Graanprodusente in NWK se bedieningsgebied is Woensdag onkant gevang deur ysige koue en reën wat onverwags in groot dele van die provinsie uitgesak het. In Lichtenburg, waar NWK se hoofkantoor gesetel is, is sowat 22 mm reën gemeet.
Volgens Nico Pieterse, senior bestuurder van Graan by NWK, het produsente reeds sowat 90% sonneblom gestroop; sojabone is klaar gestroop en mielies staan tans op bykans 45%.
“Hoewel Woensdag se reën die stroopproses kan vertraag, voorsien ons nie kwaliteitsprobleme nie. NWK se silo’s sal voortgaan om graan volgens gewone graderingsregulasies in te neem, maar elke geval sal op ‘n ad-hoc basis hanteer word waar graan buite die spesifikasies ontvang word,” het hy gesê.
Arno Janse van Vuuren, bestuurder van Landboubestuursdienste by NWK, stem saam dat gister se reën nie die kwaliteit van die oes sal beïnvloed nie. “Die mielies droog reeds af en die stroopproses sal teen môre (Vrydag) kan hervat. Geen reën word ook vir die res van die week voorspel nie.”
Hy het voorts gesê dat NWK se silo’s nie veel graan met ‘n hoër voginhoud behoort te ontvang nie. “As die graan dalk aangeklam het, behoort die vog binne ‘n dag of twee terug te daal na normale vlakke. Ons neem boonop mielies met tot 14% vog in.”
Martiens du Plessis, bestuurder van Presisieboerdery by NWK, het bygevoeg dat die reën produsente sal help met grondbewerking, aangesien lande al begin droog geword het en om kluite te breek.
“Die reën gaan nou weer sowat twee weke bylas om lande te bewerk. Dit gaan ook die winteronkruid stimuleer om te groei, daarom moet produsente dit met alle mag probeer beheer,” het Martiens gewaarsku.
Arno het bygevoeg dat die grond tans tot 300 mm diep nat is. “Dit behoort nog ‘n bietjie verder in te sak en dit gaan uiters waardevol wees vir bewerkings.”
NWK se langtermyn gemiddelde reënval vir Junie is slegs sowat 7 mm. “Die reën wat Woensdag gemeet is, is dus ver oor die gemiddeld, maar dit is ook nie ‘n vreemde verskynsel om in sommige jare lekker reënbuie in Junie te ontvang nie.
“Boonop het al ons meetpunte vanaf 2005 tot 2011 elke jaar bogemiddelde reën in Junie ontvang,” het Arno afgesluit.