Eskom gaan vóór 2030 ‘n ongelooflike R1 200 miljard (R1,2 triljoen) se belegging in infrastruktuur nodig hê as dit die land se ligte wil aanhou. Dit is volgens Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter. Hy het Agbiz se kongres op 23 Junie by Sun City toegespreek en prontuit gepraat oor die reuse-uitdagings wat die kragvoorsiener in die gesig staar.
Die land gaan tans gebuk onder fase 4-beurtkrag weens onwettige stakings deur Eskom-werknemers by verskeie van dié kragreus se kragstasies, met waarskuwings dat selfs hoër fases op kort kennisgewing ingestel kan word.
Die aand vóór André Agbiz se kongres toegespreek het, het fase 2-beurtkrag gegeld. Tóé was die land se aanvraag na elektrisiteit 34 gigawatt (GW), maar Eskom het slegs 28 GW beskikbaar gehad. Sowat 2 GW is opgemaak deur beurtkrag toe te pas en die res is verkry deur diesel te verbrand.
Boonop, as jy “nederige” ekonomiese groei van slegs sowat 2,5% verwag, gaan die vraag na elektrisiteit tot sowat 46 GW teen 2035 groei.
Eskom boer agteruit
Volgens André het Eskom se probleme in 1998 begin toe die regering nie ag geslaan het op aanbevelings dat die kragreus sy opwekkingsvermoë moet vergroot nie.
Oudpresident Thabo Mbeki het uiteindelik in 2007 erken dat dit ‘n fout was en daar is inderhaas begin om kragstasies soos Medupi, Kusile en Ingula te bou. Daar het egter verskeie ontwerpfoute ingesluip, omdat daar reeds begin bou is nog voordat die ontwerpe voltooi was. Medupi voldoen boonop nie aan die minimum standaarde vir kweekhuisgasvrystellings nie.
Beurtkrag is in 2008 ingestel. “In 2010 (tydens die Wêreldsokkerbeker-toernooi) is ons aangesê om die ligte ten alle koste aan te hou en ook dit het sy tol op die opwekkingseenhede geëis,” het André bygevoeg.
Tenders is toegeken aan maatskappye wat substandaard steenkool aan Eskom verkoop het. Sabotasie aan die Kendal-kragstasie in 2018 weens arbeidsonrus het Eskom se opwekkingsvermoë ‘n groot knou toegedien.
Einde verlede jaar het die departement van bosbou, visserye en omgewingsake besluit dat Eskom meer as die helfte van sy kragstasies moet afskakel omdat sy koolstofvoetspoor te hoog is. Dit sou lei tot die onmiddellike verlies aan 16 GW lei en gevolglike fase-8 beurtkrag en Eskom het inderhaas appèl aangeteken.
André het erken dat gebrekkige ervaring en kennis binne Eskom ook tot die probleem bydra. Dit het onder andere in Augustus verlede jaar tot ‘n ontploffing by eenheid 4 van Medupi gelei wat ‘n verlies aan 720 MW tot gevolg gehad het. Hierdie eenheid sal, volgens De Ruyter, na verwagting eers teen Augustus 2025 weer operasioneel wees.
Eskom is in ‘n enorme finansiële verknorsing. Dit kos tans R35 biljoen per jaar om sy skuld te delg en is Eskom se tweede grootste uitgawe naas steenkool. Die kragverskaffer bestee meer aan rente as dit wat betaal aan personeel se salarisse en aanwend vir instandhouding.
Die situasie tans
“Ek het op 31 Januarie vanjaar gesê dat ons dringend 4 GW tot 6 GW se bykomende opwekkingskapasiteit benodig om ‘n einde aan beurtkrag te bring. Die antwoord lê nié daarin om ons eenhede harder te laat werk of beter instandhouding te doen nie. Ou toerusting moet eenvoudig met nuwe, meer doeltreffende en moderne tegnologie vervang word,” het hy gesê.”
Daar is tans 6 100 MW minder elektrisiteit beskikbaar as wat in die geïntegreerde hulpbronplan in 2019 (IRP2019) geskat is daar sal wees. Dié plan bepaal die tipe kragopwekkingsvermoë wat op ‘n bepaalde tyd in werking gestel moet word om tot 2030 in die land se kragbehoeftes te voorsien.
Meer as die helfte van Eskom se kragstasies is ouer as 40 jaar en gaan na verwagting teen 2030 afgeskakel word.
Suid-Afrika het tans 25% minder hernubare onafhanklike kragverskaffers as wat in die IRP2019 voorgestel is. Hierdie vertraging in die verkryging van hernubare onafhanklike kragverskaffers beteken dat daar teen 2026 14% minder hernubare onafhanklike kragverskaffers sal wees en tot 51% in 2030.
André het ook gemaan dat, hoewel ‘n sonkragaanleg byvoorbeeld 100 MW kán voorsien, dit in alle waarskynlikheid slegs sowat 30 MW sal kan voorsien, omdat die son nie altyd skyn nie. Dieselfde geld vir windkrag-aanlegte.
As Eskom se kragstasies teen 2025 nié aan die minimum standaarde vir uitlaatgasse voldoen nie en dan afgesit word, sal dit tot ‘n verlies van 30 GW lei. Dán is permanente fase 8-beurtkrag ons voorland.
Eskom kort R300 biljoen vir die nodige toerusting om uitlaatgasse binne aanvaarbare perke te kry. “Dit dra geen opwekkingsvermoë by nie. Inteendeel, dit gaan sowat 10 MW krag per stasie verbruik. Boonop gaan dit 16 biljoen bykomende liter water per jaar verg om die toerusting te bedryf en dit gaan ‘n invloed op onder andere landbou hê,” het hy bygevoeg.
André meen egter dat daar ‘n beter, meer kostedoeltreffende manier is om groener energie op te wek, werksgeleenthede te behou en nuwes te skep.
Groen is die antwoord
Die koste om hernubare energie op te wek, het drasties verminder danksy tegnologiese vooruitgang en ekonomieë van skaal – dié van sonkrag is met 91% goedkoper en windkrag tot 82%. Waar dit vroeër meer as R3 per kW sou kos om elektrisiteit met die son op te wek, kos dit nou slegs 36c per kW.
Dit verhoog die lewensvatbaarheid van beleggings deur die privaatsektor.
Hoewel die weste van Suid-Afrika oor die beste vermoë beskik om son- en windkrag op te wek, is die transmissie-infrastruktuur hier nie ideaal nie.
Die meeste steenkoolkragstasies is in Mpumalanga gesetel en hier is goed ontwikkelde transmissie-infrastruktuur.
Om dus die potensiaal van opwekking in die weste te ontgin en in die ooste beskikbaar te stel, moet daar nog 8 000 km se transmissielyne en meer as 100 transformators opgerig word, asook twaalf substasies in die Noord-, Oos-, Wes-Kaap en die Vrystaat. Dit sal na raming sowat tien jaar duur om hierdie infrastruktuur te vestig – tyd wat ons nie het nie.
“Ons moet hefboom wat ons het. Ons het baie goeie ontwikkelde transmissie-infrastruktuur in Mpumalanga en soos wat ons hierdie steenkoolkragstasies gaan afskakel, sal ons hierdie transmissie-kapasiteit beskikbaar stel vir koppeling met alternatiewe kragopwekking,” het André verduidelik.
“Dis ‘n wanopvatting dat Mpumalanga nie goeie son- en wind-opwekkingsvermoë het nie. Studies wat hier gedoen is se uitslae is baie bemoedigend.”
Eskom besit reeds 36 000 ha grond in Mpumalanga en het onlangs 4 000 ha beskikbaar gestel wat op langtermyn gehuur kan word deur beleggers wat in hernubare energie wil belê. Volgens André is die reaksie oorweldigend en het belangstellendes die vermoë om reeds 1 800 MW tot die kragnetwerk te kan voeg.
Hernubare energie is die vinnigste manier om nuwe kapasiteit tot die kragnetwerk te voeg – enigiets tussen 18 maande en drie jaar.
Hy meen dit is belangrike vir private kapitaal om toegang tot hierdie mark te hê.
Van die R1 200 miljard se beleggings wat benodig word, sal R990 biljoen bestee word aan opwekkingsvermoë, R130 biljoen aan transmissievermoë en R56 biljoen aan verspreidingsvermoë.
Volgens hom is dit nie onmoontlik om hierdie geld te verkry nie, omdat lande wat ernstig is in die stryd teen klimaatsverandering, gretig is om hier te belê. “Ironies is ons koolstofvoetspoor dus ‘n bate wat ons kan gebruik om beleggers te lok.”
Daar is egter ook geleentheid vir privaatbeleggers om betrokke te raak. Dit sal ‘n goeie stimulus vir die ekonomie wees en vervaardigers sal hulself in Suid-Afrika wil vestig. “Ons het daarom ‘n industriële beleid nodig wat aansporings bied en beleggers sal lok.”
Steenkool kan ons vervreem van die wêreldekonomie
Die Komati-kragstasie is die eerste van ‘n reeks steenkoolkragstasies wat afgeskakel gaan word. Die laaste eenheid sal teen September buite werking gestel word. Hier sal dan 100 MW se sonpanele en 150 MW se batterystoorkapasiteit geïnstalleer word, asook 70 MW se windkrag.
André voel sterk daaroor dat werknemers by hierdie kragstasies, wat gehelp het om die ekonomie te bou tot waar dit is, nie agterweë moet bly nie. “Hierdie kragstasie sal dan as ‘n opleidingsfasiliteit ingespan word om diegene wat in die koolstofwaardeketting gewerk het, op te lei as son- en windtegnikuste. Jy moet die mensekapitaal genereer om die hou wat die sluiting van hierdie stasies tot gevolg sal hê, te versag.”
Tot 300 000 werksgeleenthede kan geskep word met die vervaardiging en oprigting van hierdie tipe infrastruktuur.
André het benadruk dat, hoewel Suid-Afrika baie steenkool tot sy beskikking het, die land hom uiteindelik sal vervreem van die wêreldekonomie as dit nié sy koolstofvoetspoor verklein nie.
“Ons steenkoolkragstasies is tans verantwoordelik vir 41% van Suid-Afrika se koolstofvoetspoor. Die Europese Unie gaan vanaf volgende jaar koolstofuitvoerbelasting hef op onder andere landboukundige produkte en minerale, wat die mededingendheid van jou produk kan benadeel. Koolstofuitvoerbelasting kan die Suid-Afrikaanse ekonomie tot $1,7 biljoen kos.
“Deur koolstof uit kragopwekking te sny, kan dit die voetspoor teen 2035 met tot 38% verminder.”
Hy het onomwonde gesê dat elektrisiteit in Suid-Afrika nie duur genoeg is nie. “Die tariewe is nie ‘n ware weerspieëling van wat dit kos om dit op te wek nie en Suid-Afrika bied steeds van die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld.”
André het Suid-Afrikaners oor die algemeen geroskam omdat hulle maklik krag “mors” en verwys na Duitsland se ingenieurs wat rekenskap kan gee “van waarheen elke molekule” krag gaan. Interessant genoeg het Duitsland van die duurste elektrisiteit ter wêreld, maar volgens André demp dit nie ekonomiese groei nie, omdat hierdie land nietemin baie uitvoer.