Die tientalle katte by Lichtenburg Dierewelsyn kan nou snoesig slaap en na hartelus klim en klouter danksy twee houtstellasies wat NWK vir dié organisasie laat maak het.
Daar is tans 25 volwasse katte en 24 babakatjies in dié nie-winsgewende organisasie se sorg. Lichtenburg het nie ʼn Dierebeskermingsverenigingtak nie en alle ongewenste en verlore diere is op dié organisasie aangewese.
Katliefhebbers bring hul kant
Die houtstellasies het hul weg na Lichtenburg Dierewelsyn gevind danksy twee plaaslike susters en groot katliefhebbers, wat anoniem wil bly.
Hulle verrig gereeld diens by die dierewelsyn deur met die katte te sosialiseer. William Tshonge, ʼn voormalige werknemer by die welsyn, het hulle gevra vir ou hout om nuwe stellasies en klimrame vir die katte te bou.
Hulle het gesien dat die houtstellasies in die kathokke inderdaad lendelam was en besig om te verrot. Een van hulle het gevolglik vir Econobuild genader om te vra of hulle nie palette vir nuwe stellasies goedkoper sou kon verskaf nie. Hulle het 20 palette gekoop en laat aflewer.
Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie, het ʼn plaaslike skrynwerker, Gert Karsten, genader om te help. Gert het die welsyn besoek en in oorleg met vrywilligers se raad en behoeftes, die hokke beplan. Hy het twee stellasies uit Saligna-hout ter waarde van sowat R6 000 gemaak wat aan die dierewelsyn oorhandig is. Dit is deur NWK geborg.
Die hokke kon egter nie dadelik in gebruik geneem word nie, weens die sterk reuk van ʼn beskermingslaag waarmee die stellasies behandel is, maar is uiteindelik sowat twee weke gelede amptelik deur die katte in gebruik geneem.
Met NWK se besoek aan die welsyn, het Muriel Poole, ʼn vrywilliger wat elke kat se naam en agtergrond ken, gewys hoe tuis hulle reeds op hierdie stellasies is.

Daar is ʼn behoefte aan nog ten minste vyf van hierdie stellasies. Muriel en haar span soek ook ʼn hok waarin wilde katte wat aanvanklik na die welsyn gebring word, gehuisves kan word.
Die geskenkte hout het handig te pas gekom deurdat dit gebruik is om platforms vir die hondehokke te bou, sodat hulle nie op die koue sementvloere hoef te slaap nie.
NWK is reeds sedert 2015/2016 by Lichtenburg Dierewelsyn betrokke en sedert 2017/2018 op ʼn meer deurlopende basis om kos vir die honde en katte te voorsien.
“NWK se rol in die gemeenskap en om te kan terugploeg lê ons na aan die hart en om mense weer hoop te gee. Die infrastruktuur van die dierewelsyn is ook blootgestel aan die wind en weer en dit is noodsaaklik dat die opknapping van die hokke nie agterweë bly nie.
“Vanjaar het ons ʼn stappie verder gegaan en gehelp met die bou van twee stellasies deur ʼn plaaslike houtwerkonderneming, wat nou gerat is om nog soortgelyke stellasies te kan bou,” het Johan verduidelik.
Raak só betrokke
NWK wil graag ander plaaslike ondernemings uitdaag om hokke en/of materiaal vir soortgelyke stellasies vir Lichtenburg Dierewelsyn te skenk. Skakel gerus vir Muriel by 082 876 3997 indien jy kan betrokke raak.
