Die ad hoc-komitee wat getaak is met die wysiging van Artikel 25 van die grondwet se sperdatum vir die afhandeling van hul werk was 31 Mei. Op die laaste nippertjie het die ANC verdere wysigings aan Artikel 25 voorgestel.
Dié wysigings volg op bilaterale gesprekke tussen die ANC en EFF. Die wysigings behels die uitskryf van die howe se rol in die voorgestelde artikel 25(3)-wysiging. Die EFF se voorstel is dat die hele subartikel 3, wat voorsiening maak vir vergoeding by onteiening, geskrap moet word.
Die ANC het verder tydens die vergadering van die ad hoc-komitee onverwags aangedui dat hulle ’n wysiging van die bewoording van artikel 25(5) ondersteun, wat bepaal dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet daarstel om die bevordering van die staatsvoogdyskap van grond te bevorder. Die EFF staan lank reeds die staat se voogdyskap oor alle natuurlike hulpbronne voor. Die EFF is ook ten gunste van die skrap van die 1913-datum vir restitusie-eise in artikel 25(7).
Die ad hoc-komitee het besluit om die parlement te vra vir ’n verdere 30 dae om hul werk af te handel. Hierdie sal die derde uitstel van die sperdatum vir die afhandeling van hul werk wees.
Die parlement se regsadviseurs het aangedui dat die nuwe wysigings waarskynlik buite die mandaat van die komitee val en het voorgestel dat die komitee die parlement ook vra vir ’n uitbreiding van hul mandaat en weer openbare konsultasie oor die nuwe klousules sal moet toelaat. Van die lede was egter van mening dat dit nie nodig is nie en dat al die voorgestelde wysigings binne die mandaat val om uitdruklik te stel wat stilswyend in die Grondwet is.
Agri SA het die vergaderings van die ad hoc-komitee deurentyd gemonitor.
Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se Grond- Sentrum van Uitnemendheid, het die jongste verwikkelinge as uiters kommerwekkend bestempel. Agri SA is heeltemal gekant daarteen dat die rol van die howe in onteieningsdispute afgeskaal word, soveel te meer wanneer daar sprake is van onteiening sonder vergoeding. “Die voorstel oor staatsvoogdyskap oor grond is absoluut skrikwekkend,” het hy gesê. “Dit sal ’n skokgolf deur die landbousektor stuur.”
Agri SA is reeds besig om regsadvies oor die jongste voorstelle in te win. Voogdyskap van grond sal alle private grondeienaars ontneem van hul eiendomsreg sonder vergoeding en beheer oor alle privaatgrond aan die staat gee. Dit is ’n resep vir ’n ekonomiese en humanitêre ramp en ’n uitnodiging vir grootskaalse korrupsie, het Chavonnes Vrugt gesê.
Volgens hom is die staat se baanrekord ten opsigte van die bestuur van grond uiters swak. “Agri SA sal die voorstelle met alles in ons vermoë teenstaan,” het Vrugt gesê. Agri SA bly egter verbind tot volhoubare grondhervorming en die uitbreiding van volle eienaarskap na nuwe produsente.