President Cyril Ramaphosa se onlangse staatsrede het, soos dit vooraf verwag is, al die komponente van goeie regeringsbeleid bevat. Brandpunte soos die werkloosheidkwessie, ekonomiese ontwikkeling, diensverskaffing, kragopwekking en dies meer is aangespreek. Hy is ’n meester as dit kom by die aanbied van idees wat die kieserskorps graag wil hoor.
Die plaaslike landboubedryf is ook telkens onder die loep geneem met beloftes dat elektrisiteitsvoorsiening gaan verbeter, dat die spoorweë en uitvoerhawens opgeknap sal word en dat die betrokke bedryf gesien word as ’n sektor wat betekenisvolle potensiaal het om werksgeleenthede te skep. Op hierdie punt is daar dieper gedelf oor die geleenthede wat dagga en hennep bied om sowat 130 000 nuwe werksgeleenthede te skep veral in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
Die realiteit van die saak is egter dat wanneer dit kom by die uitvoering van al hierdie mooi planne, verskeie inherente gebreke van die huidige Suid-Afrikaanse bedeling hierdie planne in die wiele ry. Suid-Afrikaners is deur die bank deeglik bewus van die werklikhede rondom ons. Ons hoor al vir verskeie jare die beloftes van diensverskaffing wat sal verbeter, ekonomiese groei wat sterk staatsondersteuning sal kry, die skep van nuwe werksgeleenthede, en verskeie ander planne wat nie gerealiseer het nie.
Die plaaslike landbouscenario bevind homself tans in hierdie politieke realiteit. Die huidige somergraanseisoen is aanvanklik met groot optimisme begroet en graanprodusente het met nuwe ywer aangeplant te midde van voorspellings van ’n bonormale reënvalseisoen. Ongelukkig het sekere produksiegebiede waterskade opgedoen weens oormatige reën en in ander gebiede het die uitwerking van verskeie tropiese laagdrukstelsels rondom Madagaskar in Februarie tot vogstremming gelei. In geheel gesien is die somergraanprodusente vanjaar tog in ’n goeie posisie. Ongelukkig is groot gebiede in die Oos-Kaap en dele van die Noord-Kaap steeds droog.
Dit is werklik ’n prestasie vir ons plaaslike landboubedryf om te midde van al die politieke onsekerhede, hoë insetkoste en uitdagende klimaatstoestande steeds positiewe resultate te lewer. Onlangse hoogtepunte sluit onder andere in ’n uitvoerooreenkoms vir pere met China wat beduidende geleenthede bied. Die bessiebedryf maak homself ook gereed vir uitvoere en daar is ook verskeie nuwe geleenthede met moontlike uitvoere van graan na die oostelike Afrikalande in die lig van ongunstige klimaatstoestande in daardie streek.
Dit bring my terug na president Ramaphosa se staatsrede. Sy verwysing na die landboubedryf is met erkenning deur die landbougemeenskap ontvang. ’n Mens sou graag wou sien dat landbou as werkverskaffer, voedselvoorsiener en ekonomiese bydraer tot die verdienste van buitelandse valuta meer ondersteuning van die regering sou ontvang.
Daar was heelwat retoriek wat geslaan het op die holruggeryde ondersteuning van die ontwikkelende landbou, nuwe maatreëls om die cannabis-bedryf te ondersteun en beoogde wysigings aan die prosesse om waterlisensies doeltreffender uitgereik te kry. Dit is egter opvallend dat ondersteuning van die kommersiële landbou weereens nie werklik gefigureer het in die toespraak nie. Landbou word in teendeel eerder verder belas met verhoogde minimum lone, elektrisiteitskoste, brandstofpryse en stygende insetkoste. Geen woord is gerep oor moontlike regeringsondersteuning vir die landboubedryf nie.
Dit is daarom veral prysenswaardig dat die Suid-Afrikaanse produsent oor al die kommoditeite heen die bul by die horings pak en op eie houtjie opeenvolgende suksesse behaal. ’n Boer maak ’n plan en ongure weer, onvriendelike beleide en ander uitdagings, gaan ons produsente nie keer om jaar op jaar beter te vaar nie.