Die plaaslike landboubedryf kry dikwels die wind van voor. Suid-Afrika is waarskynlik een van die lande waar landbou die swaarste getref word deur die sienings van ’n antagonistiese regering. Sommer vars in die geheue is die onlangse verhoging van 16,1% in die minimum loon. Dit is onverstaanbaar dat daar verwag kan word dat sulke aanpassings gemaak moet word te midde van ’n landsekonomie wat tot stilstand geruk is deur die COVID-19-pandemie.
Die stadige maar besliste vordering met onteiening sonder vergoeding, plaasmoorde, veediefstal, stygende pryse en dieresiektes is aspekte wat swaar op die landbouer se skouers rus. Dis die omgewing waarin die Suid-Afrikaanse produsent homself bevind en die konteks waarin hy moet voortgaan om te produseer.
Bogenoemde prentjie is beslis uiters negatief. Dit is gevolglik verstaanbaar dat produsente soms vir ’n oomblik moedeloos raak en wil opgee.
Ek luister altyd met ’n effense glimlag om my mondhoeke na die woordvoerders van rugbyspanne wat ’n bietjie swaargekry het in hulle laaste wedstryd. Hulle sal byvoorbeeld tydens so ’n nabetragtingsonderhoud sê dat die manne “karakter” gewys het tydens hierdie moeilike wedstryd.
Is dit nie hoe ons landbouers ook meestal funksioneer nie? Hulle wys “karakter”. Te midde van die negatiewe dinge wat hierdie bedryf omring, het ons landbouers die afgelope jaar weer bewys dat hulle deursettingsvermoë het wat vir die gemiddelde persoon onbegryplik is.
Die Maart-verslag van die Suid-Afrikaanse Landbouwerktuievereniging wat onlangs vrygestel is, dui aan dat trekkerverkope van 2019 tot 2020 met 9% en stroperverkope met 23% toegeneem het. Wie koop landbouwerktuie as jy nie van plan is om vorentoe daarmee te boer nie?
’n Tweede aspek wat my opgeval het, is die Nasionale Oesskattingskomitee se siening oor die huidige oesseisoen. Die somergraanoes word geskat (tydens die skrywe hiervan) op sowat 6% meer as die vorige jaar, wat alreeds ’n goeie jaar was. Dit kan die tweede grootste somergraanoes op rekord vir ons land wees.
Die landboubedryf is derdens een van die min bedrywe wat regtig uitgestaan het in ’n treurige 2020-landsekonomie. Volgens Statistieke Suid-Afrika is landbouproduksie met 13,1% uitgebrei. Al het die wyn- en tabakbedrywe swaargekry weens die inperkings, het die sitrusbedryf ’n groei van 35% in uitvoere beleef, terwyl mielie-uitvoere jaar-op-jaar 95% meer was. Die bydrae van die landbou tot die land se bruto binnelandse produk kan as betekenisvol beskou word. Die impak op voedselsekerheid is nog meer indrukwekkend.
Hierdie enkele voorbeelde hierbo is tekenend van ’n bedryf wat funksioneel en ook suksesvol is. Te midde van ’n uiters ongunstige politieke omgewing is die prestasies wat behaal word die bewys van produsente wat “karakter” wys, genade van Bo ontvang, dan weer moed skep en resultate behaal. Ons salueer julle hiervoor!