Grondhervorming is een van talle regstellende stappe wat die ANC-regering die afgelope bykans drie dekades toepas om die landboubedryf meer verteenwoordigend van Suid-Afrika se demografie te maak. Pleks daarvan om historiese onregte te herstel, misluk grondhervorming egter op talle gebiede.
Die onreg wat die apartheidsregering swartboere aangedoen het, durf ons nie ontken nie. Hulle is in die 1970’s onder die vaandel van die sogenaamde Wet op Afsonderlike Ontwikkeling, ook bekend as die Groepsgebiedewet van 1950, van hulle grond verwyder wat dan aan blanke produsente toegeken is.
Ek het in 2009 in ongeloof gestaan op voorheen vooruitstrewende piesangplase in die Laeveld van Mpumalanga – heeltemal verlate. Vrugbare grond was onbewerk. Sinkplate, vensterrame en ander yster is van die eens swierige plaashuise gestroop.
Vra jy die begunstigdes wat fout gegaan het, wys hulle die vinger na die regering en titelaktes wat nie oorgedra is nie. Niemand wou sonder dié sekuriteit lenings toestaan nie. Die gemeenskaplike eiendomsverenigings wat begunstigdes gevorm het, kon ook dikwels nie ooreenkom oor wat met die grond moes gebeur nie. Die een helfte wou boer, terwyl die ander dit wou verhuur of teen ’n wins wou verkoop. Sonder konsensus onder lede van dié verenigings staan alle werksaamhede stil.
Ander redes sluit korrupsie en selfs sabotasie in. Vat nou maar die eens welvarende Rietfontein-wildreservaat by Braklaagte naby Zeerust. Dié gesogte plaas is deur Noordwes se Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vir R32 miljoen gekoop, en in 2012 deur middel van ’n suksesvolle grondeis aan die gemeenskap van Braklaagte toegeken.
In 2017 kon die begunstigdes steeds nie die grond benut nie. Die vorige eienaar het intussen die reservaat aan iemand anders verhuur, wat toe geweier het om pad te gee. Uit weerwraak het hy sommer jaggeselskappe genooi om die wild (waarvan die waarde voor die oordrag op sowat R7 miljoen geraam is) onwettig te kom skiet – elande, sebras, kameelperde, koedoes en blouwildebeeste. Die karkasse het in rye in die koelkamer gehang – tot 50 diere is tydens ’n naweek geskiet.
Wat egter merendeels aan die kern van hierdie mislukkings staan, is ’n gebrek aan kennis. Gee jy vandag vir my ’n plaas, sal dit oor vyf jaar ook ’n skaduwee wees van wat dit vandag is, want van boerdery weet ek eintlik gevaarlik min.
Ek het as SAUK-joernalis hier in Noordwes vir Pierre Vercueil (voorsitter van Agri SA) leer ken. Ek het groot agting vir wat hy doen om opkomende boere op te hef: Hy verskaf omvattende opleiding sodat hulle die tegniese, besigheids- en administratiewe bestuur van ’n boerdery-onderneming kan behartig. Dit is tog vanselfsprekend dat hierdie boere dan met groter sukses sal boer en meer geredelik vir lenings sal kwalifiseer. Pierre sal jou ook vertel van begunstigdes van grondhervorming wat geskok gestaan het as hy sou sê dat hulle hul (suksesvolle) regs- of mediese praktyke in die stad moes agterlaat en hulself permanent op die plase moes kom vestig om suksesvol te kon boer.
Sechaba Lekwabe, ’n grondbegunstigde en suksesvolle boer naby Itsoseng, het vroeg genoeg besef: Ver van jou goed, naby jou skade – en soos Alphie Nchoe (lees artikel op bladsy 16) ’n loopbaanverandering omarm. Hy het Gauteng as IT-spesialis verlaat en hom hier kom vestig om met mielies, sonneblom en sorghum te boer.
Vra enige produsent wat van ’n boerdery ’n sukses maak, en hulle sal jou vertel dis die wil om te boer. Dis die besef dat dit ’n lewenstyl is wat jou voltydse toewyding verg.