-Afrika is Angel Red, Hershkowitz, Bhagwa, Arakta, Acco, Ruby, Ganesh, Mollar en Wonderful (Malanseuns, 2019).
Granaatbome is selfbestuiwend, maar daar is wel gevind dat bye (of ander insekte) ’n positiewe bydrae kan lewer deur die opbrengs met 15% tot 20% te verhoog. Blomontwikkeling vind plaas gedurende Oktober tot Desember, hetsy deurlopend of in drie tot vier sarsies (variëteitsafhanklik).
Daar is twee tipes blomme: Hermafrodities en manlik. Die hermafroditiese vrugdraende blomme kan uitgeken word aan hul voller, meer afgeronde basis, wat ietwat klokvormig lyk. Die meerderheid manlike blomme, wat nie vrugte dra nie, sal nouer en meer vaasvormig vertoon en sal afval (POMASA, 2013).

Bron: POMASA, 2013
Klimaat
- Granaatbome is geskik vir semi-droë tot ’n wye verskeidenheid ander klimaatstreke – van subtropiese tot Mediterreense gebiede met koel winters en warm somers.
- Granate vereis ’n warm en droë klimaat tydens die ontwikkeling en rypwording van vrugte.
- Humiede klimaatstoestande verlaag die vruggehalte en verhoog die voorkoms van swamsiektes (POMASA, 2013).
- Granaatbome is veral sensitief vir wind en uiters winderige gebiede moet dus vermy word tydens die beplanning van produksiepersele.
- ’n Volwasse granaatboom kan ryp verdra wanneer dit heeltemal rustend is, maar sal moontlik beskadig word indien dit ryp kry gedurende die eerste drie jaar na vestiging.
- In bome wat heeltemal sluimer, kan lae temperature van tot -10°C verdra word.
- Hoë somertemperature van tot 38°C kan goeie rypwording en ontwikkeling van die vrugte tot die optimale grootte en kleur bevoordeel. Uiterste hoë temperature sal egter tot sonbrandskade op die vrugte lei (POMASA, 2013).
Grondvereistes
Granate kan met sukses op ’n wye verskeidenheid gronde verbou word – van suiwer sand tot swaar kleigronde. Optimale groeitoestande word egter in dieper, goed gedreineerde leemgrond met ’n goeie vog- en voedingsretensievermoë bereik, met ’n pH wat tussen 6,5 en 7,5 kan wissel.
Dié bome kan redelik alkaliese gronde (12% tot 15% aktiewe kalk), matige soutwater en grondtoestande tot 6 dS/m verdra. Opbrengste is gewoonlik laer op sandgronde, tensy die boord goed besproei word. Die gehalte en kleurontwikkeling is egter beter op ligter gronde. Die verbouing van granaatbome op swak gedreineerde grond met ’n hoë klei-inhoud moet vermy word, aangesien dit tot wortelvrot en ’n swak vrugkleur kan lei (POMASA, 2013).
Vogvereistes
’n Granaatboom benodig ongeveer 650 mm water per jaar. Die waterbehoefte is ’n funksie van die atmosferiese verdampingsbehoefte. In gebiede met voldoende besproeiingsgeriewe gedurende die somerseisoen, kan ’n blomperiode gedurende Januarie vrugte van ’n beter gehalte lewer (Agri Films, 2019).
Oorbesproeiing het gewoonlik ’n groter impak op granate as onderbesproeiing. Dit kan lei tot die verandering van die granaatboom se wortelstelsel en die wortels sal afsterf. Gereelde, maar nie oormatige besproeiing nie, is egter nodig tydens die vestiging van jong boompies.
Gedurende die somer moet gewaak word teen oormatige grondvog. Dit kan lei tot welige vegetatiewe groei, wat daartoe kan aanleiding gee dat die vrugte wat geproduseer word sagter sal wees, wat die oesgehalte nadelig kan beïnvloed. ’n Algemene riglyn vir die waterbehoefte van granate onder besproeiing is 15 m³/ha/dag in die lente en ’n daaglikse hoeveelheid van tot 50 m³/ha/dag in die somer. Die totale hoeveelheid water benodig per seisoen word op ongeveer 6 000 m³/ha geskat (landbou.com, 2013).
Voldoende en gereelde besproeiing sonder groot variasie in die wortelsone se grondvog is noodsaaklik vir beter vrugontwikkeling en om vrugkraak te voorkom. Besproeiing is noodsaaklik en moet noukeurig geskeduleer word tydens blom en rypwording van die vrugte, aangesien vogstremming sal lei tot blom- en vrugval en vrugte wat op ’n volwasse stadium kan kraak.
Vrugkraak by jong vrugte is te wyte aan kalsium-, boor- en kaliumtekorte. Kraking by ontwikkelde vrugte is die gevolg van ’n vogwanbalans (groot veranderinge in die grondvog, dampdruktekorte en temperature). Langdurige droogte veroorsaak verharding van die skil en indien die droogte gevolg word deur swaar besproeiing of reën, groei die pulp en die skil kraak.
Vrugkraak kan voorkom word deur die optimale grondvogstatus te handhaaf, asook gereelde besproeiing gedurende die ontwikkeling van vrugte.
- Spuit Borax teen 1,0 g/liter + Cyto-enzym teen 1,0 ml/liter of Solubor teen 2,0 g/ liter om krake van jong vrugte te voorkom.
- Bespuit met 1,0 kg CaCl2 in 100 liter water of hidrokalsiumnitraat teen 5 g/ liter tot 7 g/ liter tydens die ontwikkeling van vrugte om vrugkraking te voorkom (landbou.com, 2013).
Drupbesproeiing
Die meeste kommersiële granaatboorde word besproei en drupbesproeiing word gewoonlik aanbeveel (een of twee lyne druppers per ry) by die verbouing van granaatbome. Mikrosproeiers kan ook gebruik word en ’n besproeiingspesialis kan in hierdie verband gekontak word. Oorhoofse besproeiing word nie aanbeveel nie, aangesien die verspreiding van veldpatogene sal verhoog en vrugte sal verminder (blomme is uiters sensitief vir hoë humiditeit en vog).

Bron: Agri Films, 2019
Drupbesproeiing tydens bevrugting verhoog die totale opbrengs (30% tot 35%) en waterbesparing (43%). Besproeiing met soutwater (>4,5 dS/m) het ’n nadelige invloed op normale vrugontwikkeling (landbou.com, 2013).
Die agronomiese rol van drupbesproeiing is die volgende:
- Dit verhoog die opbrengs van vrugte.
- Verbeter die vruggehalte, naamlik die gewig, grootte en skilkleur.
- Dit verbeter die doeltreffendheid van die bemesting en watergebruik.
- Bied beter beheer oor bome se rusperiodes.
Dit lei tot:
- Optimale grondwater-, lug- en plantverhoudings.
- ’n Vinniger groeitempo.
- Verbeterde assimilasie-afskorting tot topgroei, wat tot hoër oesindekse bydra.
- Verhoogde wortelpenetrasie en -verspreiding.
Rypwordingproses
Die komplekse volwasse granaatvrug bestaan uit die eetbare inwendige deel (arils) en die uitwendige vel (skil). Die rooi skil van die vrugte is hoofsaaklik as gevolg van die pigment antosianien. Verskeie eksterne faktore, soos temperatuur en lig, speel ook ’n belangrike rol in dié vrugte se skilkleur (Wikipedia, 2020).
Granate is ’n nie-klimateriese vrug en moet dus gepluk word as dit ten volle ryp is. Die oes van onvolwasse of oorryp vrugte beïnvloed die gehalte. Die vrugkleur is nie ’n veilige gids om volwassenheid te bepaal nie. Dit neem vrugte ongeveer vyf tot ses maande vanaf blomtyd (135 tot 150 dae) om oesgereed te word (Agri Films, 2019).
Wanneer granate volwassenheid bereik, duik die sykante van die vrug in en die kelk aan die distale punt van die vrug maak toe. Ryp vrugte gee ’n duidelike geluid van korrels wat binne-in breek as dit van buite af gedruk word. ’n Volgroeide (ses jaar), goed bestuurde boom sal jaarliks 80 tot 100 vrugte lewer en het ’n lewensduur van 25 tot 30 jaar (Malanseuns, 2019).

Bron: landbou.com, 2019
Samevatting
Met die gladde skil, knalrooi pêreltjies en talle gesondheidsvoordele is die granaat inderdaad ’n verleidelike vrug. G’n wonder die wêreldmarkte ding mee vir dié vrug nie.
Bronnelys
- Agri Films, 2019. Irrigation and weed control in pomegranate garden. (Aanlyn-video, 9 Februarie 2019). https://www.youtube.com/watch?app=desktop&v=5QinX7iWa5o. [16 Januarie 2021]
- Botha L, 2008. Bloedrooi pêrels glinster. Landbou.com, 2020. https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/granate/ [17 Januarie 2021]
- Malanseuns, 2019. Pomegranate/Granaat Wonderful.
https://www.malanseuns.co.za/pi1091/ci6/malanseuns/edibles-and-herbs/incredible-edibles/pomegranate-/-granaat-wonderful.html. [14 Januarie 2021] - POMASA, 2013. Pomegranate production guidelines. https://www.sapomegranate.co.za/wp-content/uploads/2017/08/POMASA-Technical-Production-Manual-1.pdf. [12 Januarie 2021]
- Wikipedia, 2020. Granaat (vrug). https://af.wikipedia.org/wiki/Granaat_(vrug). [13 Januarie 2021]