Dit is grondlewende organismes se rol om die aarde vir ons leefbaar te hou. Plant- en dierereste beland alles weer as organiese materiaal op die grond en kort voor lank is dit weg. Dit is die werk van grondlewende organismes. Dink jouself in hoe ons wêreld sou gelyk het as die afgelope miljoene jare se plant- en dierereste op die grond moes ophoop.
In hierdie reeks gaan grondlewende organismes bespreek word, waarvan die meeste onder die vergrootglas geplaas gaan word.
Algemene klassifikasie
Grondlewende organismes word breedweg in diere (fauna) en plantagtiges (flora) verdeel.
Die diere word in makrospesies (groter) en mikrospesies (klein) verdeel.
- Makrospesies word verder in herbivore (plantvretend), detritivore (wat op dooie en verrottende plante leef) en predatore verdeel (Figuur 1a). Mikrospesies word in detritivore, predatore en parasiete verdeel.
- Die plantagtiges word in plantwortels, alge, fungusse, aktinomisete en bakterieë verdeel (Figuur 1b).
Wat gebeur met plant- en dierereste wanneer dit op of in die grond beland? Sommige grondlewende organismes voed op lewende plante (herbivore) – soos parasitiese nematodes (aalwurms), termiete, miere, kewers, muise en molle, wat op plantwortels voed. Sommige van hulle sal ook in die plante inklim en selfs op die bogrondse dele voed.
Primêre verbruikers: Sodra plant- en dierereste op die grond beland, begin die primêre verbruikers daarop voed. Dit sluit onder andere in ’n verskeidenheid van die mikroflora, asook detritivore (diere wat op dooie plant- en dierereste voed) soos myte, luise en erdwurms, wat die weefsel penetreer of stukkend skeur.
Sekondêre verbruikers: Sommige sekondêre verbruikers is parasiete wat op die primêre verbruikers parasiteer, soos bakterieë, fungusse, alge, protosoë en ligene. Wanneer die primêre verbruikers doodgaan, voed die sekondêre verbruikers ook op hulle. Predatore wat ook op die primêre verbruikers voed, is insekte, spinnekoppe, nematodes, slakke en molle (wat op erdwurms voed).
Tersiêre verbruikers: Tersiêre verbruikers voed weer op die sekondêre verbruikers. Voorbeelde is miere, spinnekoppe, myte en skerpioene.
Ontbinders: Die ontbinders voed uiteindelik op halfverteerde organiese materiaal om dit tot die basiese organiese komponente af te breek, wat weer as plantvoedingstowwe dien of as humus in die grond ingebind word.
’n Dinamiese ekosisteem
Die lewe in grond is geweldig omvangryk in terme van die aantal spesies en spesiesamestelling. Die grond onder jou voete is eintlik ’n hele ekosisteem, wat onder natuurlike toestande in balans is. Wanneer organiese materiaal by die grond gevoeg word, vermeerder die primêre verbruikers onmiddellik en begin hulle op die materiaal voed.
’n Toename in primêre verbruikers stimuleer sekondêre verbruikers om te vermeerder en die populasie primêre verbruikers te beperk. Die toename in sekondêre verbruikers stimuleer weer die tersiêre verbruikers om hierdie vloedgolf sekondêre verbruikers te verminder. Dit eindig op sy beurt in ’n vloedgolf van ontbinders om te floreer, totdat die organiese materiaal tot op die “normale vlak” afgebreek is.
Koolstofverbindings en energie
Plante bind sonenergie in energieryke koolstofverbindings deur die proses van fotosintese. Grondlewende organismes is deurentyd op soek na energie in die vorm van organiese verbindings vir hulle noodsaaklike lewensfunksies en vind dit in die vorm van plant- en dierereste. Die heterofiete verkry hulle energie uit organiese materiaal in die grond en is dus vir die ontbinding van plant- en dierereste in die grond verantwoordelik.
Nie alle grondlewende organismes het organiese materiaal nodig as hulle bron van energie nie. Sommige kan self fotosinteer, terwyl ander anorganiese elemente soos stikstof, swael en yster oksideer vir hulle energie. Hulle word outotrofe organismes genoem.
Grondlewende organismes in grond
Hoeveel grondlewende organismes is daar in grond? Daar word gesê dat daar in een teelepel vol produktiewe grond meer organismes is as wat daar mense op aarde is! Die aantal grondlewende organismes word by wyse van hulle getalle, massa en metaboliese aktiwiteit uitgedruk.
Tabel 1 dui die hoeveelheid grondlewende organismes in produktiewe grond aan. Dit is by wyse van die getalle in die boonste 15 cm van een vierkante meter, een gram grond en die biomassa in een hektaar van die boonste 15 cm grond. Grondmikrobes is verreweg die meeste in grond en is verantwoordelik vir 60% tot 80% van die metabolisme in grond.
GETALLE EN SAMESTELLING
Die aantal grondlewende organismes in spesifieke grond word deur verskeie faktore bepaal, waaronder:
- Klimaat: Die klimaat speel ’n baie groot rol in die hoeveelheid en samestelling van grondlewende organismes. Daar is baie minder in woestyngrond as wat daar in grond onder ’n tropiese woud is. Die spesiesamestelling in goedgedreineerde grond verskil ook wesenlik van dié in grond wat geneig is om sekere tye van die jaar te versuip. Só verander dit ook betekenisvol tussen die winter en die somer.
- Grondgebruik: Die hoeveelheid in grond in die natuurlike staat met natuurlike grasveld daarop is baie meer as in grond wat bewerk word. Só verskil dit ook baie in die spesiesamestelling.
- Plantegroei: Die tipe plantegroei in die grond beïnvloed veral die spesiesamestelling betekenisvol. Die spesiesamestelling van ’n multispesie natuurlike grasveld verskil betekenisvol van dié van grond met enkele grasspesies op. Dit verskil ook baie van die spesiesamestelling van grond in ’n tropiese woud.
- Grondfisiese eienskappe: Die spesiesamestelling en hoeveelheid in sanderige struktuurlose grond is baie minder as dié in ’n kleigrond.
- Grondchemiese eienskappe: Die spesiesamestelling van suur grond verskil baie van dié in alkaliese grond, met fungusse wat in suur grond oorheers en bakterieë wat meer geredelik in alkaliese grond voorkom.
Samevatting
Die lewe in grond is uiters dinamies en verander deurentyd na gelang van omstandighede. Aan die ander kant is die grondlewe ook baie gevoelig vir die mens se impak daarop. Dit is ’n baie sensitiewe ekosisteem en die grondgebruiker moet dit in ag neem, veral wanneer hy op bewerkingspraktyke en landbouchemikalieë besluit. Grondlewende organismes is uiters noodsaaklik vir die produsent, maar kan ook teen jou draai as hierdie ekosisteem nie in balans gehou word nie.
In die volgende artikel gaan daar verder op spesifieke grondlewende organismes gefokus word, en sommige van hulle sal onder die vergrootglas geplaas word.