Dit is Oktober en ek staar in ongeloof na die lêer wat ek vir hierdie tydskrif se nuwe uitgawe op my rekenaar open en stoor: November/Desember 2022. Hierdie jaar is besig om tot ’n einde te kom. My liggaam kan wel voel dit is reeds meer as tien maande sedert ek laas ’n nuwe jaar verwelkom het, maar my kop sê vir my dit moet nou maar eers Julie of Augustus wees.
Ek is moeg. Ek sit met ’n hol kol op my maag, wat my nie wil los nie. ’n Vrees vir die toekoms. ’n Vrees vir die onbekende. ’n Hol kol oor die fases 3-, 4- en selfs 5-beurtkrag wat ons daagliks teister. Ek lees van ’n afluisterapparaat wat in die Eskom-hoof, André de Ruyter, se voertuig gevind is. Van kenners wat meen daar is ’n besliste “diesel- en kragdraad-mafia” wat dié kragreus probeer lamlê.
Ek lees van Mpumalanga-produsente wat met hul rûe teen die muur staan nadat drie van hul kollegas in een week in plaasaanvalle afgemaai is. Waar sal hulle hulp vandaan kom?
Grondonteiening sonder vergoeding blaas weer in ons nekke, met die onteieningswetsontwerp wat in September deur die parlement goedgekeur is. Die armstes van die armes steier onder die prys van ’n basiese voedselmandjie, wat hulle nou al tot R640 uit die sak jaag.
Ek stap gou na NWK Retail vir ’n Red Bull (die gees is gewillig, maar die vlees is swak) en ek word gevul met woede en ’n gevoel van hopeloosheid oor die stinkende hope vullis langs Binnelandse Sake en agter die polisiekantoor in Buchananstraat, wat al groter raak weens ’n munisipale staking wat nou al weke lank sloer. Dis tyd om myself tot kalmte te maan, my stygende kafeïenvlakke ten spyt.
Ek het op 1 Januarie 2022 begin om aan die einde van elke dag ’n aantekening in my dagboek te maak oor ten minste één hoogtepunt of gebeurtenis waarvoor ek daardie dag dankbaar was. Ek blaai deur my dagboek en die opmerkings handel oor iets eenvoudig, soos ’n lekker sny koek om ’n verjaardag te vier of ’n mooi sonopkoms toe ek gaan hardloop het. Ander dae was dit iets meer merkwaardig, soos ’n reusetaak wat ek voltooi het wat uit die staanspoor bykans onmoontlik gevoel het. ’n Kompliment op ’n artikel wat moeilik was om te skryf.
Terwyl ek my seëninge in 2022 tel, kom ek tot dié besef: Dit mag soms voel of my skip in reusegolwe vaar wat dreig om my te oorweldig, maar daar staan nog die hele tyd ’n Kaptein met ’n wakende oog bankvas agter my. Hy was die hele tyd daar om hand by te sit wanneer ek nie self die mas kon opkom nie.
Ons is só geneig om te fokus op die golwe wat ons van stryk wil bring dat ons vergeet om ons oog op die horison te hou, waar ’n pragtige eiland met wit sand en palmbome op ons wag. Intussen sien ons nie eens meer die son raak wat bo ons koppe deur die wolke breek nie. Of die seemeeu wat hier reg langs ons verbyvlieg. Ook nie die pragtige skool dolfyne wat sierlik uit die water spring nie.
Desember gaan ek êrens anker gooi en juis my batterye ontkoppel om dit te kan laai. Januarie sit ons die reis voort. Die roer is in my hande en hoewel dit my keuse bly waarheen ek die skip stuur, weet ek nie wat die skeepvaart van 2023 gaan inhou nie.
Ons is almal in dieselfde storm, ons vaartuie lyk net anders. My kompas (Sy Woord) is wel onfeilbaar. Mag dit aan ons die insig bied om betyds die ysberge raak te sien en dan van koers te verander. Indien die skip wel op die rotse loop, sál daar ’n reddingsboei wees. Dis boonop onbeperk. Kyk maar net terug oor die jaar wat verby is en sien hoeveel jy reeds ontvang het.